Die erediens is vervelig

image_pdfimage_print

 

One proof of the inspiration of the Bible is that it has withstood so much poor preaching. —A.T. Robertson

 

Die erediens is vervelig

R. C. Sproul in sy boek The Holiness of God sê dat baie mense die kerk verlaat, want dit is vervelig. Hy glo dat ons meer eerbied in die kerk nodig het. Dit plaas ‘n verantwoordelikheid op die prediker, maar ook op die lidmaat wat die erediens bywoon. Wat moet die lidmaat doen?

  • Voorbereiding

Net soos die prediker moet voorberei vir die erediens moet die luisteraars ook voorberei. Ek kan nie Saterdagaand laat in die bed kom, Sondag laat slaap en dan jaag om net voor die begin van die erediens in die kerk aan te kom nie. As ons God nie privaat voor die erediens ontmoet het nie, is dit onwaarskynlik dat ons Hom in die openbaar gaan ontmoet.

 

  • Entoesiasme

As ons teensinnig sonder enige entoesiasme of verwagting die erediens bywoon, gaan ons nie veel kry nie. As ons met entoesiasme God se teenwoordigheid in gebed opsoek en by Hom pleit om teenwoordig te wees en die erediens te seën, sal Hy dikwels ons verwagtings oortref.

 

  • Deelname

Aanbidding is nie ‘n toeskouersport nie – almal moet deelneem. Sing met vreugde – dit roer jou hart en die harte van diegene om jou. Lewendige uitdrukkings is aansteeklik. As die prediker bid, laat ons ons harte en denke vul met God. As daar uit die Bybel gelees word, luister daarna – dit is immers God se woord.

 

  • Eenheid

God hou daarvan om teenwoordig te wees waar die mense verenig is in hulle liefde vir die waarheid en hulle liefde vir mekaar. God is nie teenwoordig waar daar verdeeldheid is nie.

 

  • Eerbied

As ons besef wie ons is, wat aanbidding is en wie dit is wat ons aanbid, sal daar eerbied wees in alles wat ons doen. Dit beteken nie dit is vervelig nie, maar dit sal ‘n invloed hê op hoe ons sit en staan en luister.

 

  • Konsentrasie

Van die grootste probleme vir eerbied in ons eredienste is geraas en optredes wat ons aandag en fokus aftrek.

 

Ja daar is dinge wat ons kan doen om eerbied tydens eredienste te verseker of te verhinder. Ja ons kan dinge doen wat God tevrede sal stel. Ons kan nie alleen eerbied produseer nie – net God kan dit doen. Kerke moet plekke van die buitengewone en bonatuurlike wees – die heilige God is immers daar teenwoordig. Daarteenoor, as almal profeteer, en daar kom ‘n ongelowige of buitestaander binne, dan word hy deur almal in sy gewete aangespreek en kom tot selfondersoek. Die verborge dinge van sy hart kom aan die lig. En so kom hy daartoe om op sy knieë te val, God te aanbid en openlik te getuig: “Waarlik, God is hier by julle!” (1 Korintiërs 14:25 – 26)

Wanneer laas het dit in jou gemeente gebeur?

 

 

image_pdfimage_print