Die Groot Geloofswoordeboek: Uitverkiesing

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Uitverkiesing

Uitverkiesing Verwerping

(*Voorsienigheid, *TULIP)

Daar is ‘n paar leerstukke van die Christelike geloof wat al lank besondere probleme oplewer. Dink maar aan die *Drie-eenheid, die *tussentoestand, die *voorsienigheid, die uitverkiesing en die *hel. ‘n Bepaalde vorm van die uitverkiesingsleer is stuks­ge­wys onder *TULIP behandel en afgewys.

‘n Paar opmerkings kan ons teen sekere probleme be­skerm. Dit gaan nie in die uitverkiesing in die eerste plek om in­dividue nie, maar om Israel en die kerk. Dit gaan ook nie om ‘n teenpool vir uitverkiesing, naamlik verwerping (verkiesing óf verwerping, óf die een óf die ander) nie, maar om die doel van uitverkiesing, naam­lik diens (dus uitverkies tot diens). Ver­der gaan dit nie om twee groepe, die uitverkorenes en die ver­wor­penes nie, maar om een groep: die uitverkorenes wat met ver­werping bedreig word.

 

Die uitverkiesing in die Ou Testament

Dit vorm ‘n basis om die uit­verkiesing in die Nuwe te verstaan. In die Ou Testament is dit nie individue nie, maar Israel wat uitver­kies is (oa Deut 7:6 ev; 1 Kron 16:13; Ps 105:6, 43; 106:5; Jes 41:8 ev; 43:10, 20 ev; 65:9, 15, 22).

Om te verstaan wat dit beteken is dit nodig om by die begin te begin. Dit is nie waar dat die Ou Testament ‘n partikularistiese boodskap het nie, dat God net *Israel se God is, dat Hy Israel uit­verkies het en die ander volke verwerp het en sy seën tot Israel be­perk nie. Die teendeel is eerder waar. Die Bybel begin met die bood­skap dat God by die hele wêreld betrokke is. Hy is die Skepper van alles, nie net van Israel nie. Daar is aan die begin glad nie eers so ‘n volk nie. Die eerste elf hoofstukke is inderdaad ‘n verhaal oor God as alle mense se God, as die hele skepping se God.  Eers as die volke hulle rug vir Hom draai, kom die konsentra­sie op een volk. Hy kies Abraham om uit hom die volk Israel te bou. Israel is dan die uitverkore volk.

Waarom? Nie omdat Hy Hom van die ander volke afgekeer het en nou net op een volk gaan konsentreer nie. Maar om deur hierdie een volk alle volke te seën (Gen 12:3). Die uitverkiesing van Israel is dus net ‘n ander manier waarop God nog steeds God van alle volke wil wees. Maar omdat hierdie volke nie gereageer het op sy direkte bemoeienis met hulle nie, wil Hy hulle deur Israel na Hom toe lok (Ps 22:28 ev; Jes 2:2-5, Miga 4:1-5; Jer 3:17; 4:1-4).

 

Verkiesing tot diens

Dit beteken dat dit nie gaan om twee groepe: Israel die uit­ver­korenes en die nasies, die verworpenes, nie. Dit gaan om Israel wat uitverkies is tot diens; en die diens is om die nasies na Jeru­sa­lem te lok. Die Here is nog steeds die God van die hele wêreld. Hierdie boodskap weerklink dwarsdeur die Ou Testament (Ps 24:1; 47:8 ev; 82:8; 103:13; Jes 44:5).

 

Verwerping

Daar is wel van verwerping in die Ou Testament sprake, maar dis nie die nasies/heidene wat verwerp word nie, maar juis die uit­verkore volk! Die ballingskap is die verwerping van Israel juis om­dat hulle nie hulle roeping uitgevoer en hulle diens ge­le­­wer het nie. Eers lees ons dat “Israel”, dit is die tien stamme, ver­werp is (2 Kon 17:20, 23), en dan dat ook Juda verwerp is (2 Kon 23:27). En die woorde wat gebruik word, laat geen ruimte vir mis­verstand nie. Selfs Jerusalem en die tempel word verwerp!

Dit beteken kort en saaklik: uitverkiesing is geen waarborg teen verwerping nie. Uitverkiesing impliseer inteendeel juis die moont­likheid en die gevaar van verwerping.

En dit gaan voort ná die terugkeer uit die ballingskap. Die volk raak wetties. Hulle probeer elke klein wet en reël nakom. Hulle werk sisteme van wette uit. En wanneer die *Messias kom, verwerp hulle Hom … en word hulle verwerp. Jesus waarsku hulle in geen onduidelike taal nie: Die koninkryk sal van hulle weggeneem word en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal lewer (Matt 21:43). En uiteindelik skryf Paulus dat Israel verwerp is (Rom 11:15).

