Die wêreld van die Nuwe Testament

image_pdfimage_print

 

Man was never meant to be a god, but he is forever trying to deify himself. —Martyn Lloyd-Jones

 

Die wêreld van die Nuwe Testament

Ons gaan verder met Mel Lawrenz se reeks oor hoe ons die Bybel moet verstaan.

As ons van die Ou na die Nuwe Testament oorgaan, betree ons ‘n hele nuwe wêreld. Die gaping tussen die twee Testamente is 400 jaar, maar wat in daardie tydperk gebeur het, is die toneel waarop alles in die lewe van Jesus en die uitgebreide sending van sy volgelinge sou plaasvind.

 

Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ‘n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word (Galasiërs 4:4 – 5). Jesus, die Messias, is gebore toe God dit bedoel het.

 

In die evangelies ontmoet ons Romeine, Sadduseërs, Frasiseërs, Jode, skrifgeleerdes, Herodiane en baie ander. Ons moet weet wie hierdie mense was as ons die rol wat hulle in die groot drama, die Nuwe Testament, gespeel het, wil verstaan.

 

Die wêreld van die Nuwe Testament sluit Israel in, maar in Handelinge en die briewe betree ons die groter Grieks-Romeinse wêreld rondom die Middellanse See. Jesus se lewe word grotendeels beperk tot Judea en Galilea. In Jerusalem kry Jesus met Romeine en Joodse godsdiensleiers te doen. In Galilea is dit gewone plattelandse mense. Paulus reis per boot en te voet deur Sirië, Klein Asië, Kreta, Griekeland en Italië. Die epiese verhaal van sy lewe sluit in kettings, tronke en verhore wat in preke verander.

 

Die wêreld van die Nuwe Testamente is ‘n botsing en vermenging van Joodse, Griekse en Romeinse kulture. Die ballinge keer uit Babilon terug en herbou Judea – baie kleiner as wat Israel op sy hoogtepunt was. In 330 vC verower Aleksander die Grote die hele gebied. Die Griekse kultuur was moeilik om te weerstaan. Die Griekse taal was dominant – al die boeke van die Nuwe Testament was oorspronklik in Grieks geskryf. Teen hierdie tyd was die Ou Testament ook reeds in Grieks vertaal – die Septuagint. Hierdie Griekse Ou Testament is deur baie van die skrywers van die Nuwe Testament gebruik.

 

Aleksander se opvolgers het die ryk verdeel. Ons kry die opstand van die Makkabeërs en Joodse onafhanklikheid wat ongeveer 100 jaar duur (dit begin in 166 vC). In 63 vC verower die Romeinse generaal Pompeiï Jerusalem. In 37 vC word Herodes die Grote koning van die Jode. Die Romeine met hulle leër bly in beheer. Meeste mense wat gewag het op die koms van die Messias het ‘n sterk leier wat die Romeine uit Judea sou verdryf, verwag.

 

In die Nuwe Testament loop ons twee belangrike groeperings raak – die Fariseërs en die Sadduseërs. Hulle het hulle oorsprong gehad in die tyd toe Judea onafhanklik was – ongeveer 150 jaar vantevore. Hulle doel was om die Joodse identiteit te bewaar insluitend sy geestelike integriteit. In Jesus se tyd was baie van die Fariseërs egter behep met selfgeregtigheid, geestelike blindheid en wettisisme.

 

Die wêreld van die Nuwe Testament is ‘n verwarrende massa godsdienste, filosofieë, politieke partye, godsdiensgroepe en etnisiteite. Daar was baie gode in die Grieks-Romeinse wêreld, maar mense wag vir die werklike waarheid. Dit is presies wat ons in die evangelie van Jesus Christus kry.

 

 

 

 

image_pdfimage_print