Laat sy Liefde jou Lei: Foute-verkleinglas

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: Foute-verkleinglas – Milanie Vosloo

Foute-verkleinglas

En hoe sien jy die splintertjie in jou medemens se oog raak, maar jy merk die yslike stomp in jou eie oog nie op nie? Matteus 7:3

Ons is so geneig om met vergrootglase na almal rondom ons te kyk. In ‘n poging om beter oor onsself te voel en ons eie foute te verbloem, wil ons graag die foute in ander se lewens opblaas en dit pertinent uitwys. Dan vertoon ons mos beter, of hoe?

Die wonder van God se genade is dat Hy ons almal – ongeag al die donker kolle in ons lewens – deur die lig van vergifnis beoordeel. Voordat Hy na ons kyk, laat vloei Hy eers die genadebloed van sy Seun oor ons lewens. Daarna sien Hy ons in ‘n heel ander lig: dan sien Hy ‘n vlekloos en gesuiwerde mens voor Hom.

As ons Vader ons foute met soveel passie uitwis, kan ons mos maar ander ook met dieselfde vergrootglas-van-liefde beoordeel. Wanneer ons dit doen, sal ons op die goed en mooi in hul lewens gefokus wees en hul flaters en tekortkominge van veel minder waarde ag. Ons mag selfs verbaas wees oor hoe ánders hulle vir ons lyk en hoe “mooi” hulle selfs in hul gebrokenheid is.

Onthou vandag Philip J Bailey se woorde: “Hulle wat die meeste vergewe, sal die meeste vergewe word.” Hoor dit en besef opnuut met hoeveel deernis jou Vader jou aanvaar en liefhet. Deel dan daardie omarmende liefde ruimskoots aan ander uit.

Here, help my om op die positiewe, die mooi en die goed in ander te fokus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...