Onberispelik – Harmie van Zyl

image_pdfimage_print

Bertie vra:

Wat beteken die woord “onberispelik” regtig? Is dit moontlik om so te leef? Ek glo nie, tog word die woord baie gebruik. Byvoorbeeld, dis ’n voorwaarde om ouderling te kan/mag wees.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die woord “onberispelik” word ’n hele paar plekke in die 1983-Afrikaanse Vertaling (1983-AV) van die Bybel gebruik om die status van mense voor die aangesig van God, of hulle reputasie in die samelewing te beskryf. Dit is nodig om die bedoeling hiervan reg te verstaan sodat daar nie misverstande ontstaan nie. Want soos die vraagsteller tereg sê, wie van ons ís of lééf so dat niemand ’n vinger na ons kan wys nie.

Vooraf moet net eers genoem word dat hoewel die Afrikaanse woord “onberispelik” ’n hele paar keer as vertaalekwivalent in die 1983-AV gebruik word, dit nie altyd dieselfde Griekse woord in die grondteks is wat met “onberispelik” vertaal word nie. Ons moet dus hiermee rekening hou wanneer oor die verskillende tekste waar “onberispelik’ voorkom, gehandel word.

Kom ons begin met die gedagte dat “onberispelik” ’n persoon se sosiale reputasie beskryf. Dit word veral as vereiste gestel vir iemand wat graag ouderling wil wees (vgl 1 Timoteus 3:2; Titus 1:6-7). “Onberispelik” is die vertaalwoord in hierdie tekste vir twee verskillende Griekse woorde (onderskeidelik anepilēmptos en anengklētos), maar beide verwys na dieselfde gedagte, naamlik dat so ’n persoon se karakter en gedrag in die samelewing onbesproke, bo verdenking moet wees. Dit gaan glad nie daaroor dat die persoon sonder sonde is nie, maar dat hy so ’n onkreukbare karakter het dat niemand iets negatief of sleg oor hom kan sê, of ’n beskuldiging van een of ander aard teen hom kan inbring nie. Dis vergelykbaar met wat Jesus van Nikodemus gesê het, dat hy ’n Israeliet sonder bedrog is (Johannes 1:47); ’n man uit een stuk, sou ons vandag sê.

Wat die Skrifgedeeltes uit 1 Timoteus en Titus betref, moet ons die antieke agtergrond ook in aanmerking neem. In die tyd toe hierdie boeke tot stand gekom het (waarskynlik in die tagtiger jare van die eerste eeu nC), was dit belangrik om die karakter en optrede van Christene in die samelewing as bo verdenking te stel. Daar was naamlik beskuldigings uit die breë samelewing dat die Christene spelbrekers is; hulle hou hulle eenkant en voldoen nie aan die standaarde en norme van die samelewing nie. Daar is beweer dat die Christene ’n odium humani generis – letterlik: “ ’n haat vir die menslike geslag” – openbaar. Christene is deur die heiden-samelewing daarvan beskuldig dat hulle ander mense haat omdat hulle nie deelneem aan die afgodsfeeste of die keiserverering nie. Alle goeie burgers was veronderstel om dit by te woon. Maar, is gesê, Christene hou hulle eenkant, hulle meng nie met die gewone bevolking nie. Hierteenoor wil die skrywer van 1 Timoteus en Titus aantoon dat Christene alles behalwe haters van mense is; inteendeel, hulle leiers (ouderlinge/opsieners) is voortreflike en diensbare mense. Aan hierdie leiers word byvoorbeeld dieselfde vereistes gestel as wat aan die bekleërs van hoë poste in die destydse samelewing gestel is: hulle moet onbesproke van karakter en optrede wees; hulle moet hulle kant bring as geëerde lede van die samelewing; hulle moet aan dieselfde standaarde voldoen as wat van enige “sekulêre” openbare figuur vereis word. Die kerk en sy leiers is daarom nie mense wat die samelewing wil destabiliseer nie, maar is onkreukbaar van karakter en in hulle sosiale omgang. Niemand kan ’n vinger na hulle wys nie.

