Die kern van die evangelie in Openbaring 12:7-12

image_pdfimage_print

Die kern van die evangelie in Openbaring 12:7-12 – Fanie Rudolph

Inleiding:

Openbaring 12:7-12 skets ‘n mitologiese oorlog in die hemel.  Die uitslag van hierdie oorlog bevestig dat God steeds Alleenheerser in die hemel is.  Satan is uit die hemel uitgegooi.  Alhoewel Migael die oorlog veg en die Satan verslaan, word hy nie as oorwinnaar erken nie.  Die oorwinning word toegeken aan die Lam van God, i.e. Jesus Christus.

Oorlog in die hemel (Openb. 12:7-9):

In hierdie paar verse sien ons die mitologiese oorlog in die hemel.  In die Judaïsme was daar mitologiese verhale in omloop oor die val van die Satan.  Johannes sluit waarskynlik by van hierdie verhale aan met sy mitologiese vertelling alhier.  In hierdie oorlog lees ons dat die Satan in ‘n oorlog gewikkel is met Migael in die hemel.  Migael en sy engele het egter die Satan verslaan, en hy is uit die hemel gegooi.  Hy kon God nie onttroon nie.  Trouens, in hierdie verhaal kom Satan nie eers naby God nie.  God tree op die oog af ook nie eers self met Satan in stryd nie.  Hy is so magtig dat Hy net sy aartsengel Migael stuur om die taak te verrig.  Die resultaat is dat die Satan geen toegang meer tot die hemel het nie.  Hy word finaal uitgesluit van God se ryk.  God bly regeer in ewigheid.

Dan lees ons dat die Satan op die aarde beweeg.  Hy probeer die vrou vervolg wat ‘n kind in die wêreld gebring het (verwysend na Jesus).  Hiermee wil Johannes bevestig dat die kerk se stryd teen die magte van Satan voortgaan hier op aarde.  Dit is Satan se nuwe (“sagte”) teiken.

Die oorwinning klink so evangelies (Openb. 12:10-12):

In hierdie verse kry ons ‘n oorwinningslied wat in die hemel opklink.  Dit besing die oorwinning van God in die oorlog (Openb. 12:10), asook wie die Oorwinnaar is (Openb. 12:11-12).  In vers 10 kom duidelik na vore dat God die oorwinning moontlik maak.  Hy is die Een wat verlossing meebring deur die Satan te verslaan.  Die loflied bevestig ook opnuut God se heerskappy en Koningskap, en dat hierdie heerskappy ewig is.  God sal nooit van die troon verwyder word nie.  Hy is en bly die enigste, ware, lewende God.

Maar dan gaan die gedeelte voort om te vertel van die eintlike Oorwinnaar.  Alhoewel Migael en sy engele die oorlog geveg het, is hulle nie die oorwinnaars nie.  Die oorwinnaars vanweë hierdie stryd is die gelowiges, want hulle word bevry van die Satan se mag.  Maar die eer vir die oorwinning self word aan die Lam van God toegeken (vgl. Openb. 12:11).  Hy is die Oorwinnaar in die oorlog teen Satan (vgl. ook Openb. 19:11vv).  En spesifiek word vermeld dat die oorwinning deur die bloed van die Lam behaal word.  Dit verwys na Jesus se verlossende sterwe aan die kruis.  Die bloed van Jesus waarna verwys word, is ‘n algemene verlossingsmetafoor in die Nuwe Testament (vgl. Matt. 26:26-28; Mark. 14:22-26; Luk. 22:15-20; 1 Kor. 11:23-25; Heb. 13:12; 1 Pet. 1:19; 3:18; Openb. 5:6).  Deur die bloed van Jesus word ons van ons sonde bevry, ooreenstemmend met die bloed van die offerlam in die Ou Testament.  Dit is net dat Jesus se Offer die finale en volmaakte offer is wat geen herhaling nodig het nie (vgl. Heb. 9:14-15; 10:12, 19). 

Dit is dan deur die bloed van die Lam (Jesus) dat die Satan verslaan word.  Alhoewel ‘n ironiese oorwinning (i.e. deur self te sterf), is dit die deursalggewende oorwinning wat die Satan se lot verseël.  Gelowiges se oorwinning oor die Satan is afhanklik van hierdie oorwinning van Christus.  Gelowiges kry slegs deel aan hierdie oorwinning deur die bloed van die Lam.  Verder word die verlossende sterwe van Christus die sleutel vir gelowiges om hulle eie lyding vanweë hulle geloof te verstaan. 

Voeg hierby die vinnige verwysings na Jesus se geboorte en hemelvaart (as ‘n breukdeel in tyd) in Openbaring 12:5, en Openbaring 12 word die evangelie in ‘n enkele hoofstuk opgesom (vir Johannes gaan dit nie oor Jesus se aardse lewe nie, maar oor sy verlossende sterwe en die gevolge daarvan).  Openbaring 12 wil bevestig dat die Messias wat in die Ou Testament voorspel is, wel die finale Oorwinnaar is.  En omdat Hy oorwin het, kan gelowiges hoop hê, ongeag die stryd wat hulle nog op aarde moet stry.

 

Outeur: Dr Fanie Rudolph

 

image_pdfimage_print

You may also like...