Die getuienis van Johannes die Doper (Johannes 1:19-34)

image_pdfimage_print

Die getuienis van Johannes die Doper (Johannes 1:19-34) – Francois Malan

1:19-28 voor die Joodse leiers 

1:19 Die afvaardiging bestaan uit priesters en Leviete (die enigste plek in dié Evangelie waar hulle saam genoem word), wat wys na ‘n opdrag van die Joodse Raad van 71 lede (die Sanhedrin). Johannes die Doper uit die priesterlike geslag (Lk 1:5) is bestem om self priester te word, maar tree  heeltemal afwykend op. Die Leviete was sangers en tempelwagte, lg. het skynbaar saam gekom om Johannes gevange te neem as dit nodig sou blyk. Die ondersoek volg op Johannes se optrede en die spekulasies oor hom.

 

‘Die Jode’ kom  in Johannes 71 maal voor as verwysing (i) na die Joodse volk (etnies en histories as die nageslag van Juda, (bv. 3:1,25; 4:9) wat die aansprake van Jesus verwerp (6:41; 7:11; 8:22), (ii) na die Joodse leiers, veral die Fariseërs, wat Jesus teenstaan (10:24,31; 18:14,31,36,38). ‘Die Jode’ verwys hier blykbaar na die Joodse Raad, soos in 18:12 waar ‘diensknegte van die Jode’ saam met die soldate Jesus arresteer.

            Hulle vra: ‘wie is jy?’ – sy naam, herkoms en werkkring is bekend,  maar hulle vra rekenskap oor sy optrede, waar kry hy die reg en gesag om ‘n beroering onder die volk te bring, om selfs Jode te doop asof hulle heidene is? Die Joodse Raad  het die gesag oor godsdienstige sake van die Jode.

 

1:20 Met ‘n openbare verklaring, versterk met ‘n direkte ontkenning, het Johannes gesê: ‘ek, ek is nie die Christus nie’ (vgl. 1:8). Dit is blykbaar in reaksie op die volk se groeiende verwagting oor hom (Luk 3:15), wat  agter die Joodse Raad se ontsteltenis sit. Onder die juk van Rome was daar ‘n sterk verwagting dat die beloofde Messias, ‘n koning soos Dawid, wat ook profeet en priester was, hulle sou kom verlos. In die Johannes-Evangelie kom dit telkens ter sprake: by die mense uit Galilea (1:41,45,49), in Samaria (4:25,29,42); in Judea (7:26,27,31,41,42; 10:24)

 

1:21 Die vraag of hy Elia is kom vanuit die Here se belofte in Maleagi 4:5 dat Elia sal kom voordat die groot, die verskriklike dag van die Here kom. Johannes ontken dat hy die oordeelsprofeet is.  Johannes se kleredrag en leefwyse laat hulle aan Elia dink (vgl. 2 Kon 1:8). Die verwagting het gegroei dat Elia die koms van die Messias sal aankondig.

            Die verwagting van ‘n profeet soos Moses, wat alles sal sê wat die Here hom beveel, gaan terug na die belofte in Deutr. 18:15,18. Die verwagting was dat hy wonders sal doen en die volk verlos. Johannes ontken dat hy die heilsprofeet is.

 

1:22,23 Die afvaardiging is verleë oor wat hulle aan die Raad moet rapporteer. Daarom moet hy  uitspel wie hy is en wat sy volmag is vir wat hy doen. Johannes wys na sy werk, en die Skrif: ‘ek is ‘n stem wat roep in die woestyn’ (Jes. 40:3),  ‘n boodskapper wie se persoon nie van belang is nie. Die hoofsaak is sy boodskap. Die woestyn is beeld van die Jode se verdorde en vrugtelose godsdienstige lewe onder die Sanhedrin.

‘maak die pad vir die Here reguit,’ roep hulle op, om hulle harte vir die Here oop te maak (vgl. Jer. 32:39; Eseg. 36:26-27), sy woord te gehoorsaam, en gereed te wees om Hom  te ontvang.

 

1:24,25 Die twee groot partye in die Joodse Raad was die Sadduseërs en die Fariseërs. Die Sadduseërs was die priesterparty wat net die vyf boeke van Moses aanvaar het, maar nie die profete nie. Die Fariseërs, wat die wet en die profete aanvaar het, wou die volk se lewe reël tot in die fynste besonderheid van die wet volgens hulle uitleg daarvan. Toe Johannes uit Jesaja aanhaal, is hulle vraag: waarom doop jy, as jy nie die Christus of Elia of die profeet is nie?

            Die Jode het twee vorms van doop gehad: herhaalde  rituele reinigings en die eenmalige doop van ‘n proseliet wat die Joodse geloof aangeneem het, as simbool van afwassing van hulle heidense onreinheid. Johannes eis nou dat alle bekeerlinge, veral onder die Jode, gedoop word as teken van die afwassing van hulle sonde. Daarmee word die Jood gelykgestel met ‘n heiden wat van sy onreinheid afstand moet doen. Hulle kon dink die Messias sou mense doop (Eseg 36:25; 37:23-24; Sag 13:1), maar Johannes ontken ten sterkste dat hy die Messias is.          

 

1:26,27 Iemand wat reeds onder hulle is, is so verhewe dat Johannes nie eens waardig is om slawewerk vir Hom te doen nie, soos  ‘n riempie van sy sandale los te maak nie. Vir sy koms berei Johannes voor met sy oproep tot bekering, en doop hy mense wat hulle sonde bely, as teken van hulle reiniging met die oog op die koms van die groot Iemand.

 

1:28 Betanië word hier aangedui as ‘oorkant die Jordaan’ om dit te onderskei van Betanië op die berg by Jerusalem. [Betabara (huis van voorbereiding) is deur Origenes ingevoer omdat dit so mooi pas by Johannes se doop as voorbereiding. So het die naam in die 1933-vertaling ingekom, terwyl die oudste manuskripte Betanië lees, soos in die 1983-vertaling].

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...