Hierdie vereistes het ook alles te make met die destydse sendingtaak van die kerk. As die kerk draers wil wees van die evangelie in die wêreld en mense na Christus toe wil trek, moet daar nie struikelblokke in die pad wees nie, allermins die sosiale reputasie van hulle leiers. En so is dit vandag ook: as die kerk werklik ’n impak op die omgewing en wêreld wil maak, word dit nog steeds van gelowiges en in die besonder van sy leiers verwag om mense van goeie inbors en hoë morele waardes te wees. Indien dit nie so is nie, verloor die kerk sy geloofwaardigheid en doen dit afbreuk aan die verkondiging van die evangelie in die wêreld. Anders gestel: die kerk moet “practise” wat hy “preach”. Natuurlik is en bly ook kerkleiers sondige mense; hulle is nie volmaak nie, hulle maak foute en moet steeds by God en mense om vergifnis vra. Maar sodra daar growwe morele slordigheid in gelowiges en kerkleiers se lewe na vore tree, werk dit nadelig in op die boodskap van die evangelie. Na alles word ons telkens in die Bybel opgeroep om inderdaad te wéés wat ons in Christus ís: geredde sondaars wat ons nie laat beheers deur sondige begeertes nie maar wat ons ganse lewens in diens van God stel om heilig (= aan God toegewy) te lewe (Romeine 6). Ons is nie meer slawe van die sonde nie, maar opgewek uit die dood om vir God te lewe. Dit is veral hierdie aspek wat ter sprake is wanneer die woord “onberispelik” as vereiste vir kerkleiers in 1 Timoteus en Titus gestel word.

Daar is nog ’n betekenis waarin die woord “onberispelik” in die Bybel voorkom, en dit is dat die gelowige se posisie voor God en ten opsigte die wet blaamloos is. In Lukas 1:6 word van Sagaria en Elisabet gesê dat hulle al die gebooie en voorskrifte van die wet van God onberispelik onderhou het. Efesiërs 1:4 bevat weer die gedagte dat God ons in Christus uitverkies het – voor die wêreld tot stand gekom het – om onberispelik voor Hom te wees (vir soortgelyke gedagtes kyk ook Efesiërs 5:27; Kolossense 1:22; 1 Tessalonisense 3:13 en 2 Petrus 3:14). Die Griekse woorde wat in hierdie gevalle deur “onberispelik” weergegee word, is amemptos, amōmētos en amōmos, en bevat almal die gedagte dat iemand vlekkeloos of blaamloos voor God is. Dit beskryf die gelowige se religieuse status en karakter voor God en sy wet as ten volle in ooreenstemming met God se vereistes. Ons moet egter mooi verstaan wat hiermee bedoel word. Weer eens het dit niks te make met die inherente sondeloosheid van die gelowige nie. Nee, dit gaan daaroor dat die gelowige in die regte verhouding tot God staan. In al hierdie verse is die uitgesproke of onuitgesproke veronderstelling telkens dat die gelowige in Christus in verhouding tot God staan. En omdat Christus se vlekkelose status as die Seun van God en verlossingswerk die gelowige toegereken word (vgl 1 Petrus 1:19-21), kan die gelowige ook aanspraak maak op ’n onberispelike status voor God. Nog meer, die gelowige se status voor God is nie net in Christus blaamloos nie, maar hy/sy is ook ten volle geskik vir diens aan God en die wêreld. Net soos die offerdiere in die Ou Testament sonder gebrek moes wees (blaamloos), so is die kinders van God sonder gebrek en blaamloos voor God om as offers en priesters sy werk in die wêreld uit te voer. Dit beteken ons is volledig geskik vir diens in God se koninkryk; ons kan die diens verrig waartoe Hy ons in Christus gereinig, afgesonder en geroep het.

Bostaande uiteensetting behoort duidelik te maak dat ’n mens nooit op die klank af betekenisse aan woorde moet toedig nie, maar altyd moet seker maak wat die betekenis en bedoeling daarvan in die Bybelteks self is. ’n Mens sou daarom die betekenis van “onberispelik” vir vandag kortliks so kon opsom: Om deur Christus in die regte verhouding te staan tot God, en om toegewyd te lewe teenoor God en mense, ooreenkoms God se wil.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 

image_pdfimage_print

You may also like...