Geloofsvrae: Die onderdanigheid van die vrou

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: Die onderdanigheid van die vrou – Adrio König

  1. Die onderdanigheid van die vrou

Daar is minstens twee groepe uitsprake in die Nuwe Testament oor die posisie van die vrou. Daar is ‘n paar sterk wederkerigheidsuitsprake (soos Gal 3:28 en 1 Kor 7:1-16), en daar is ‘n aantal sterk uitsprake oor die onderdanigheid van die vrou (soos 1 Kor 11:3-16; 14:33-36; Ef 5:21-32; Kol 3:18-19; 1 Tim 2:8-15; Tit 2:4-5; 1 Pet 3:1-7). Kan hulle sinvol met mekaar in verband gebring word, of moet ‘n mens uiteindelik tussen hulle kies?

Die tradisionele standpunt is dat die gelykheidsuitsprake geestelik verstaan moet word – almal deel op dieselfde manier in die heil: net deur geloof in Christus – terwyl die uitsprake oor onderdanigheid op die konkrete samelewing (huwelik, kerk, gemeenskap) van toepassing is.

Wanneer ‘n mens hierdie standpunt ondersoek, blyk dit egter dat dit deur ‘n paar probleme gedruk word. Eerstens laat dit nie die wederkerigheidsuitsprake tot hul reg kom nie (‘n mens kan nie 1 Kor 7 vergeestelik nie, en Gal 3 het duidelike implikasies vir die sosiale lewe), en tweedens word die uitsprake oor onderdanigheid nie regtig konsekwent toegepas nie maar net in ‘n afgewaterde vorm – iets wat goed begryplik is omdat hulle beswaarlik vandag nog toegepas kan word presies soos hulle daar staan. Maar dit beteken dan dat dié standpunt nie konsekwent is nie.

Kom ons kyk ‘n oomblik na die laaste probleem: wat sê die uitsprake oor onderdanigheid regtig? Die uitspraak in 1Kor 14:33-35 lui o.a.: `Soos in al die gemeentes moet die vrouens ook in julle byeenkomste stilbly, want hulle word nie toegelaat om te praat nie. Hulle moet onderdanig wees soos die wet ook sê. As hulle iets te wete wil kom, moet hulle tuis hulle eie mans vra, want dit is lelik vir ‘n vrou om in die erediens te praat.’

‘n Mens kan minstens een ding van hierdie uitspraak sê: dit is duidelik. Vrouens moet stilbly in die erediens. En dit geld van alle gemeentes, nie net van Korinte wat dalk ‘n uitsondering sou kon wees nie. Die uitspraak in 1 Tim 2:11-12 sluit presies hierby aan: `’n Vrou moet in die erediens stil en onderdanig wees en haar laat leer. Ek laat haar nie toe om onderrig te gee of oor die man gesag uit te oefen nie; sy moet stil wees.’ Nogeens ‘n duidelike uitspraak. Vrouens mag nie praat in die samekomste nie. Terloops moet ‘n mens onthou dat `erediens’ (11) en `daar’ (12) nie in die Grieks voorkom nie en nie geïnterpreteer mag word asof vroue tog in ander gemeentebyeenkomste mag praat nie. Daar is nie sulke onderskeidinge in die briewe gemaak nie.

Die probleem is nou dat die wat op die onderdanigheid van die vrou aandring, hierdie tekste afwater. Alle kerkgroepe laat vroue in een of ander vorm aan die woord kom in openbare byeenkomste (aankondigings, voorsang, getuienis, gebed, Sondagskool, Bybelstudie). Om maar konkreet te wees: is daar ‘n kerkgroep wat vroue verbied om in die gemeente selfs net vrae te vra? Wie nie só ver gaan nie, moet erken dat hulle nie die onderdanigheidsuitprake konsekwent toepas nie. En dan is ons almal in dieselfde bootjie: party ry net ‘n bietjie vinniger as ander.