Dit is goed om net in die verbygaan ook te let op Jesus se om­gang met sy dissipels. Ook in hierdie geval is daar sprake van uit­verkiesing, maar nogeens tot diens. Hy het hulle uitverkies om vrug te dra (Joh 15:16).

Intussen is Israel verwerp. En wat beteken dit? Dat hulle nooit weer gered kan word nie? Nee, dan word ook verwerping mis­verstaan. Wat dan?

Presies wat gebeur wanneer Jesus aankondig dat Israel ver­werp is?

 

Israel se verwerping … en hoop!

Israel se verwerping loop uit op die tweede groot draai in die heilsgeskiedenis. Die eerste was toe die Here besluit het om nie meer direk by alle volke betrokke te wees soos in Genesis 1-11 nie, maar om uit Abraham ‘n volk te bou deur wie Hy die volke wou naderlok (Gen 12:1 ev). Nou kondig Jesus Israel se verwerping aan en stuur die dissipels na die heidennasies. Is dit nou die einde vir Israel, ook wat die *heil/*saligheid betref?

Nee. Natuurlik is die eerste en vernaamste doel van Jesus se sendingbevel dat die volke inderdaad die evangelie sal glo en gered word. En byna die totale geloofsgemeenskap van men­se op aarde is die resultaat van hierdie “draai” in God se betrok­kenheid met die wêreld. Maar dis nie die einde van Israel nie. Ver daarvandaan!

Die groot sendeling onder die heidene gee ‘n merkwaardige perspektief op hierdie saak. Hy verklaar dat sy diepste motief vir sy sendingreise is om heidene tot geloof te bring sodat hulle Israel jaloers kan maak en laat terugkom na die Here toe (Rom 11:13-15).  Paulus het daarop gehoop dat die blote feit dat die heidene nou met Israel se Messias “wegloop”, Israel tot besinning sal bring en sal laat omdraai. (*Jode)

Dat Israel verwerp is, beteken dus nie dat hulle nie meer in die heil kan deel nie. Hulle is verwerp uit die besondere posisie wat hulle beklee het om die nasies nader te lok. Nou gaan die evangelie na die heidene juis om Israel jaloers te maak en terug te wen (Rom 11:13-15). Die deur van genade staan dus nog altyd vir hulle oop.

 

Die deur staan oop

In die res van Romeine 11 gee Paulus ‘n pragtige beeld om te verduidelik hoedat Israel verwerp is en tog nog in die heil kan deel. Hy gebruik die beeld van twee olyfbome en hulle takke. Die mak olyfboom is die ware volk van God, en die wilde boom die heidene. Paulus vergelyk die Jode wat Jesus verwerp het met die takke van die mak olyfboom, en die heidene wat tot geloof kom, met die takke van die wilde olyfboom. Die mak takke (Israel) is afgebreek, en die wilde takke (die heidene) is op die mak boom (die ware volk van God) geënt.

Maar dit is nie die einde nie. As die Jode hulle Messias aan­vaar, word hulle teruggeënt op die mak boom. En net so sal die heidene wat nou op die mak boom geënt is, weer afgekap word as hulle nie in die geloof volhard nie. Dit beteken dat verkiesing en verwerping ‘n oop situasie is wat nie in die ewigheid al vasgelê is nie.

 

Die gemeente/gelowiges as die uitverkorenes

Net soos Israel in die Ou Testament as groep die uitverkorenes is, is die ge­meente/gelowiges as groep in die Nuwe Testament die uitver­korenes (Kol 3:12; 1 Pet 1:1; 2 Pet 1:10). Dit gaan ook hier nie oor enkelinge nie, maar oor die groep. En ook hier is die doel van die uitverkiesing om ‘n roeping te vervul. Petrus skryf dat die gemeente die uitverkore volk is wat God se verlossingsdade moet verkondig (1 Pet 2:9).

Dit is dus nie die uitverkorenes wat tot geloof kom nie, dit is sondaars wat tot geloof kom en só deel word van die uit­verkorenes, die gemeente.

 

Uitverkiesing en heil/saligheid

Die vraag is nou of dit al is waaroor dit in die uitverkiesing gaan. Gaan dit net oor ‘n plek en taak in die heilsgeskiedenis, en nie reg­tig oor persoonlike heil/saligheid nie? Dit gaan tog oor Israel wat oorspronklik uitverkies is om die heidene na Jerusalem te lok, en later verwerp is, eers tydens die ballingskap, en later toe hulle hulle Messias verwerp het, en oor die heidene wat in die kerk inkom om Israel op hulle eie Messias jaloers te maak sodat hulle weer aan­vaar kan word.

