Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (4)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (4) – Adrio König

Psalm 105

In hierdie Psalm het ons ’n ekstra element by die lof aan God. Hier word inderdaad na Israel se rol verwys, maar dis eensydig positief omdat Israel self nie regtig die oogmerk van die digter is nie. Hy wil ook die lof van die Here besing, en sy verwysings na die rol van Israel is net in diens van sy lof aan die Here. Hy verwys dus net na Israel om te verduidelik wat die Here gedoen het.

Die Psalm begin met oproepe om die Here te loof en sy magtige dade aan die nasies bekend te maak. Dié wat sy teenwoordigheid soek, moet bly wees. En dan roep hy almal op om aan die Here se magtige dade te dink (5), en dit is die oorgang na die lang verhaal waarin hy die magtige dade van die Here opsom.

 

Hy dek die hele geskiedenis: Abraham, Isak, Jakob, die vlug na Egipte tydens die hongersnood, Josef se rol in Egipte, die plae word in detail vertel en dek die grootste deel van die Psalm. Dan volg die uittog, en die intog in Kanaän. En die toepassing is tweevoudig: “Daarom moet hulle sy voorskrifte gehoorsaam en sy wil doen,” en die finale oproep: “Prys die Here!” Die wonders van die Here tydens die uittog moet dus dien as ’n oproep aan die volk om Hom gehoorsaam te wees.

 

Dis ’n kort samevatting van die inhoud van die Psalm. Maar dit mis eintlik die hele punt. Lees ’n keer aandagtig die Psalm deur en let op die nadruk op “die Here” en “Hy”. Let daarop dat die groot middeldeel oor Josef (18-23) die geskiedenis vertel van wat Josef in Egipte gedoen het sonder dat daar spesifiek na  die Here verwys word. Maar die gedeelte word ingelui met die woorde: “Hy (die Here) het iemand voor hulle uitgestuur” (17). Benewens hierdie lang middeldeel kom die woorde “Here” en “Hy” omtrent 30 keer voor. So te sê alles wat gedoen word, is sy werk. Die voorvaders en Israel en die Egiptenaars is dus die hele tyd ter sprake, maar hulle is net daar om te vertel aan wie die Here sy dade gedoen het.

 

Die rol van Israel word dan ook naïef-onskuldig voorgestel. In Eksodus 16 lees ons die verhaal van die kwartels. Daar word drie keer verwys na die verset van die volk (2, 7, 9), en hulle opstandigheid spreek duidelik genoeg uit hulle woorde aan Moses (16:2-3). Kyk ook na die skerp negatiewe interpretasie wat die volgende Psalm van hierdie insident gee (106:14). Maar Psalm 105 lui net: “Toe hulle kos vra, het Hy kwartels laat kom” (40). Die water uit die rots is gekenmerk deur selfs veel erger ontevredenheid en verwyte (Eks 17:2-3, 7), maar geen woord daarvan in hierdie Psalm nie. Daar lees ons net wat die Here gedoen het om vir hulle water te gee (105:41). En dit is ook al wat ons lees oor die hele woestynverhaal met al sy spanning en drama. Dit eindig net met: “Hy het … sy volk juigend, sy uitverkorenes jubelend laat voorttrek”! (105:43) Wat gaan hier aan? Is dit eerlik om só ’n absoluut onskuldige opsomming te gee van die woestyntog? Nie as dit as opsomming bedoel was nie. Maar dit was bedoel as lof aan die Here, en dan tel die  besonderhede oor die volk se rol nie regtig nie.

 

’n Mens moet dus gevoelig wees vir ’n skrywer se doel en oogmerk. As dit gaan om die lof aan die Here, moet dit wat daartoe bydra, oorheers. En die res is bysake. Oor die algemeen kan ons dus sê dat daar talle voorbeelde daarvan is dat die skrywers van die Ou Testament die uittog geweldig hoog aangeslaan het, en veral die wonders wat die Here gedoen het. Hulle kon nie daaroor uitgesing raak nie. Kyk ook nog na Psalm 135:8-12. En onthou, die meeste van hierdie Psalms is liedere wat in die tempel gesing is. Dit moes ’n geweldige ervaring gewees het om te hoor hoe die massa mense die Here met hierdie lofliedere prys.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...