Die Groot Geloofswoordeboek: Maagdelike Geboorte

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Maagdelike Geboorte

Maagdelike geboorte

Die maagdelike geboorte van Jesus is deel van ons belydenis. (*Twaalf Artikels) Daarmee bely ons dat Hy nie deur die toedoen van ‘n man gebore is nie en dus ‘n buitengewone geboorte gehad het. Tegnies sou ‘n mens eerder van sy maagdelike verwekking kon praat. Dis nie soseer die geboorte nie as die bevrugting wat sonder ‘n man plaasgevind het.

In die Bybel het ons eintlik net twee getuienisse van hierdie merk­waardige verwekking, net in Matteus en Lukas. Volgens Mat­teus sê ‘n engel aan Josef: “Wat in Maria verwek is, kom van die Heili­ge Gees” (1:20), en volgens Lukas sê die engel vir Ma­ria: “Die Heili­ge Gees sal oor jou kom” (1:35). Soms word ook verwys na Paulus se woorde oor Jesus: “gebore uit ‘n vrou” (Gal 4:4). Dit beteken egter nie noodwendig dat daar nie ‘n man be­trokke was nie. Elders in die Bybel verwys “uit ‘n vrou gebore” na alle mense en dui moont­lik net die swakheid van die mens aan (Job 14:1; Matt 11:11 waar die 1953-vertaling duideliker is: “onder die wat uit vrouens gebore is”, en wat na alle mense verwys).

Hierdie belydenis van Jesus se wonder-verwekking word in baie kringe verwerp. Mense sê dis nie moontlik dat ‘n kind sonder die toedoen van ‘n man verwek word nie, en volgens die prosesse wat ons ken, is dit natuurlik waar. Maar as ‘n mens aanvaar dat God alles geskep het (*Skepping), is dit seker nie te veel gevra om ook te aanvaar dat Hy bewerk het dat ‘n vrou ‘n kind kry sonder dat ‘n man betrokke is nie.

Daar is ook die gedagte dat Jesus nie regtig ten volle mens sou gewees het as Hy nie deur ‘n man verwek is nie, omdat kin­ders deur ‘n vrou én ‘n man verwek word. Hy sou dan ‘n soort supermens gewees het. Maar die vorige teenargument geld seker ook hier.

Verder is daar nog die verwysing na die feit dat daar meer ver­hale uit die ou tyd is van besondere mense wat op sulke bui­ten­ge­wone maniere verwek of gebore is, veral konings wat ‘n goddelike geboorte sou gehad het. Dit is egter nie duidelik waarom dit teen Jesus se wonder-verwekking sou tel nie. Daar is ook baie ander skep­pingsverhale en verhale oor wonderwerke, maar dit beteken tog nie dat ons nie meer die Bybelverhale daaroor kan aanvaar nie.

 

Wat beteken dit alles? Minstens twee dinge.

Eerstens is daar twee duidelike getuienisse dat Jesus ‘n ongewone verwekking gehad het. En daar is geen goeie rede om dit te betwyfel nie.

Maar tweedens moet ons ook nie te veel hieruit aflei nie. In die verlede was daar die gedagte dat Jesus juis sonder die toedoen van ‘n man verwek moes word omdat seks eintlik sonde is. Anders sou Hy die *erfsonde gehad het. Natuurlik is dit ‘n vreemde redenasie, ook wat die erfsonde betref. Dis nie iets soos bruin oë wat biologies oorgedra word nie.

Verder is geglo dat Jesus anders as ons moes wees anders sou Hy nie ons Verlosser kon wees nie. Maar dis ook nie ‘n goeie argument nie. Daar is trouens juis die ander siening dat Hy soos ons moes wees om regtig ons saak by God namens ons te behartig.

Ons moet eenvoudig aanvaar dat daar nie ‘n bepaalde re­de ge­gee word waarom Hy juis só verwek moes word nie. En ons moet ook daarop let dat daar nie verder in die Nuwe Tes­tament enige aan­dag daaraan gegee word nie. Dink maar net aan die *won­der­werke, die *kruis en die *opstanding. Daar is eintlik geen vergelyking nie. Vir die kruis gee net Paulus alleen ses verskillende betekenisse wat almal direk met ons heil in verband staan, en vir die opstanding minstens vier. Paulus wil die kerkdeure toemaak as Jesus nie op­gestaan het nie. Na die wonderwerke word oor en oor verwys, en daar word belangrike betekenisse daaraan gegee. Maar geen skry­wer in die Nuwe Testament gee besondere betekenis aan die won­der-ver­wekking van Jesus nie. Daarom moet ons self ook nie te veel klem daarop lê en lang debatte daaroor voer nie. Vir ons heil het dit skynbaar geen besondere betekenis nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...