Verheug en bedroef

image_pdfimage_print

There are some of your graces which would never be discovered if it were not for your trials. —C.H. Spurgeon

Verheug en bedroef

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Wat beteken dit om jou te verheug in beproewing? Dit beteken nie dat gelowiges sê: Ek sal nie toelaat dat swaarkry my onderkry nie. Dit lyk so asof ek die krag het wat net by God te vinde is. Dit is ‘n onrealistiese, selfs gevaarlike, siening.

Lyding veroorsaak innerlike hartseer; dit maak my swak. Om my swaarkry te ontken, beteken dat ek later die prys gaan betaal. Dan sal ek besef dat ek seerder gekry het as wat ek besef het.

Wat help is 1 Petrus 1:6 – 7: En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings. Gelowiges sien God se verlossing in Jesus Christus. Hierin moet hulle hulle verheug. Maar dan voeg Petrus by: selfs al is dit nodig. Ek moet my verheug in my verlossing selfs terwyl ek beproewings ondervind. Hier staan nie: Julle het julle verheug, maar nou is die tyd vir swaarkry. Alles is in die teenwoordige tyd – ons moet beide tegelykertyd doen as ons deur ons lyding wil groei.

Die moderne Westerse mens voel gelukkig of nie. In die Bybel is my hart nie dieselfde as my emosies nie. My hart is die plek waar my diepste hoop, toewyding en vertroue geleë is. Hieruit vloei my emosies, gedagtes en optrede. As ek my in God verheug herinner dit my aan wie God is, wie ek is en wat Hy vir my gedoen het. As ek my verheug sluit dit nie ‘n gevoel van hartseer, twyfel, swakheid en pyn uit nie. As ek my in my beproewings verheug doen ek dit te midde van my hartseer.

Hartseer dryf my na God. By Hom ontdek ek hulpbronne wat ek nie vantevore gehad het nie. Ek moenie verwag dat God Christene van lyding en innerlike duisternis vrystel nie. God gaan nie my hartseer en swaarkry verwyder en met vreugde vervang nie. Nee, ek sal wel toenemend van sy teenwoordigheid bewus word. Dit sal my help om bo die duisternis uit te styg. Maar om nie te treur nie, is onnatuurlik.

Volgende keer gaan ons na Josef se storie kyk

image_pdfimage_print

You may also like...