Die Groot Geloofswoordeboek: Vertalings van die Bybel

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Vertalings van die Bybel

Vertaling(-s) van die Bybel Statevertaling King James-vertaling Textus Receptus Tekskritiek 1953-vertaling 1983-vertaling Parafrase

Ou Vertalings

Vertalings van die Bybel is byna so oud soos die Bybel self. Die feit dat daar van so vroeg af vertalings gemaak is, getuig ook van die feit dat die Bybel vir alle mense bedoel is. Dis nie ‘n groepsboek vir ‘n groepsgodsdiens nie.

Die *Septuagint, die Griekse vertaling van die Ou Testament, is al ongeveer twee eeue voor Christus gemaak vir die Jode wat om die Middellandse See versprei het en nie meer Hebreeus kon lees nie. Maar dit was om verskillende redes ook die eintlike By­bel van die vroeë Christene.

Die Nuwe Testament is van die begin af in Grieks geskryf om­dat dit die wêreldtaal van daardie tyd was en die evangelie deur Grie­keland na Europa versprei het. Grieks was dus die omgangstaal van die meeste lande rondom die Middellandse See.

Deur die Romeinse oorheersing en die groei van die kerk ver­der na die Weste, het die behoefte egter later aan ‘n vertaling in Latyn ontstaan. Hiëronimus het toe in die vierde eeu die *Vulgaat vertaal. Daar is ook in ander tale, soos Siries, vroeg vertalings ge­maak.

Daarna is vir eeue lank min aandag aan vertalings gegee. In die Ka­tolieke spiritualiteit was die *mis (nagmaal) die hoofsaak, en om­dat die *Katolieke baie nadruk gelê het op die onmondigheid van lidmate, is min aandag aan persoonlike Bybellees gegee. Dit was ‘n taamlik algemene gedagte dat die Bybel moeilik is om te ver­staan, en dat dit tot te veel dwalings kan lei as lidmate dit self lees. Dit was veiliger as die priester, wat die geleerdheid het, dit vir die lidmate uitlê. Daar was dan ook aanvanklik sterk teenstand teen die vertalings wat die Protestante tydens die *Kerkhervorming ge­maak het.

 

Protestantse vertalings

Die Protestante het in die tyd van die *Hervorming dadelik met vertalings begin. Daar was hoofsaaklik twee redes. Eerstens was hulle oortuig van die mondigheid van lidmate, wat beteken dat die Bybel duidelik en eenvoudig genoeg is dat gewone mense dit kan verstaan. En tweedens was daar in Europa vreeslik baie mense wat lankal nie meer die Latyn van die Vulgaat en wat in die kerk gebruik is, kon lees of verstaan nie.

Terloops, die gedagte dat die Bybel duidelik genoeg was vir ge­wone lidmate om te verstaan, het nooit beteken dat daar nie moeili­ke dele in is nie. Die blote feit dat Calvyn op byna elke boek van die Bybel ‘n volledige kommentaar geskryf het, getuig daarvan dat daar baie is wat geleerdes kan verduidelik. Maar die Reformatore het bedoel dat die sentrale boodskap van die Bybel duidelik genoeg was. (*Duidelikheid van die Bybel)

Martin Luther het gou ‘n volledige vertaling in Duits gemaak wat vandag nog baie interessant is om te lees. En daarna het baie ge­volg. Die Hollandse vertaling is in 1637 voltooi, die soge­naamde Sta­tevertaling. Dit is nog lank in Suid-Afrika (in die ou Kaap­kolonie en op die Groot Trek) gebruik, en het nog ‘n baie groot invloed op ons eerste Afrikaanse vertaling (1933) gehad. Woorde soos “vlees” en “goedertierenheid” wat nou nog hier en daar in ons vertalings en in liedere voorkom, het hulle oorsprong hier. “Vlees” is die ge­wo­ne Hollandse woord vir “vleis”, maar dit het in Afrikaans die ne­gatiewe betekenis van “sondig” gekry. In die 1983-vertaling word dit met onder andere “wêrelds” of “son­dige natuur” vervang. “Goe­der­tierenheid” beteken “liefde” of “trou”.

