Waar is God? Soek die helpers

image_pdfimage_print

A disciple, who is not inwardly the same as outwardly, will not enter the House of Study – Gamaliël, die rabbi en Paulus se leermeester..

Waar is God? Soek die helpers

Philip Yancey se nuwe boek, The Question that Never goes away, het onlangs verskyn. Die vraag waarna hier verwys word is: Waarmee is God besig – of nie besig nie – in ‘n wêreld vol tragedies en pyn? Hy het vantevore ook oor hierdie onderwerp geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs spandeer aan sy boek.

Hoe bepaal ek die ware krag van ‘n samelewing? Deur te kyk na hoe hy die kwesbaarste lede van sy samelewing hanteer. Die boodskap wat ons aan die persoon wat swaarkry moet gee, is: Jy is nie alleen nie. Dit is ongelukkig nie wat ons vandag in ons samelewings kry nie. Ons kultuur ontken pyn en die dood. Daarom plaas ons mense wat swaarkry in inrigtings. So isoleer ons hulle van normale menslike kontak.

 

Navorsing bewys dat ‘n persoon wat deel is van ‘n gemeenskap wat omgee, gouer herstel. Ons weet dat mense stadiger herstel as daar spanning, skuldgevoelens, angs of eensaamheid is. Hierdie bykomstige faktore word baie goed deur ‘n deernisvolle samelewing verstaan.

Paulus sê dat as een deel van die liggaam ly, die hele liggaam ly. Die geloofsgemeenskap kan ‘n unieke bydrae maak tot mense wat ly. Ongelukkig hoor ons so dikwels dat die kerk die situasie vererger het. Sommige gelowiges het die tsunami in Asië beskryf as God wat Hom op die “heidennasies” wreek. Die probleem is dat hierdie uiterste stellings deur selfaangestelde spreekbuise van die geloofsgemeenskap wye dekking in die media kry. Almal probeer soos Job se vriende ‘n verduideliking gee.

Woorde veroorsaak dikwels meer pyn as die moeilike situasie self. Dink maar aan: Daar moet tog ‘n rede wees waarom dit gebeur het; In sulke tye sal God nie ‘n groter las op ons plaas as wat ons kan hanteer nie; God het hom nodig gehad in die hemel; Alle dinge werk saam ten goede; ens. Hierdie woorde is negatief en vererger dikwels die situasie.

Voordat ek met iemand wat swaarkry praat, moet ek twee vrae vra:

  • Hoe sou my woorde klink vir die persoon wat swaarkry? Sou dit hom troos of sy pyn vererger?
  • Wat sou Jesus Christus vir daardie persoon gesê het?

Moenie probeer om die hoekom vraag te antwoord nie – dit vryf net sout in sy rou wonde. Wat die wonde verbind, is ons liefdevolle teenwoordigheid.

Ons weet almal van die sewe dodelike sondes. In die Middeleeue het die kerk die sewe genadewerke geformuleer: voed diegene wat honger is; gee vir dié wat dors is water; gee klere vir diegene wat naak is; gee huisvesting vir diegene wat haweloos is; besoek die siekes; begenadig die gevangenes; begrawe die dooies.

Na die orkaan Katrina sê die bekende Amerikaanse TV regiseur, John Marks: The faith no longer travels by the word. It moves by the deed. Wat moet die gelowige in tye van krisisse doen: Wees beskikbaar en wees ‘n helper.

image_pdfimage_print

You may also like...