Jesus se modelgebed

image_pdfimage_print

Jesus se modelgebed – Fanie Rudolph

1. Inleiding:

Toe Jesus se dissipels Hom vra om hulle te leer bid, gee Hy vir hulle die Ons Vader as model.  Wat maak hierdie gebed so besonders dat Jesus juis dit as model voorhou?

2. Here, leer ons bid:

Binne die konteks van die dissipels se versoek gee die Ons Vader ‘n struktuur waarbinne ons met God in gesprek kan tree.  Dit bevat al die elemente wat nodig is vir sinvolle kommunikasie met God.  Helmut Thielicke het dit genoem die gebed wat die wêreld omspan.

2.1. Ons Vader wat in die hemel is

Die God tot wie ons bid, is meer as net ‘n veraf, onbereikbare, magtige god.  Hy is die enigste lewende God, die Almagtige.  Meer nog: Hy is ons Vader.  Ons mag Hom selfs Vader noem, omdat ons deur Christus kinders van God is.  Hierdie Vader is in die hemel.  Dit bevestig dat Hy die ewige Koning is wat op sy troon in die hemel regeer.  Deur dit te bid, erken ons sy Koningskap oor alles en almal.

2.2. Laat U Naam geheilig word

Ons kan God nie heilig maak nie.  Hy is heilig.  Totaal anders as enigiemand of enigiets in die skepping.  Ons lewe maak eintlik nie ‘n duit verskil in wie God is nie.  Ons bid dus nie hierdie woorde om God te laat beter voel of lyk nie.  Wat ons uiteindelik vra, is dat God ons sal help om die heiligheid van sy Naam te erken in ons aanbidding, en om dit so te leef dat die wêreld bewus sal wees van die heiligheid van God. Mag ons lewe erkenning gee aan die Heilige se onpeilbare heiligheid.

2.3. Laat U koninkryk kom

Jesus se eerste woorde was: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” (Matteus 4:17).  In Jesus het God se koninkryk sigbaar tussen mense beweeg.  Hy het God se koninkryk tasbaar naby aan mense gebring.  Tog is die volheid van die heerlikheid van God se koninkryk nog nie heeltemal sigbaar nie.  Ons moet bid dat God se koninkryk in sy volheid sal kom, dit is, ons bid vir die wederkoms van Jesus wanneer alles volmaak en wonderlik sal word.  Ons bid ook dat God ons intussen sal help om sy koninkryk sigbaar te maak tot dan.

2.4. Laat U wil geskied…

Waaroor gaan dit in gebed?  Ons gebede is baie keer net daarop ingestel om iets by God te kry.  Ons bid om te vra.  Dit is al kommunikasie met God wat ons ken.  Jesus het egter die voorbeeld vir ons gestel toe Hy gebid het in Getsemane: “Laat nogtans nie my wil geskied nie, maar U wil.” (vgl. Matteus 26:39, 42).  Dit is ook die essensie van hierdie sinnetjie.  Ons moet onsself onderwerp aan die wil van God vir ons lewens.  Ons moet hoor wat God wil hê, en minder bekommerd wees oor wat ons wil hê.  Dan sal ons dalk oper wees om ook God se wil raak te sien wat in en deur ons wil werk.

2.5. Gee ons vandag ons daaglikse brood

Die wonderlike is dat God ook in ons daaglikse, menslike behoeftes wil voorsien.  Jesus bevestig dit as Hy hierdie woorde insluit in sy gebeds-les aan sy dissipels.  Meer nog: met hierdie woorde erken ons dat ons selfs vir hierdie basiese behoeftes van God afhanklik is.  Jy mag miskien self hard gewerk het vir jou besittings.  Maar uiteindelik is God die Een wat aan jou die krag gegee het om te kan werk en te kan koop en te kan eet.

2.6. Vergeef ons ons oortredings…

Ons moet ons onvolmaaktheid voor God erken.  Meer: ons moet voor God bely dat ons onsself nie kan red uit ons onvolmaaktheid nie.  Ons enigste hoop is God.  Gelukkig het Hy dit vir ons gedoen deur Jesus se sterwe aan die kruis.  Nou kan ons met vrymoedigheid voor God se genadetroon kom staan (Hebreërs 4:16).  Ons mag bid om vergifnis omdat Jesus reeds die prys betaal het.  Belangrik is dat ons ook self sal vergewe.  Ons moet die vergifnis wat ons ontvang het, laat deursuur na die samelewing.  Ons kan eintlik nie anders nie as om te vergewe, omdat ons reeds so baie vergewe is.

2.7. Laat ons nie in versoeking kom nie…

Ons moet hier onthou dat ons nie bid dat God ons nie sal versoek nie.  Jakobus sê self dat God nie ‘n versoeker is nie (Jakobus 1:13).  Maarten Luther het gesê ons bid veral vir drie dinge met hierdie woorde:

  • Bewaring teen die gevaar van binne: ons soek baie keer die probleem vir sonde by ander mense, terwyl versoekings van binne onsself kom. Paulus het dit ook erken (Romeine 7:19-20).
  • Bewaring teen die gevaar van buite: Dit kan enigiets wees wat met my gebeur en my aandag van God wegvat.
  • Bewaring teen die gevaar van onder: ons moet bid dat God ons van die mag van die Bose sal bewaar. Dit is immers net deur sy krag dat ons die Bose kan oorwin.

Leesstof oor die Ons Vader:

  • Die gebed wat die wêreld omspan – Helmut Thielicke
  • Soos Jesus ons leer bid het – Coenie Burger (Lux Verbi)
  • Ons Vader weet – Johan Cilliers (Lux Verbi)

Outeur: Dr Fanie Rudolph

image_pdfimage_print

You may also like...