Trouens die meeste konserwatiewe Evangelical, Pinkster- en Charismatiese Christene pas ook nie meer die uitsprake oor vroue se versiering en kleredrag toe nie (1 Tim 2:9-10; 1 Pet 3:3-5), iets wat die eerste twee groepe nog die eerste helfte van die 20e eeu konsekwent en streng gedoen het.

Daar is dus net ‘n graadverskil tussen Christene oor die onderdanigheid van die vrou. Sommige probeer dit nog sover moontlik toepas, ander beskou dit eenvoudig as deel van die kultuurpatroon van die Bybel wat nie vandag meer vir ons gesaghebbend is nie.

Ten gunste van laasgenoemde standpunt kan ‘n mens onthou dat die vroue in die tyd van die Nuwe Testament oor die algemeen onontwikkeld was. Die dogters het nie saam met seuns `skoolgegaan’ nie, maar is net voorberei om huis te hou en kinders groot te maak. Dit is dus volkome begryplik dat hulle nie in staat was om sinvolle vrae in die openbaar te vra nie.

Vandag het ons ‘n nuwe situasie. Dogters kry dieselfde opleiding as seuns. Vrouens kan die meeste tipes werk net so goed soos mans doen. Dit is ‘n onreg om hulle kunsmatig onderdanig te hou. Wie dit nog wil doen soos die NT sê – ek praat nie van ‘n afgewaterde vorm van die uitsprake van die NT nie – moet daarvoor pleit dat alle dogters dadelik uit skole verwyder word en slegs voorberei word vir huishouding en kinderversorging – en dan sal hulle nog weggehou moet word van die openbare media ook, want hulle sal deur die media te veel leer en later intelligente vrae in die gemeentebyeenkomste kan vra.

Dit is moontlik om die onderdanigheidsuitprake te sien soos ons die uitsprake oor slawe sien: die apostels het eenvoudig self nog nie die volle konsekwensies van die evangelie besef nie – wat ‘n mens nogal met Joh 16:13 in verband sou kon bring. Volgens hulle moes die slawe nog slawe bly, en hulle moes boonop goeie slawe wees omdat hulle hul slawediens soos vir die Here moes doen. Hulle moes selfs bereid wees om as slawe onregverdig te ly, omdat hulle Here ook daartoe bereid was. Hulle verhouding tot die Here word dus gebruik om hul optrede as slawe te motiveer (Ef 6:5ev; Kol 3:22ev; 1 Pet 2:18ev), presies wat met mans en vroue in die huwelik gebeur.

Eers eeue na die apostels het Christene die volle konsekwensies van die evangelie getrek en gewerk vir die slawe se vrystelling. Dit is goed moontlik dat ons vandag geroepe is om dieselfde te doen vir vroue in die huwelik, die kerk en die samelewing.

Ons staan hier voor ‘n besonder belangrike saak. Daar word sterk argumente aangebied ten gunste van die onderdanigheid van vroue, selfs teologiese argumente. In 1 Timoteus 2 het ons ‘n argument in terme van die skepping (Adam is eerste gemaak) en een in terme van die sonde (die vrou het haar laat verlei). Maar ons het gesien dat die kerk hom nie deur sulke teologiese argumente i.v.m. die slawe laat lei het toe hy eenmaal besef het slawerny is verkeerd nie. Immers vir die slawe is ook teologiese argumente aangebied waarom hulle goeie slawe moes wees en selfs bereid moes wees om onreg te ly.

Was die kerk verkeerd om die afskaffing van slawerny te steun? Of moet ons liewer aanvaar dat solank iets nog reg lyk, apostels teologiese argumente gebruik het om dit te regverdig, maar sodra dit duidelik geword het dat dit verkeerd is, hierdie teologiese argumente hul krag verloor? Natuurlik is dit ‘n moeilik verteerbare standpunt, maar die alternatief is om opnuut slawerny te bepleit. Geld dit nie netso van vroue-onderdanigheid nie?

