Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Moenie ander oordeel nie

image_pdfimage_print

The whole Bible is about God’s mission, with Christ as the central character – Michael Horton

Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Moenie ander oordeel nie

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie (Matteus 7:1)

Hierdie is waarskynlik die vers in die Bybel wat die meeste verkeerd toegepas word. Mense gebruik dit soms as ‘n skild vir sonde – ‘n muur om ander weg te hou; ‘n verskoning om te leef net soos hulle wil sonder enige grense en aanspreeklikheid. Hulle argument: ons is almal sondaars; wie gee aan my die reg om ander te oordeel; dit is God se taak om mense te oordeel. Maar as ons na die konteks, en die res van die Bybel kyk, kan hierdie vers nie gebruik word om onbeperkte vryheid, outonomie en onafhanklikheid te verdedig nie. Dit was nie Jesus se bedoeling met hierdie vers nie. Jesus is hier besig om die valsheid van die Fariseërs te kritiseer. Hulle het gou die sondes van ander raakgesien, maar was onwillig om hulleself aanspreeklik te hou vir dieselfde standaard as wat hulle van ander mense verwag het.

Hierdie is deel van Jesus se bergrede – die plek waar Jesus leer wat dit beteken om as toegewyde volgeling van Hom getrou te lewe. Hy verkondig hier ‘n hoë morele standaard – die standaard wat van ‘n burger van die koninkryk van God verwag word. Diegene wat hulle bekeer en hulle geloof en vertroue in Jesus stel, word kinders van God en word aangeneem in sy familie.             Inwoners van God se koninkryk moet anders lewe. Jesus is hier besig om op ‘n praktiese wyse te beskryf wat dit beteken. In hierdie lig moet ons Matteus 7:1 – 5 lees.

Jesus het dikwels die Fariseërs gekritiseer vir hulle blatante valsheid en onmoontlike mensgemaakte standaarde. Hulle was berug daarvoor dat hulle die tekortkominge in ander gekritiseer het terwyl hulle presies dieselfde dinge gedoen het. Nou sê Jesus vir hulle: Met dieselfde oordeel waarmee julle ander oordeel, sal julle ook geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. Jesus gaan verder: die vals persoon se probleem is groter. Hulle sonde was nie net ‘n splinter nie, maar ‘n balk in hulle oog … en hulle weier om dit te verwyder.

Die oordeel van die persoon wat doelbewus nie sy eie sondes raaksien nie terwyl hy die sondes van ander uitwys, is groter. Jesus sê dat dit moet verander. Hy gee twee opdragte:

  • Moenie ander op ‘n vals manier oordeel nie; en
  • Verwyder die sonde uit jou eie lewe.

Jesus sê nie dat ons nie ‘n morele oordeel oor die gedrag van mense mag maak nie; Jesus veroordeel nie wedersydse aanspreeklikheid en morele verantwoordelikheid nie. Jesus hanteer hier valsheid. Dit maak geen sin om iemand te  nader oor ‘n spesifieke sonde as jy dieselfde sonde doen nie – veral as jy onwillig is om daarvan los te breek.

Die kerk het al baie skade gelei deur gelowiges wat een ding sê en ‘n ander ding doen. Ons moet Christus, wie ons verteenwoordig, se Naam beskerm deur lewens van integriteit te lewe. Almal van ons moet hartseer wees oor ons sondes; as ons dit raaksien, moet ons dit hanteer – dit bely en daarvan afstand doen. Dit is slegs as ons dit self doen wat ons in staat is om die sondes in die lewens van ons medegelowiges kan hanteer.

Die Bybel maak dit baie duidelik dat ons ons medegelowiges moet aanspoor om so te lewe dat dit God verheug:

  • Ons lewens moet bewys lewer dat ons ons sondes bely het en Christus in geloof ontvang het.
  • Ons moet mekaar in liefde reghelp, teregwys en bemoedig. Saam moet ons teen die sonde veg.
  • Ons kan dit slegs regkry met die hulp van die inwonende Heilige Gees en die wedersydse bemoediging van ons medegelowiges. Ons kan dit nie alleen regkry nie.

My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, weet dan dat hy wat ‘n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ‘n menigte sondes vergewe word (Jakobus 5:19 – 20).

Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: Jy kan self ook in versoeking kom. Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus (Galasiërs 6:1 – 2)

Jakobus en Paulus aanvaar twee dinge:

  • Daar kom tye wanneer medegelowiges sal afdwaal.
  • Ander Christene sal in liefde langs die broer/suster kom staan in ‘n poging om hom/haar terug te bring.

Jesus verbied nie alle oordeel nie – Hy verbied kras en vals oordeel wat ander veroordeel sonder om eers jou eie geestelike toestand te evalueer.

Die verkeerde gebruik van moenie oordeel nie, is deel van ons kultuur wat alle aanspreeklikheid en verantwoordelikheid vir persoonlike optrede vermy. Die kollektiewe onderrig van die Bybel sê dat diegene wat na die beeld van God gemaak is moreel verantwoordelik aan God en aan mekaar is. Ons kan nie hierdie vers gebruik om te sê ons het geen morele verantwoordelikheid teenoor mekaar nie – dan plaas ons hierdie vers teenoor die res van die Bybel. Ons leer dat die Bybel nie homself weerspreek nie. Daarom moet ons altyd ‘n vers vergelyk met die beginsels en onderrig wat ons in die res van die Bybel kry.

Volgende keer kyk ons na Jeremia 29:11 – 13.

image_pdfimage_print

You may also like...