Apologetiek: Toegangsroetes (4)

image_pdfimage_print

 

Apologetiek: Toegangsroetes (4)

[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

In die vorige blog het ons die belang van stories, veral vir postmoderne mense, beklemtoon. Kom ons begin by die gelykenisse. Dit is nie toevallig dat Jesus stories gebruik het om by sy gehoor betrokke te raak nie.

Hierdie stories se basis kom uit die alledaagse lewe van die plattelandse boeregemeenskappe. Hulle was toeganklik en het die aandag en verbeelding van sy gehoor getrek. Hulle is potensieel net so kragtig vandag as wat hulle destyds was – as hulle reg gebruik word. Die apologeet sal deur die gelykenis werk en krities belangrike vrae vra: Hoe sal hierdie storie my help om die evangelie te verkondig: Hoe sal dit my help om met hierdie gehoor te verbind? Die vraag is dus: Hoe kan ons hierdie storie nou gebruik?

Kom ons kyk na die kosbare pêrel (Matteus 13:45 – 46). In die oorspronklike Grieks bestaan hierdie gelykenis uit net 25 woorde. Uit ons ondervinding klink hierdie storie waar. Een manier om dit toe te pas is: almal soek na iets wat die moeite werd in die lewe is; dikwels vind ons dat dit wat ons verwag het ons bly sou maak, dit nie doen nie; ons begin wonder of enigiets vir ons vreugde en vrede sal bring; Jesus vertel hierdie storie; die handelaar verkoop alles wat hy het om die pêrel te koop. Hoekom? Die handelaar sien dat hierdie ‘n besondere pêrel is – alles wat hy reeds besit steek maar af by hierdie pêrel. Net soos die glans van die son dié van die sterre oortref – hulle kan immers net in die nag gesien word. Hierdie pêrel laat die handelaar besef dat wat hy reeds besit in ‘n ander perspektief gesien moet word. Wat hy gedink het hom tevrede sou stel maak hom ontevrede – dit laat hom verlang na iets wat op daardie stadium buite sy bereik was. Toe sien hy daardie spesiale pêrel – hy weet hy moet dit kry – hy het iets van die allergrootste waarde ontdek. Uiteindelik ontdek hy iets wat die moeite werd is om te besit – in vergelyking lyk alles wat hy reeds het van min waarde. Dit is wat die Christelike geloof is as jy dit begin ondersoek. Dit is so wonderlik – meer so as enigiets anders.

Hier is ‘n Bybelverhaal gebruik om ‘n belangrike stelling te maak. Verhale kan ook gebruik word om raamwerke daar te stel vir betekenis en interpretasie wat gebruik kan word om sin van die lewe te maak. Die gehoor word uitgenooi om in die storie te loop en te vra of dit sin maak van hulle ondervindings en waarnemings.

Kom ons kyk na ‘n belangrike verhaal in die Ou Testament: die ballingskap en die  herstel van die volk in hulle eie land na die val van die Babiloniese Ryk. In 605 vC verslaan die Babiloniërs vir Egipte en word die leidende militêre en politieke mag in die streek. In 597 vC gee die koning en koninklike familie en koninklike raadgewers van Juda hulle oor aan die Babiloniese koning. Saam met etlike duisend burgers word hulle na Babilon weggevoer. In 539 vC val Babilon voor die Perse en die mense word toegelaat om na Jerusalem terug te keer.

Hierdie verhaal word dikwels gebruik om sin te maak uit die situasie van die mens. Die mense van Jerusalem behoort nie in Babilon nie – hulle was in ballingskap en verlang om na hulle eie land terug te keer. By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en trane het gevloei as ons aan Sion dink (Psalm 137:1). Hierdie raamwerk maak sin van die mens se lewe: Ons is nie bedoel om hier te wees nie; hierdie is nie ons tuisland nie; ons behoort eintlik op ‘n ander plek. Diep binne ons is daar nog herinneringe van ons tuisland; ons verlang om na ons tuisland terug te keer. Ons leef in die hoop dat ons eendag daar waar on behoort, sal woon. Hierdie raamwerk praat van ons  ware oorsprong en bestemming en maak sin van ons sterk verlange.

Daar is ook verhale wat die Christelike geloof uitdaag soos die Da Vinci Code. Verhale nooi ons uit om alternatiewe wêrelde te verbeel en hulle dan met ons eie wêreld te vergelyk. Watter een is meer aantreklik en waarskynlik? Brown vertel ‘n verhaal wat baie mense graag wil glo waar is en nooi sy lesers uit om dit te glo. Hy verwerp die Christelike siening van dinge op ‘n populêre vlak – dit sou dan die gevolg van die verkeerde uitoefening van mag wees.

Volgende keer gaan ons verder met ons bespreking van toegangsroetes en kyk na die gebruik van beelde.

image_pdfimage_print

You may also like...