DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (2)

image_pdfimage_print

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (2) – Jan van der Watt

ii) Hoe lyk die Markusevangelie op die oog af?

 

a) Wat is die doel?

In Mk 1:1 staan: Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só…

  • Daar is geen geboorteverhaal van Jesus nie, wat beteken dat die evangelie sonder ‘n geboorteverhaal van Jesus en sonder verhale van sy kinderdae vertel kan word. Die “evangelie” begin hier met Johannes die Doper.
  • Hoe lyk die inhoud van die evangelie? Byna die helfte gaan oor Jesus wat Jerusalem toe gaan om gekruisig te word. Daarom word daar dikwels gesê dat Markus ‘n lydensverhaal met ‘n inleiding is. Die hele klem lê dus op Jesus wat kom sterf en opstaan.  Lees bv. Mk 8:31.
  • Die doel blyk tog te wees: om die verhaal van Jesus te vertel in die lig van wat Hy kom doen en sê het om so die nuwe wêreld van God (die koninkryk van God) tussen die mense te kom aankondig en vestig. (Lees Mk 1:15 en kyk wat het Hy gesê). Dit sluit sy preke, sy wonders en ook sy dood en opstanding in.

 

b) Hoe lyk die indeling van Markus?

As mens sommer net deur Markus blaai, lyk dit effens deurmekaar, want dit is preke, wonders, gelykenisse, wat mekaar so afwissel. Maar ‘n mens moet jou nie laat bluf nie. Daar is ‘n baie sistematiese patroon in die Evangelie.

 

Markus het ‘n “wipplank” struktuur.

  • Van Mk 1:1-8:21 word die suksesvolle optrede van Jesus beskryf. Hy doen wonders, preek pragtig, bring ‘n nuwe boodskap… dit lyk of daar min keer aan Hom is. Die “wipplank” gaan net op en op.
  • Van Mk 8:22-16:20 begin dinge anders lyk. Jesus begin in die rigting van Jerusalem gaan en die skaduwee van die kruis begin oor Hom val. Die opposisie word al hoe groter tot dit Hom aan die kruis laat vasspyker. Die “wipplank” gaan af en af.

 

Die twee sye van Jesus – die op en af – vertel vir ons wie die Seun van God (Mk 1:1) presies is. Die een sy kan nie sonder die ander sy nie, anders het ‘n mens nie ‘n volledige prentjie van die Seun van God nie.

 

c) Markus is ‘n “periodiese vertelling”

Daar is baie maniere om ‘n storie te vertel. Markus het gekies om dit in sulke blokke (periodes) te vertel. Hy sit ‘n klomp klein stories en gebeure saam om een sentrale boodskap te beklemtoon. Jy moet dus die klein stories en gebeure saam lees en in verhouding met mekaar verstaan om die groter boodskap te snap. So is daar paar sulke “blokke” of periodes wat elkeen ‘n sentrale boodskap het. Uiteindelik moet ons weer die boodskap van die afsonderlike “blokke” saam lees om die hele boodskap van Markus te snap. Ons gaan dit in die volgende twee dele so doen.

 

Dus:

BybelstudieMarkus2

 

 

 

As jy nog tyd het, lees asseblief (ter voorbereiding vir volgende keer) Markus 1:1-8:21 deur. Sê wat jou indruk is van die “prentjie” wat Markus van Jesus teken…………………………………………………….

…………………………………………………………………………………………………………………………………….

…………………………………………………………………………………………………………………………………….

 

volgende keer begin ons na die inhoud van die Markusevangelie kyk.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

image_pdfimage_print

You may also like...