Die afgod wat ek liefhet, het my nie lief nie

image_pdfimage_print

We never need be ashamed of our poverty unless our own sins have brought it upon us. —J.C. Ryle

Die afgod wat ek liefhet, het my nie lief nie

Almal van ons leef vir iets en as dit nie die ware God is nie, is dit ‘n afgod – ‘n vals god. ‘n Afgod is enigiets wat vir my belangriker as God is. Dit beteken dat ek van goeie dinge ‘n afgod kan maak. Ek kan goeie dinge soos my familie, sukses, aanvaarding, geld, my planne … verander in iets wat ek aanbid en in die middelpunt van my lewe plaas – ‘n afgod.

Dit is wat sonde is: ek bou my lewe en my betekenis op iets anders as op God. Daarom is dit baie belangrik dat ek moet weet wat/wie my afgode is. Daar is veral vier afgode wat as die basis van baie ander afgode beskou kan word:

 

  • Beheer: Ek besef ek het ‘n beheerafgod as my grootste nagmerrie onsekerheid is.
  • Aanvaarding: Ek besef ek het ‘n aanvaardingsafgod as my grootste nagmerrie verwerping is.
  • Gemak: Ek besef ek het ‘n gemaksafgod as my grootste nagmerrie spanning/eise is.
  • Mag: Ek besef ek het ‘n magsafgod as my grootste nagmerrie vernedering is.

Daar is ‘n paar dinge wat ek van hierdie afgod van my moet weet: Hierdie afgod wat ek liefhet, het my nie lief nie. Vals gode het my nie lief nie; afgode kom nie hulle beloftes na nie; alles wat ek aanbid en waarop ek my lewe bou wat nie God is nie, gaan die lewe uit my uitsuig en my vernietig.

‘n Verhouding met Jesus begin as ek my afgode identifiseer en van hulle af wegdraai. Tydens sy aardse bediening het Jesus voortdurend mense se afgode geïdentifiseer en uitgedaag

 Hy het mense opgeroep om hulle rug op hierdie afgode te draai en om Hom te volg en te aanbid.

Hoekom is daar vandag so baie oppervlakkigheid in ons godsdiens? Omdat ons nooit ontslae geraak het van die afgode in ons lewens nie. Jesus is dan eintlik net ‘n byvoeging tot ons lewe – die afgod is steeds daar en steeds in die middelpunt van my lewe.

Moderne mense glo vryheid beteken dat ek in beheer van my lewe is – ek raak ontslae van alle beperkings. Dit is nie waar nie – die werklikheid is dat almal van ons ‘n meester het.  Alle mense aanbid iets en dit wat ons aanbid, is ons meester. Afgode is slegte meesters; hulle verslaaf my. Totdat ek die afgode in my lewe geïdentifiseer het, sal ek verslaaf, moeg en ongelukkig voel. Ek sal so voel totdat ek besef dat die enigste meester wat my vry kan maak Jesus is.

Jesus is die een meester wat my liefhet al stel ek Hom teleur – my afgode doen nie dit nie. Jesus is die een meester wat my liefgehad het toe ek op my slegste was; Hy heers oor my lewe met volmaakte wysheid en mag; Hy is dié een wat ek kan vertrou; net Hy kan vir my vryheid gee.

Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af (1 Johannes 5:21).

image_pdfimage_print

You may also like...