Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Die koninkryk vandag (5)

image_pdfimage_print

“Trouble is to man what rust is to iron.” ~ Joodse Spreekwoord

 

Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Die koninkryk vandag (5)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

Wat moet God se mense doen in die koninkryk om die aansprake van Christus oral in die skepping te bevorder?

 

Wederkerigheid

Niemand het nog ooit iets van God se voorsiening verdien nie. Ons kan geen aanspraak maak op die goedheid wat ons ervaar nie. Alle goeie dinge wat ons het, is as gevolg van God se genade. Hoe moet ons reageer? Ons kan tog nie vir God terugbetaal nie. Wat ons wel kan wees, is agente van sy genade wat sy genade aan ander oordra.

In die koninkryk beteken wederkerigheid om God te verheerlik en om ons naaste lief te hê deur sy genade aan hulle oor te dra. Werklike liefde is dit: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê (1 Johannes 4:10 – 11). As ek die genade wat ek ontvang het met ander deel, leer ek mense om saam te werk. So bevorder ons geregtigheid wat mense is staat stel om saam te leef in vrede en respek vir mekaar.

 

Wederkerigheid bring liefde en bekommernis oor menslike waardigheid by mekaar uit. Koninkryksmense moet wederkerigheid modelleer, want dit het ‘n positiewe effek op samelewings. Kom ondervind en sien self dat die Here goed is (Psalm 34:9). Wederkerigheid is die kern van Jesus se gebod dat ons ons naaste, as burger van God se koninkryk –  moet liefhê.

 

Ons reaksie op genade is dat ek God as Skepper moet erken in liefdevolle gehoorsaamheid. Hierdie fokus op ander is ‘n kenmerk van lewe in die koninkryk. Christene in die koninkryk word van gereddene tot redder bevorder. God se mense is deur genade uit die duisternis gered sodat hulle die lig vir die wêreld kan wees.

 

Gelykheid

Wederkerigheid moet die voorwaardes vir gelykheid daar stel. Gelykheid is dan om elke mens te behandel op so ‘n manier dat sy menswaardigheid herstel word. Elke mens moet behandel word as iemand gemaak na die beeld van God.

 

Die probleem is dat ons verskil oor wat ons bedoel as ons van gelykheid praat. Is dit materieel – die gelyke verspreiding van hulpbronne? Vir ander beteken dit ‘n samelewing waarin niemand voorgetrek word nie – almal word volgens dieselfde reëls behandel. Gelykheid volgens die Bybel beteken dat die verdelende kultuurverskille wat mense aan ander toedeel, verdwyn. Die Bybel praat eerder van mense se posisie voor God. Alle mense het ‘n Verlosser nodig: Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Romeine 3:23). Wat die Skrif nie beklemtoon nie is ‘n definisie van gelykheid wat bepaal dat alle mense almal dieselfde materiële hulpbronne het en dieselfde sosiale mag het. Jesus het self gesê dat ons die armes altyd by ons sal hê (Matteus 26:11). Gelykheid kan nie net tot materiële besittings verskraal word nie.

 

Maar wat beteken gelykheid dan in die koninkryk van God? Elke mens word behandel op so ‘n wyse dat ons erken dat hy na die beeld van God gemaak is en dat elke mens die geleentheid moet kry om sy roeping in vrede uit te leef. Die samelewing is ‘n plek waar mense nie voor arbitrêre vooroordeel en uitsluiting te staan kom nie, maar waar elke persoon die geleentheid het om goed te lewe as vry en verantwoordelike lede van daardie gemeenskap. As ek my naaste liefhet moet ek mense in posisies plaas waar hulle werklike geleenthede het om die implikasies van beelddraers van God uit te leef.

 

image_pdfimage_print

You may also like...