Die Apokriewe Briewe (9)

image_pdfimage_print

Die Apokriewe Briewe (9) – Jan van der Watt

Die Kindheidsevangelie van Tomas

Watter soort kind was Jesus? Omdat daar in die Nuwe Testament so min oor Jesus se kinderjare vertel word, het Christene later allerhande verhale uitgedink oor watter soort kind Jesus was. Sommige van hierdie verhale is opgeteken in Die Kindheidsevangelie van Tomas. Hier is een van hierdie verhale:

1Toe die Kind Jesus vyf jaar oud was, was Hy besig om by ‘n drif in ‘n rivier wat sterk afgekom het, te speel. Hy het die lopende water in poeletjies laat inloop en dit dadelik skoon gemaak – deur net ‘n enkele bevel aan die water te gee. 2Toe het Hy sagte klei gemaak en daaruit twaalf mossies gevorm. Hy het dit op die Sabbat gedoen. ‘n Klomp ander kinders het saam met Hom gespeel.

3Een van die Jode het gesien wat Jesus gedoen het terwyl Hy op die Sabbat speel. Hy het dadelik vir Josef, Jesus se pa, gaan sê: “Jy weet, jou seun is by die drif en hy het modder gevat en twaalf voëls daaruit gemaak. So het hy die Sabbatswette oortree!”

4Josef het soontoe gegaan. Toe hy sien wat Jesus gedoen het, het hy vir Hom geskree: “Hoekom doen jy iets wat ‘n mens nie op die Sabbat mag doen nie?” Maar Jesus het net sy hande geklap en vir die mossies geskree: “Weg is julle!” Die mossies het raas-raas terwyl hulle ‘n klomp lawaai maak.

5Die Jode wat dit gesien het, was baie verbaas. Hulle is daar weg en het aan hulle leiers gaan vertel wat hulle vir Jesus sien doen het.

 

Die Proto-Evangelie van Jakobus

In die Nuwe Testament is daar nie baie inligting oor Maria, Jesus se ma, nie. Daar word byvoorbeeld niks oor haar kinderjare gesê nie. Sommige Christene het later verhale oor Maria uitgedink waarin vertel word watter soort kind sy was, hoe sy grootgeword het en hoe Jesus gebore is. Sommige van hierdie verhale is in Die Proto-Evangelie van Jakobus opgeteken. Hier is een wat vertel van haar kinderjare:

 

1Maria het elke dag sterker geword. Toe sy ses maande oud was, het Anna, haar ma, haar op die grond laat staan om te sien of sy self kan staan. Maria het sewe treë gestap en omgedraai en teruggestap in haar ma se arms in! Anna het haar opgetel en gesê: “Ek sweer, so waar as die Here my God leef, jy sal nie weer op die grond loop voordat ek jou na die tempel van die Here geneem het nie!” Toe het Anna vir Maria ‘n heilige plek in haar slaapkamer gemaak en niks wat onrein was of nie aan die Here gewy was daar toegelaat nie. Anna het ook rein Hebreeuse meisies laat kom en hulle het met Maria gespeel.

2Toe Maria een jaar oud word, het Joagim ‘n groot fees gehou. Hy het die hoëpriesters, die priesters, die Skrifgeleerdes, die Joodse Raad en al die ander mense uitgenooi. Joagim het die kind na die priesters gebring en hulle het gebid en vir God gevra om vir haar goed te wees: “God van ons voorouers, wees tog goed vir hierdie kind! Maak haar vir altyd beroemd onder al die mense!” Al die mense het gesê: “Mag dit so wees! Amen.” Toe neem hulle haar na die hoëpriesters. Hulle het ook gebid en vir God gevra om vir haar goed te wees: “Grote God wat bo alles is, wees tog goed vir hierdie kind! Gee vir haar die heel beste wat U het!”

3Anna het vir Maria teruggevat na die heilige plek in haar slaapkamer en haar laat drink. Toe het sy vir die Here God ‘n lied gesing: “Ek sing ‘n heilige lied vir die Here my God, want Hy het my kom help en die skande van kinderloosheid waaroor my vyande my gespot het, weggeneem! Hy wat altyd doen wat reg is, het aan my laat reg geskied op ‘n manier wat niemand sou kon droom nie, en nog met oorvloed ook! Wie sal vir die kinders van Rubel gaan vertel dat Anna ‘n kind laat drink? Julle moet hoor, al twaalf stamme van Israel: Anna laat ‘n kind drink!”

Sy het die kind neergelê in die heilige plek in haar slaapkamer en uitgegaan en die gaste gaan bedien. Toe die ete verby was, is almal huis toe. Hulle het goed gevoel en die God van Israel geprys.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 

image_pdfimage_print

You may also like...