Dink nuut oor God se wil (2)

image_pdfimage_print

Those who observe suffering are tempted to reject God, those who experience it often cannot give up on God, their solace and their agony – Miroslav Volf

Dink nuut oor God se wil (2)

Frank Viola (Rethinking the will of God) het ‘n baie interessante siening oor die wil van God. Dit laat ‘n mens waarlik weer dink.

In die vorige blog het ons gesien dat dit verkeerd is om God se wil as ‘n treinspoor te sien – ons moet dit eerder as ‘n parkeerplek sien waarbinne ons ons vryheid moet ontdek.

Enige parkeergebied het grense, maar binne die gebied is daar baie keuses – parkeerplekke. Sekere keuses is beter  as ander, maar daar is baie plekke waar dit geen verskil maak waar ek parkeer nie.

Kom ons gaan terug na die begin.  God plaas vir Adam en Eva in ‘n tuin en gee sy eerste opdrag: Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie (Genesis 2:16 – 17). Adam kon van al die bome eet, behalwe die een. Let wel: God sê nie vir Adam van watter boom hy moet eet nie, wanneer hy moet eet nie, ens. Dit is Adam en Eva se keuse.

Terug na ons beeld. God gee vir ons ‘n parkeergebied en trek die grense van die gebied. Solank as ek binne die grense bly, kan ek enige plek parkeer. Maar hoe bepaal ek die grense van die parkeerplek?

  • Innerlik:In die Ou Testament gee God ‘n gedetailleerde uiteensetting van sy wil – 613 wette. Hulle weet wat hulle moet eet, wat hulle nie mag aantrek nie, ens. Maar na Jesus Christus se opstandig gee God aan ons ‘n nuwe verbond (Hebreërs 8 – 10). Nou gee Hy aan ons sy inwonende Heilige Gees. God se morele wil leef nou in ons. Die Heilige Gees leer vir ons wat die grense van die parkeergebied is. Dit is tog duidelik dat julle ‘n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense (2 Korintiërs 3:3). Die wil van God is iets wat in ons leef. Ons is nou nie meer onderhewig aan honderde wette nie – die liefde moet alles wat ons doen bepaal. Die innerlike impuls is altyd om te gee, te help, te dien en lief te hê.
  • Uiterlik – buite onsself. Hier staan die Skrif sentraal: Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorbereid en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:16 – 17). Die Skrif is die lewende woord van God: Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart (Hebreërs 4:12). Dit is belangrik om te onthou dat die Heilige Gees nooit iets teenstrydig tot die Skrif sal sê nie.

Die grense van die parkeergebied is getrek. Die Heilige Gees en die Woord van God sal my help om die grense te bepaal. Is daar dalk nog iets wat ons kan doen om die grense duideliker te sien?

  • En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Romeine 12:1 – 2). God openbaar nie sy wil aan diegene wat onwillig is om Hom te volg nie: As iemand gewillig is om die wil van God te doen, dan sal hy weet of hierdie leer van God af kom (Johannes 7:17). As ons ons geestelike instinkte wil verskerp, moet ons ons denke vernuwe. Dit doen ons deur tyd in die teenwoordigheid van God te spandeer.
  • Volwasse gelowiges word volwasse deur te oefen:  Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei (Hebreërs 5:14).
  • Elkeen het ‘n gewete – ‘n interne monitor; ‘n alarm wat afgaan as jy oortree: My gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my (Romeine 9:1)

Ons het gesien daar is vyf vuurtorings wat  ons lei ten opsigte van God se morele wil:

  • Die werking van die Heilige Gees geskrywe op ons harte en denke.
  • Die getuienis in die Skrif.
  • Die vernuwing van ons denke.
  • Die oefening van ons geestelike sintuie.
  • Die voorskrifte van ons gewete.

Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen (Efesiërs 5:17).

Ons het nou na die grense van die parkeergebied gekyk. Maar hoe kies ek nou ‘n parkeerplek?

 

image_pdfimage_print

You may also like...