Die Handelinge van die Apostels: Die reaksie op Petrus se preek (2:37-41) – Francois Malan

image_pdfimage_print

2:37 ‘Toe hulle dit hoor – die Israeliete wat Petrus se woorde gehoor het – is hulle diep in die hart getref (katanussomai kom slegs hier in die Nuwe Testament voor,’n idioom, letterlik: om die hart te deurboor) en hulle het vir Petrus en die ander apostels gevra: ‘Wat moet ons doen, manne broers?’  Die Heilige Gees het die woorde van Petrus gebruik om die harte van sy hoorders teenoor Jesus radikaal te verander. Die werk van die Heilige Gees is om mense van sonde te oortuig en van geregtigheid, naamlik dat Jesus met sy dood en opstanding ons verhouding met God kom regmaak het sodat ons sy kinders kan wees, en van oordeel as ons ons nie bekeer nie (Joh 16:8-11). Die hoorders se  vraag word gerig aan Petrus en die ander apostels en die res van die 120 op wie die Heilige Gees gekom het.

2:38 Petrus se antwoord wys hulle die weg. ‘Bekeer julle..’ (metanoeō om jou lewenswyse te verander as gevolg van ’n totale omkeer van jou gedagte en houding oor sonde en geregtigheid voor God). Dit beteken dat hulle heeltemal anders sal dink oor die Jesus vir wie hulle gekruisig het; dat hulle in Hom sal glo as hulle Verlosser en die Here oor hulle lewenswyse (vgl. Hand 16:31).

 ‘… en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes…’ Die doop met water is ’n sigbare simbool van Jesus se reiniging van sonde. Dit is die sigbare teken wat bevestig dat jou verhouding met God reggemaak is omdat sy Seun die straf op al jou sonde gedra het. Die doop is ’n uiterlike simbool van God se genadeverbond wat Hy met ons sluit om sy kinders te wees deur ons geloofsverbondenheid aan sy Seun. ‘In die Naam van Jesus Christus’ verwys na die grondslag van die doop, dat die dopeling met die persoon en reputasie van Jesus verbind is deur in Jesus te glo as die Seun van God. (Die naam Jesus beteken ‘die Here is die Verlosser’ van ons sonde, Matt 1:21). Christus (Grieks vir Gesalfde) wys na sy posisie, dat Hy gesalf is om ons Koning te wees wat oor ons lewe regeer (Joh 15:10,17), ons Priester wat Homself vir ons sonde geoffer het (Joh 1:29), en ons Profeet wat vir ons kom wys en vertel hoe God teenoor ons is en wat Hy van sy kinders verwag (Joh 14:10,23; 15:15).

‘…en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.’ Die gawe van die Heilige Gees is die wonder dat God in jou kom woon om jou tot geloof in Jesus te lei (Joh 15:26), en jou te lei om op sy pad te lewe, om al meer soos Jesus te word, en die beeld van God te vertoon (Joh 16:13-15; 2 Kor 3:18; Gen 1:26,27; Ef 4:24; Kol 3:10). Hoe die vrug van die Heilige Gees se werk ons verander, word in Galasiërs 5:22-23 uitgespel.

2:39 Joël 2:32 sê: ‘Elkeen wat die Here aanroep, sal gered word. Op Sionsberg en in Jerusalem sal daar uitkoms wees. So het die Here beloof. Dié wat deur die Here geroep is, is by dié wat gered is.’

Petrus brei uit op Joël: ‘Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes’ wat wys na Joël se ‘Elkeen wat die Here aanroep, sal gered word.’ ‘Want die belofte geld vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep.’ Die belofte wys hier na die redding en die gawe van die Heilige Gees (Hand 1:4); eerstens vir die Jode wat na Petrus staan en luister; maar ook vir hulle kinders wat deel word van die nuwe verbond van God, soos die ou verbond met Abraham en sy hele huisgesin (Gen 17:10-12); en vir almal wat daar ver is. Dit kan die Jode in die verstrooiing insluit (vgl Hand 2:5-11 vir hulle verteenwoordigers), maar veral die nie-Jode wat oor die wêreld verspreid woon (vgl. Hand 1:8 tot aan die einde van die aarde, en Hand 2:17 Ek sal my Gees uitstort op alle mense).

‘Almal wat die Naam van die Here aanroep’ is mense wat ‘die Here ons God na Hom toe geroep het (proskaleomai om tot iemand te roep met die implikasie van ’n wederkerige verhouding). Die Here ons God nooi ons na Jesus toe en daarom kom ons na Hom toe (dit word onderstreep deur Jesus se woorde in Johannes 6:39 almal wat Hy My gegee het; 10:29 My Vader wat hulle aan My gegee het; 17:2,6-9,12,24; 18:9. vgl. egter Joh 6:44 niemand kan kom as die Vader hom nie na My toe trek nie; Joh 6:65 as dit nie deur die Vader aan hom gegee is nie). 

2:40 Met baie ander woorde het hy aangedring (diamarturomai getuig van wat hy seker weet; ernstig aandring; waarsku) en hulle aangespoor (parakaleō ernstig versoek of uitnooi; aanmoedig): ‘Laat julle red uit hierdie korrupte geslag(skolios krom,korrup, gewetenloos, oneerlik – die woorde word in Deutr 32:5 gebruik vir Israel wat die Here verlaat het, en nie aan God getrou was nie, Ps 78:8). Dit verwys na die Jode en hulle leiers wat vir Jesus verwerp het (Luk 11:50; 17:25). In Luk 13:34 en 19:41-44 het Jesus gehuil oor Jerusalem se onbekeerlikheid; Filippense 2:15 verwys na alle mense wat Jesus se verlossing verwerp as ’n krom en ontaarde geslag. Die menigte wat saamgedrom het (Hand 2:6) word opgeroep om hulle deur Jesus te laat red. 2:41 Hulle dan wat sy woord aangeneem het (apodechomai glo dat dit die waarheid is en daarvolgens optree) is gedoop en op daardie dag is ongeveer 3000 ‘siele/persone’ bygevoeg (psuchê  ‘siel’ verwys na jou binneste, jou denke, maar word hier figuurlik gebruik vir persoon). By die groep van ongeveer 120 gelowiges (Hand 1:15) is ongeveer 3000 mense bygevoeg wat in Jesus begin glo het. ‘Hulle dan’ lyk of dit almal van die menigte was wat daar in die tempel bymekaar gekom het in reaksie op die geluid soos ’n geweldige stormwind as teken van God se teenwoordigheid (2:6). Die passiewe vorm ‘is bygevoeg’ dui aan dat dit God is wat hulle bygevoeg het (vgl. 2:47; 9:31).

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...