Isak, Jakob en Esau – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Johann vra:

Ons Bybelstudiegroep is besig met Genesis en het Sondag die verhaal van Jakob gelees en bespreek.

Isak het Jakob geseën, maar die seën was eintlik bedoel vir Esau. Hoekom, toe Isak agterkom dat hy die verkeerde seun geseën het, het hy nie die seën wat hy uitgespreek het teruggetrek nie? Of hoekom kon hy nie vir Esau ook seën nie? Was die seën dan so heilig dat Esau aan die kortste ent moes trek?

Alhoewel Jakob skelm was, het God hom steeds guns bewys.

Kom die seën wat Isak kon uitdeel van God af?

Ons almal wag in spanning om te hoor wat julle kommentaar en siening is.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hierdie stukkie bedrogsgeskiedenis in Gen 27 vind in die Bybel weerklank tot in die Nuwe Testament wanneer Paulus in Rom 9:10-13 terugkyk op God se pad met Israel. Wat begin het as twee seuns se onbehoorlike gedrag het in die geskiedenis van Israel en die wêreld simboliese betekenis gekry vir die manier waarop God se raadsplan in en deur die bedroewende menslike geskiedenis verwerklik word. Dit kan saamgevat word in die bekende Latynse spreuk van Calvyn: hominum confusione et Dei providentia mundus regitur (“deur die gekonkel van mense en die voorsienigheid van God word die wêreld regeer”).

Maar kom ons begin by die verhaal self. Die bedrog van Rebekka en haar lieflingseun, Jakob, gaan verder terug in die verhaal, naamlik waar Esau op ‘n ligsinnige en ongeërgde manier sy eersgeboortereg vir ‘n pot lensiesop aan Jakob verkwansel (Gen 25:28-34), en waar die Here vir Rebekka sê dat haar oudste seun die jongste sal dien (25:23). Hieruit blyk duidelik dat in die lotgevalle van Jakob en Esau meer opgesluit lê as bloot die gekonkel van mense om Isak se seën te verkry. God se hand sit ook daaragter. Menslike slinksheid en sonde, en Goddelike voorsienigheid is verweef met mekaar, sonder dat gesê kan word dat God die oorsaak of aanstigter is van mense se gekonkel of dat laasgenoemde aanvaarbaar en verskoonbaar is in die lig van God se beplanning.

Verder, die verhaal van Rebekka en Jakob se bedrog word ook omraam deur, enersyds, die vertelling van Esau se huwelike met Hetitiese vroue, wat baie kommer vir Isak en Rebekka besorg het (26:34-35), en, andersyds, Jakob wat vir hom ‘n vrou moes gaan kry by sy ma, Rebekka, se mense (27:46-28:4), wat meer in ooreenstemming met sy oupa Abraham se wense was dat daar nie met die Kanaänitiese volke ondertrou moes word nie (Gen 24:3-4,37). Laasgenoemde bring mens ook by die insig uit dat die eintlike beginsel wat die verhaal dryf die beloftes van God aan Abraham was – dat sy nageslag ‘n nasie sou wees wat God dien en dat God hulle God sou wees. Hierdie seën loop deur die geslagslyn wat God vir Homself gekies het, naamlik Abraham, Isak en Jakob. Nie Ismael, Abraham se oudste nie, maar Isak was die seun van die belofte; so was God se keuse ook nie Esau, Isak se oudste, wat geen erg aan sy eersgeboortereg gehad het nie, maar die jongste, Jakob, wat weliswaar ‘n bedrieër was, maar nogtans ‘n ernstige begeerte na God se seën gehad het. So word dit ook duidelik dat God se weë anders as die mens s’n is. Dis dikwels nie die voor die hand liggende keuses wat God se keuse is nie. Dis soms die onaansienlikes, die jongstes, die swakkes, die mins waarskynlikes, wat genade vind in God se oë om sy wil uit te dra.