  1. Wat beteken Efesiërs 5 se onderdanigheid?

Ef 5:21-32 is een van die belangrikste gedeeltes oor die huwelik in die Bybel. Maar ongelukkig word dikwels net die kort stellings ernstig geneem, en die lang kwalifiserende gedeeltes verwaarloos. Die meeste mense lees net: `Vrouens, wees aan julle mans onderdanig,’ en: `Die man is die hoof van die vrou.’ Dit bevestig dan hulle oortuiging dat die vrou onderdanig moet wees en die man die leiding en die besluite moet neem.

As dit al is wat Paulus wou sê, het hy nie twaalf verse daarvoor nodig gehad nie. Verder sou hy daarmee net die bekende kulturele patroon bevestig het, of op sy beste effens versag het.

Maar hy sê veel meer. Hy begin met ‘n algemene stelling wat alle mense raak, en dus ook die man en die vrou: `Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.’ Hierdie opdrag is so wesenlik vir die huwelik dat hy nie eens weer ‘n werkwoord gebruik as hy dit op die vrou toepas nie. Vers 21-22 lees letterlik eintlik iets soos: Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig, vrouens aan julle mans …

Hierdie opdrag is wesenlik om te verstaan wat hy met die res bedoel. Dit is ‘n opdrag aan alle Christene en dit kom op dieselfde neer as sy vermaninge elders om ander hoër te ag as onsself en na ander se belange om te sien, soos Christus … (1 Kor 10:24,33; Fil 2:5ev). As dit geld in ons gewone verhoudings, dan veel meer nog in die intiemste verhouding, ons huwelik. Hier is dienslewering by uitstek op sy plek, hier het ons nodig dat ons mekaar hoër sal ag as onsself: vrouens én mans. Daarom pas hy dit direk op die huwelik toe (22-32). Wat op vers 21 volg, is dus net ‘n breër uitwerking van hierdie nuwe huweliksbeginsel wat teenoor die kultuur van die Bybeltye staan.

As ‘n mens vers 21-22 wil parafraseer, kan dit ongeveer soos volg lyk: `Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig, wat vir julle huwelike die volgende sal beteken: die vroue se onderdanigheid mag nie meer slaafse en willose onderworpenheid wees nie, maar dieselfde onderdanigheid wat alle Christene aan mekaar behoort te hê en wat hulle in elk geval aan Christus het, dit beteken ‘n vrywillige liefdesdiens soos Hy ons geleer het deur Self ons belange hoër te ag as sy eie, en ons in liefde met sy lewe te dien.’

Natuurlik geld dit ook vir haar man se onderdanigheid aan haar. Maar sy onderdanigheid, wat reeds in vers 21 ingebou is, hoef nie nader omskryf te word nie omdat daar nie in sy geval ‘n tradisie van verkeerde onderdanigheid is wat reggestel moet word soos die vrou s’n nie.

Wat wel in die geval van die man reggestel moet word, is natuurlik sy tradisionele rol as die hoof van die vrou. Ook dit kan nie onveranderd in die Christelike gemeente voortgesit word nie, omdat dit vernederend was vir die vrou. Daar is voortdurend oor haar besluit, sy was tot die beskikking van haar man, in die tradisie van die Ou Testament selfs een van sy besittings (Eks 20:17). Daarom word sy hoofskap dadelik verbind aan Christus s’n, maar opvallend genoeg, word die diensaspek van Christus se hoofskap dan ontwikkel, en nie die heersaspek nie. Trouens die hoofskap is glad nie deel van die opdrag aan die man nie, dit is die versekering aan die vrou dat ook hy nie meer op die tradisionele manier hoof kan wees nie, maar soos Christus wat as Hoof kom dien het. Geparafraseerd sou vers 23 dus kon lees: Netso kan die man natuurlik ook nie meer hoof wees soos dit in julle kultuur geld nie, maar soos Christus wat sy hoofskap in die nederigste liefdesdiens aan die kruis kom bewys het. Eintlik moet mens dus in vers 23 liewer `hoof’ in aanhalingstekens skryf, want dit is iets soos hoofdienskneg.

Wanneer Paulus hom dan tot die man wend (vers 25ev), is sy hoofskap glad nie meer ter sprake nie omdat nederige liefdesdiens moeilik nog hoofskap genoem kan word. Die man se onderdanigheid (21) word gekonkretiseer in liefde wat bereid is om te offer soos Christus.

