Die hel/hemel en tyd – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Michele vra:

Hier is ‘n man wat ‘n praatjie gaan hou oor wat hy deurgemaak het in die hel. Ek is bietjie skepties daaroor, maar aan die ander kant sal ek graag wil hoor. Is dit moontlik dat mens onmiddellik hel toe gaan of hemel toe as jy doodgaan? Want volgens hoe ek die Bybel verstaan, gaan almal saam geoordeel word. Verder, waar daar in die Bybel staan “vandag”, beteken dit “vandag” soos ons dit ken? Hoekom ek vra, is: êrens staan daar dat daar nie tyd in die hemel is nie, en 1 dag is soos 1000 jaar en 1000 jaar soos 1 dag.
Antwoord
Prof. Hermie van Zyl antwoord:
Oor die kwessie of mens ná jou dood onmiddellik in die hemel (of hel) is, is daar ‘n hele paar aanduidings in die Bybel wat mens laat vermoed dat dit wel so is:

• Die gelykenis van die ryk man en Lasarus (Luk 16:19-31) vertel van Lasarus wat arm en sieklik was en by die poort van die ryk man gelê en bedel het. Toe beide Lasarus en die ryk man te sterwe kom, was albei onmiddellik in wat ons seker kan beskryf as die hemel en hel, hoewel dié woorde nie gebruik word nie. Want die ryk man het pyn ervaar en Lasarus was by vader Abraham, en daar was ‘n diep skeiding tussen die twee plekke sodat die “inwoners” nie die grens oor en weer kon oorsteek nie. ‘n Mens moet egter nie te veel maak van al die besonderhede wat hier oor die “lewe ná die dood” gegee word nie, want ons het met ‘n gelykenis te doen wat met beeldryke taal te werk gaan, en alles moet nie te letterlik opgeneem word nie. In elk geval wil die gelykenis nie soseer inligting gee oor hoe die lewe na die dood is nie, maar dit wil eerder vertel wat ons hier op aarde moet doen. Ons moet naamlik luister na die wil van God soos dit in sy Woord na vore kom. Wie dáárna luister, het niks te vrees vir wanneer die dood kom nie. Maar wie hardkoppig is, sal ook nie luister nie al gebeur daar ‘n wonderwerk, soos iemand wat uit die dood terugkeer om ons te waarsku (16:31). Maar die punt van onmiddellike ervaring van hemel en hel ná die dood, kan sekerlik ernstig geneem word.
• Bevestiging hiervoor kry ons wanneer Jesus vir die moordenaar aan die kruis sê: “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees” (Luk 23:43).
• En Paulus impliseer ook iets van ‘n onmiddellikheid as hy sê: “Ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees” (Fil 1:23). Dit dui daarop dat Paulus dadelik “met Christus” is wanneer hy doodgaan.
• In Openb 7:9-17 kry ons ‘n visioen van die afgestorwe gelowiges wat voor die troon van God versamel is en Hom dag en nag dien. Weer eens, daar is nie ‘n wagperiode vir gelowiges wat sterwe voor hulle in die hemel kom nie; hulle is onmiddellik in die teenwoordigheid van God.

Terloops, die kwessie van tyd wat vir God anders is as vir ons (vir Hom is een dag soos ‘n duisend jaar en ‘n duisend jaar soos een dag) – en wat mag beteken dat die moordenaar (vir wie Jesus sê dat hy “vandag” in die paradys sal wees) dalk nie onmiddellik na sy dood in die hemel sal wees nie – kan mens nie op hierdie gegewens van toepassing maak nie. Dié uitspraak in 2 Pet 3:8 het te make met die wagperiode op aarde vir die wederkoms van Christus. Vir mense mag dit soos ‘n baie lang wagtyd voel, met die gevolg dat hulle moedeloos raak en dink dat die wederkoms nie meer gaan plaasvind nie. Dis hier waar Petrus die gelowiges waarsku dat in God se rekenkunde dit nie so lank is nie; God werk met ‘n ander tydskaal as mense. En daarom kan mens maar op God se woorde vertrou; dit sál gebeur, maar ons moet wag op God se tyd. Hy sal besluit wanneer die tyd ryp is – net soos daar eeue verloop het voor die beloftes van die koms van die Messias in vervulling gegaan het.

