Apologetiek: Toegangsroetes (3)

image_pdfimage_print

 

Apologetiek: Toegangsroetes (3)

[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

In die vorige blog het ons na die eerste twee toegangsroetes gekyk. Ons gaan nou verder kyk

Toegangsroete #3: Stories

‘n Eienskap van die postmodernisme is die klem wat hulle op stories plaas.

Die modernisme was baie skepties om stories as ‘n manier om die werklikheid te ontmoet, te aanvaar. Hulle verplaas stories met rasionele argumente of analise. Modernisme het probeer om die narratiewe aard van die Skrif te marginaliseer. Daarmee word die historiese gebeure en narratiewe vorme (insluitend gelykenisse) totaal gereduseer. Die narratiewe is as ‘n irriterende en ongemaklike dop gesien wat die intellektuele en morele kern van die Skrif onduidelik gemaak het.

Postmodernisme stel weer belang in die Bybelse verhaal – insluitend Jesus se gelykenisse. Die waarheid word nie meer deur die argument bepaal nie – stories het die potensiaal om ‘n duidelike morele en konseptuele identiteit daar te stel. Die Christelike geloof verkondig ‘n wêreld gevorm deur stories met idees en waardes gevorm deur die storie van God se optrede teenoor sy mense – veral die storie van Jesus Christus. Die Christelike geloof is nie eenvoudig ‘n stel idees nie – dit is ‘n storie.

Stories is vandag die basiese medium waardeur mense die werklikheid sien. Die Christelike storie bied aan die mens die beste uitkykpunt waarvandaan ons dan die werklikheid kan verstaan. Dit is die meesterstorie wat alle ander stories van die mens se oorsprong en bestemming in hulle korrekte plekke plaas. As ons die hele storie van die Bybel vertel, verkondig ons die Christelike siening van die werklikheid en daag ons alle sekulêre alternatiewe uit.

Die Bybel vertel ‘n verhaal wat vier fundamentele vrae beantwoord:

  1. Wie is ons? Die Bybel sê ons is mensewesens gemaak na die beeld van ons Skepper. Ons kry nie ons fundamentele identiteit uit ons ras, geslag, sosiale klas en geografiese plek nie.
  2. Waar is ons? Ons woon in ‘n goeie en mooi, maar verbygaande, wêreld wat deur God, wie se beeld ons dra, geskep is.
  3. Wat is verkeerd? Die mens het teen sy Skepper in opstand gekom en die wêreld is daarom uit pas met sy skeppingsdoel.
  4. Wat is die oplossing? Ons word verseker dat God opgetree het, steedsen sal optree in sy skepping deur Jesus Christus en die Heilige Gees te stuur om die verkeerde wat die gevolg van die mens se opstand is, te hanteer. Die wêreld sal eindig soos dit bedoel was om te eindig – dit sal ten volle resoneer met sy eie teenwoordigheid en heerlikheid.

Hoe beïnvloed dit vir ons? Ons moet die waarheid van die evangelie op ‘n ander manier kommunikeer. Vertel byvoorbeeld die storie van hoe jy tot bekering gekom het. Natuurlik is die storie interessanter as enige argument, maar selfs belangriker vertel my storie dat die Christelike geloof werklik is – my storie het die vermoë  om mense se lewens te verander; om aan hulle nuwe redes om te leef en hoop vir die toekoms te gee. ‘n Storie is ‘n wêreldsiening wat toegeëien is en die vermoë het om te verander, hernuwe en opgewonde te maak. Deur my storie te vertel, bevestig ek dat in my lewe die evangelie ‘n werklikheid is.

Ons leef in ‘n wêreld gevorm deur stories. Maar hoe moet Christene stories gebruik? Natuurlik moet ons ander stories kritiseer – stories wat ons geloof marginaliseer. Maar ons moet ook onthou dat ons ons eie stories het om te vertel – gewone stories. As voorbeeld van die gebruik van stories gaan ons volgende keer na Jesus se gelykenisse kyk.

image_pdfimage_print

You may also like...