Maar dit alles beteken dat dit nie net om ‘n plek in die heils­ge­skiedenis gaan nie, maar inderdaad om die heil/saligheid self. Israel het nie net hulle plek in die heilsgeskiedenis verloor nie, hulle gaan ook verlore as hulle nie weer tot geloof kom en geënt word nie. En die heidene wat tot geloof gekom het? Hulle deel wel in die heil, maar hulle moet daarin volhard, anders kan hulle ook afgekap word van die mak olyfboom (Rom 11:22). Dit gaan in Romeine 11 en in die algemeen in die uitverkiesing dus inderdaad ook om die saligheid.

 

Romeine 9

Daarom is dit nodig om ook na Romeine 9 te luis­ter. Maar ook daar loer dadelik ‘n moontlike misverstand om die hoek. Baie mense dink dit gaan in Romeine 9 oor mense in die algemeen. Maar dit is verkeerd. Dit gaan ook hier oor die twee spesifieke groepe, oor Israel en die heidene, net soos in Romeine 11. Paulus sit aan die begin van Romeine 9 met die knellende probleem dat daar omtrent geen Jode in die kerk is nie terwyl die heidene die “kerkbanke vol sit”. Wat het dan van God se beloftes aan Israel geword?

Om dit te verduidelik neem hy ‘n paar voorbeelde uit die ge­skiedenis: Jakob en Esau, en die farao van Egipte. Uit die voor­beelde kry hy ‘n paar perspektiewe, maar die belangrikste een is dat God vrymagtig kies. God is aan niks buite Homself ge­bonde nie, Hy word deur niks voorgeskryf nie. Hy kies selfs teen die verwagting in vir Jakob, die jongste, en nie vir Esau, die eers­geborene, nie. God was dus vry om Israel te verwerp en die hei­dene uit te kies.

Maar net hier loer weer ‘n misverstand om die hoek. Beteken dit nou dat God sommer net enigeen kan kies en enigeen kan verwerp sonder dat ons enige aanduiding het van wie en wie nie? Is sy vryheid willekeur? Nee. Dit word juis duidelik uit Romei­ne 9 dat God vry is om te kies wie Hy wil, maar dat ons weet wie Hy kies en wie nie. Hy kies die heidene wat in Jesus glo, en Hy verwerp die Jode wat Jesus verwerp. Dit is presies die klimaks waarop Romeine 9 eindig. Die heidene het God se vryspraak deur die geloof verkry, en Israel het dit nie verkry nie omdat hulle nie geglo het nie (9:30-32). Dit is van die uiterste belang dat die groot hoofstuk oor die uitverkiesing eindig met die geloof.

God kies dus vry, maar nie willekeurig nie. Hy kies volgens ‘n vaste plan, Hy kies dié wat in Jesus glo en Hy verwerp dié wat Jesus verwerp. En alhoewel dit in Romeine 9-11 om groepe gaan – om Israel en die heidene – is dit ook waar van individue. En daarom is die uitverkiesing nie ‘n donker, bedreigende boodskap nie, dis ‘n helder boodskap: glo en jy sal gered word. Glo en God kies jou uit. Glo, en jy word deel van die uitverkorenes, die gemeente. Hy kies jou nie omdat jy glo (asof dit jou beter maak as ander) nie, maar omdat Hy besluit het om dié te kies wat glo. Dis sy besluit.

 

‘n Ewige besluit

Hierdie besluit van God kom uit die ewigheid uit. Die klassieke teks hiervoor is Efesiërs 1:4: “So het Hy, nog voordat die wêreld ge­skep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.” Die “ons” is die gemeente, en die gemeente is oop na die wêreld. Die gemeente moet die wêreld innooi om deel te word van die uitverkorenes. Die uit­verkorenes is nie ‘n onbekende teoretiese getal mense nie. Dis die gemeente, hulle het name en adresse. Die feit dat God dit al in die ewigheid besluit het en dit aan Christus gebind het, beteken dat ons deur Christus deel van die uitverkorenes word. Dis ‘n troos dat dit ‘n besluit uit die ewigheid is, want dit beteken dit sal nie verander nie. God sal nie dalk môre anders besluit en die uitverkiesing losmaak van Christus sodat ons maar net moet sit en wonder of ons regtig uitverkies is nie. Die vraag of iemand uitverkies is, is nooit in die Bybel ‘n oop, onseker vraag nie. Dit is in die Bybel duidelik wie die uitverkorenes is: die gelowiges, die gemeente.

Natuurlik beteken dit nie almal wat formeel iewers op ‘n ge­meente se boeke staan nie, maar iemand wat deur Christus aan die gemeente behoort.

Ons kry nie in die Bybel die gedagte dat ‘n sekere aantal mense vooraf uitverkies is en al die ander vooraf verwerp is nie. Daar is ook nooit enige onduidelikheid of onsekerheid oor wie die uit­verkorenes is nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...