Uit hierdie hoek bekyk, is die vervolg van vers 21 net ‘n toepassing op die huwelik van die basiese opdrag aan alle Christene om aan mekaar onderdanig te wees, en hersien dit die tradisionele rolle van man en vrou deur die huwelik radikaal in terme van die Christelike etiek van onderlinge wederkerige, nederige liefdesdiens uit te druk.

Ons het in Efesiërs dan ‘n voortsetting van die wederkerige huweliksmodel van 1 Kor 7.

Dit is interessant om in hierdie lig na ander uitsprake te kyk. In Kolossense het ons ‘n baie kort `huwelikstafel’ soos geleerdes hierdie gesinsvermaninge noem. Die opdrag aan die vroue is nogeens net die algemene opdrag aan alle Christene: onderdanigheid. Maar dit word weereens gekwalifiseer: `Vrouens, wees aan julle mans onderdanig soos dit pas by vroue wat in die Here glo‘ (3:18). Iets anders as die tradisie is nodig. Dit moet ‘n spesiale onderdanigheid wees, dié wat op alle Christene van toepassing is.

En die opdrag aan die mans verwys glad nie na die tradisionele hoofskap nie: `Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie’ (3:19).

  1. Die kameraadskapshuwelik

Daar is konsekwent probeer om die begrip `gelykheid’ so min as moontlik te gebruik in die nadenke oor die huwelik omdat dit net so beperkend as die ou model van onderdanigheid kan werk. In ‘n model van gelykheid moet man en vrou gelyke insette lewer. Dit is net so gefikseerd as die ou model: ‘n vaste patroon waarin albei moet inpas.

Maar elke twee mense is uniek en ontwikkel ‘n unieke verhouding. Hulle moet vry wees om enige gestalte aan hierdie verhouding te gee. As die man die sterkere is, behoort hy dit ook in hul huwelik te kan wees. Net so die vrou. Maar ‘n verhouding is baie meer gevarieerd as dat een persoon net leiding gee en die nader net leiding aanvaar. Daarom behoort elkeen vry te wees om enige vorm en hoeveelheid van inisiatief ten opsigte van enige saak te ontwikkel.

Omdat mense as bondgenote geskape is, staan hulle ook in die huwelik in ‘n verhouding van verbondenheid, van gee én neem, van uitbeweeg én geborgenheid soek, van waag én huiwer.

Die basiese uitgangspunt moet egter nie die verdeling van verantwoordelikheid en inisiatief wees nie, maar die twee-eenheid van verbondenheid: twee mense wat saam lewe, saam besluit, saam optree, elkeen na gelang van sy of haar moontlikhede. En omdat ‘n verhouding altyd voor nuwe situasies te staan kom, moet hulle oop wees om telkens nuut te reageer, en nooit vaste patrone vir hul verhouding neerlê nie. Soos twee geldeenhede teen mekaar sweef en elke dag in die lig van nuwe omstandighede hul posisie en `gewig’ (waarde) teenoor mekaar bepaal, so behoort twee mense dwarsdeur hul lewe vry te `sweef’ en nuwe waardes van lewensvervulling in hul verhouding te vind. En dit kan ook van tyd tot tyd uitsonderlike vorme aanneem weens uitsonderlike omstandighede. Daar kan geen probleem wees met die tydelike omruil van rolle nie.

Dit beteken dat die verhouding in ‘n huwelik afhang van die oortuigings van die twee persone wanneer hulle trou én ook daarna. As twee persone wil trou, behoort hulle duidelikheid te kry oor mekaar se oortuigings. As hulle mekaar vind in terme van die tradisionele model van hoofskap en onderdanigheid, is daar geen rede waarom hulle dit nie kan toepas nie. Daar is inderdaad mense wat só gesosialiseer is.

Verder behoort persone met ernstige huweliksprobleme aanvanklik begelei te word in terme van die aanvaarde patroon van hul verhouding voordat alternatiewe aan hulle aangebied word.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...