Wanneer ons praat oor wat onmiddellik na die dood gebeur in terme van ons belewing van hemel (en hel), moet ons ook die gedagte van die opstanding uit die dood betrek. Vir Paulus was die opstanding van Jesus uit die dood so belangrik dat hy sê as Christus nie opgewek is nie, ons geloof tevergeefs is en dié wat in Christus gesterf het, verlore is (1 Kor 15:16-18). Die vraag is nou: wanneer vind die opstanding plaas – direk na ons dood of eers aan die einde van die tyd, by die wederkoms van Christus? In ‘n sekere sin kry ons hier op aarde reeds deel aan die opstanding. Paulus skryf in Rom 6:1-14 hieroor. Hy sê dat ons deur die doop deel kry aan die dood én opstanding van Jesus. Daarom moet ons dood wees vir die sonde, maar lewend vir God, reeds hier op aarde. Maar dit sluit nie die toekomstige opstanding van die dooies uit nie. In 1 Tess 4:14 sê Paulus dat omdat Jesus opgestaan het uit die dood, die ontslapenes ook daarin deel. Trouens, by Christus se wederkoms sal hy dié wat reeds dood is, saam met Hom bring en wel so dat die “dooies” eerste sal opstaan en dan sal hulle saam met dié wat nog op aarde lewe, vir Jesus tegemoet gaan om vir altyd by Hom te wees. Dit is dus duidelik dat die opstanding van Jesus so ‘n geweldige effek het dat dit reeds vir die dooies betekenis het (hulle leef saam met Christus), maar dat daar ook nog iets vir die toekoms oorbly wanneer almal opstaan en ons as volledige, verheerlikte mense saam met Christus sal wees. Die punt wat ek hier wil maak – in terme van die vraag of ons onmiddellik ná die dood in die hemel (of hel) is – is dat die krag van Jesus se opstanding so omvangryk is dat ons kan sê dat ons nou reeds daarin deel, dat ons onmiddellik na die dood op ‘n voller manier daarin voortleef (in lewensgemeenskap met God), en dat dit volledig in vervulling sal gaan by die algemene opstanding van die dooies aan die einde van hierdie bedeling wanneer Christus weer kom.

Oor die hele kwessie van tyd en ewigheid, en of tyd in die hemel (hel) sal bestaan, kan ons geen afdoende opinie vorm op grond van Bybelse gegewens nie. Die Bybel dink nie in terme van tydloosheid nie. Die begrip “ewige lewe” beteken ook nie dat mens deel kry aan tydloosheid nie. “Ewige lewe” in die Bybel is nie ‘n tydsbegrip nie, maar ‘n teologiese begrip. Dit hou in dat die mens deel kry aan God se lewe, wat uiteraard nie ‘n einde het nie. Daarom sê Jesus dat wie in Hom glo, (reeds) die ewige lewe het (Joh 3:36), en dat sulke mense sal bly lewe, selfs al sterwe hulle ook (Joh 11:25-26). Die dood kan nie hierdie lewensgemeenskap met Christus verbreek nie. Daar is geen manier waarop die dood die gelowige die gemeenskap met Jesus en God kan ontneem nie, nie eens vir ‘n oomblik nie.

Laastens, net kortliks iets oor die hemel as begrip. Vir die antieke mense was dit nie ‘n probleem om aan die hemel (in die sin van God en die hemelinge se woonplek) as bo die aarde te dink nie. Hulle konsep van die kosmos was iets soos ‘n drie verdieping-gebou: ‘n plat aarde wat op pilare rus (grondvloer), met die uitspansel soos ‘n koepel gespan bo-oor die aarde (eerste verdieping), en agter hierdie koepel was die “hemel”, woonplek van God. Die doderyk was weer onder die aarde (kelderverdieping). Maar so ‘n voorstelling is vir ons vandag problematies. Die aarde is rond, waar is “bo” nou eintlik? En die heelal is so oneindig groot, waar is die “hemel” gelokaliseer? Daarom moet ons eerder dink aan die hemel as ‘n ander dimensie van bestaan wat nie ver van ons af is nie, net aan die “ander kant” van wat ons kan waarneem. Ons kan dit nie nou met ons gewone sintuie waarneem nie, maar wel wanneer ons sterf. Dan is ons daar waar God en Christus die heelal regeer en waar al die gelowiges wat ons vooruit gegaan het, reeds is. Ons kan ons nie werklik hiervan ‘n voorstelling maak nie, maar ons kan dit glo, op grond van God se Woord.
Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...