Wat dus hier gebeur met Jakob en Rebekka se bedrog is dat dit ten diepste gaan oor die Abrahamsbelofte of seën wat besig is om in vervulling te gaan. Dit is nie maar ‘n blote vaderlike wens wat deur Isak uitgespreek word wat weer teruggetrek kan word nie. In die seën wat Isak uitspreek, gaan dit oor God se wil wat uitgevoer word. Die outeur van hierdie verhaal vertel die gebeure dus duidelik vanuit ‘n Goddelike perspektief, vanuit God se keuse vir wat in Israel se geskiedenis moes gebeur. Verder, volgens oud-Oosterse opvatting was die seën of woorde wat deur gesagsfigure uitgespreek het, onveranderlik. As dit eers uitgespreek is, kan dit nie weer teruggeneem word nie. Dít moet op sy beurt verstaan word teen die agtergrond van die orale of mondelinge kultuur waarin mense daardie tyd geleef het. Woorde, veral woorde van gesagsfigure, het gewig gedra, dit het gebeure in werking gestel, en kan daarom nie sonder meer gekanselleer word nie. Die seën wat Isak dus aan Jakob gee (27:27-29), is nie terugneembaar nadat dit aan Jakob gegee is nie, ten spyte daarvan dat dit vir Esau bedoel was. Die enigste “troosprys” was om aan Esau ‘n ander seën te gee, wat Isak ook doen (27:39-40), maar dié is in werklikheid net ‘n bevestiging van die seën wat reeds aan Jakob gegee is, naamlik dat Esau vir Jakob sou dien. Maar daar is darem die troos dat Esau later Jakob se “juk sou kon afgooi”, wat ook gebeur het toe Esau se nageslag onafhanklik van Jakob se nageslag geword het en as Edom bekend gestaan het. Hulle grondgebied was aan die suid-oostelike kant van die Dooie See. As ‘n nasie van jagters, soos hulle voorvader Esau, was die Edomiete egter slegs relatief onafhanklik. Afgesien daarvan dat hulle maar altyd op ‘n manier “polities” ingelyf was by Israel en veral onder laasgenoemde se hiel gekom het met die verowerings deur Dawid se leërs, was hulle maar altyd afhanklik van die welvarender noordelike inwoners vir noodsaaklike lewensmiddele, omdat dit in Israel se grondgebied meer gereën het en hulle weens hulle kuddes en landboubedrywighede groter welvaart geniet het (vgl Gen 27:28). Tog is die Edomiete nie totaal onderdruk nie; hulle opstand teen Israel het gedeeltelik geslaag, al was dit nie sonder groot stryd en lewensverlies nie (vgl 1 Kon 11:14-25).

Die dieper boodskap van hierdie gedeelte lê uiteindelik daarin dat God ten spyte van menslike sonde sy heilsplan laat seëvier. Op geen manier kan die bedrog van Jakob goedgepraat word nie, maar uiteindelik is dit God wat in en deur menslike geknoei die goeie kan laat voortkom. God word nooit onkant gevang deur wat mense aanvang nie. Dit word ook later sigbaar in die geskiedenis van Israel wanneer Paulus hieroor reflekteer. Hy gebruik Israel se geskiedenis, en spesifiek wat met Esau en Jakob gebeur het, as bewys daarvan dat ongeag wat mense doen, God uiteindelik sy plan deurvoer (Rom 9:1-13). Die mens wik, maar God beskik. Dit gaan nie soseer oor wat mense besluit nie, maar oor God wat verkies. God se verkiesing beteken egter nie dat die mens geen verantwoordelikheid het nie, dis net dat ons nie altyd God se wil en bestuur van die lewe verstaan nie (Rom 11:33-36). Waarvan ons egter seker kan wees, is dat wanneer God in sy vrymag handel, dit altyd tot ons beswil is. Hy wil so sy barmhartigheid aan ons bewys (Rom 9:16). Ten spyte van al die dinge wat ons téén sy wil doen, tree Hy so op dat sy heilsbedoeling met die mens bereik word.

En dit is wat ten diepste in die geskiedenis van Esau en Jakob gebeur. Hier is baie dinge wat verkeerd loop. Mense tree oneties op, loop mekaar in. Dis nie reg nie, en dit byt Jakob later as hy self onder sy oom Laban se bedrog deurloop (Gen 29:16-30). En tog laat God Hom nie deur mense se bedrieëry dwarsboom nie. Uiteindelik bereik Hy sy liefdeswil met die aartsvaders en met Israel – en met ons almal.

God se wil wat seëvier ten spyte van wat mense doen, beteken egter nie dat dit as verskoning kan dien vir ons om maar voort te gaan om oneties op tree nie. Nee, ons moet leer uit ons foute, en veral leer uit die manier waarop God met ons handel. As ons ontrou is, Hy bly getrou; as ons uit haat of eiebelang optree, Hy loop met ons die pad van geregtigheid. Jesus se koms na die wêreld het juis hierdie beginsel gevestig – Hy wil sy wil of reg onder die nasies vestig (Matt 12:18,20). Ons moet dus in sy voetspore volg. Al is dit so dat Hy sy plan ten spyte van ons onetiese optredes kan deurvoer, wil Hy ons eerder betrek by sy pad van geregtigheid, sodat daar juis ‘n beter wêreld hier en nou tot stand kan kom, en sy wil eerder so uitgevoer word.

Maar na alles dien dit tot vertroosting dat God ons in diens neem met al ons tekortkominge en sonde. As ons maar net gewillig is om ingeskakel te word. En dis presies hier waar dit skeefgeloop het vir Esau – hy het geen erg gehad aan die seën en wil van God nie; hy wou sy eie pad loop, terwyl Jakob presies sy oog gehad op God se seën en selfs bereid was om sy broer te manipuleer en bedrog te pleeg om dit te bekom. Mag ons die strewe van Jakob hê, maar sonder sy slinkse planne.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...