In 1953 is ons Afrikaanse 1933-vertaling hersien, maar vir alle praktiese doeleindes is niks besonders verander nie. Dit was ‘n hersiening van die Afrikaans, nie ‘n nuwe vertaling uit die Hebreeus en Grieks nie.

Die verskynsel van ‘n klomp vertalings in dieselfde taal was ‘n eeu gelede nog heeltemal onbekend. Vroeër was daar in­der­daad net een oorheersende vertaling in elke taal, nie net in Afri­kaans nie. Die King James-vertaling en die Statevertaling is klas­sieke voorbeelde. Hulle het oor eeue heen ongelooflike gesag gekry, sodat hulle teen die helfte van die vorige eeu, toe ander vertalings die lig begin sien het, inderdaad vir baie mense nog die norm gebly het.

 

Die King James-vertaling

Dink maar eers net aan die ont­wik­kelings in Engels. Kry tog iewers ‘n King James-vertaling in die hande en lees dit. Dit is Engels waar­aan ons glad nie meer gewoond is nie. Dit is onge­looflik dat daar vandag nog ‘n groot groep Engelssprekende *Evangelical Christene is wat hier­die vertaling verkies. Dit is onlangs oorgewerk in The New King James Version waaruit die ergste verouderde taalvorme ver­an­der is, maar die taalstruktuur onveranderd gelaat is.

Vir die snaaksigheid ‘n staaltjie oor die King James-vertaling. Die Engelse koning James het die opdrag gegee vir ‘n Engelse ver­taling. Die kommissie het dit voltooi en na die koning gebring. Sy een vraag was of sy naam in die vertaling verskyn, waar­op hulle toe nee moes antwoord. In reaksie op die koning se te­leur­stelling het hulle beloof om iets daaraan te probeer doen. Hulle het toe besluit om die Brief van Jakobus, wat in Engels “The Letter of Jacob” moes wees (Grieks: Iakobos), te verander na “The Letter of James”. Engels is inderdaad die enigste taal in die wêreld waarin hierdie brief hierdie vreemde naam het. Die staaltjie is dus waarskynlik outentiek.

 

Skielik ‘n vlaag nuwe vertalings

Waarom het daar sedert die helfte van die vorige eeu skielik so ‘n vloedgolf nuwe vertalings ver­skyn? Waarom ons eie 1983-vertaling? En waarom ook nog ander in Afrikaans, en al weer sprake van nog een? En wat van die talle in ander Europese tale? Daar is veertien op my rak, en dis maar min. Kan die Bybel nie een maal goed vertaal word en dan is ons klaar nie?

Die waarheid is dat daar teen die helfte van die vorige eeu groot veranderings gekom het wat vertalings sterk beïnvloed het. Dink maar net aan:

•             die ontwikkeling in taalteorieë en vertaalteorieë;

•             die ontdekking van beter grondtekste van veral dele van die boeke van die Nuwe Testament;

•             die ontwikkelings en groei wat in elke lewende taal voor­kom, en

•             nuwe insigte in die betekenis van sekere dele van die By­bel.

Dit het alles ‘n belangrike invloed gehad en regtig nuwe verta­lings nodig gemaak. Kom ons kyk hierna.

 

Nuwe taal- en vertaalteorieë

Eerstens het dit duidelik geword dat woorde nie (vaste) be­te­kenis het nie, maar dat ons be­te­kenis aan woorde gee. Tweedens dat be­tekenis nie allereers deur woorde oorgedra word nie, maar eerder deur groepe woor­de soos frases, sinsnedes en uitdrukkings.

Dit het beteken dat die ou gedagte dat ‘n letterlike vertaling, dit beteken ‘n woord-vir-woord-vertaling, ‘n goeie vertaling is, vervang is deur die insig dat ‘n letterlike vertaling selfs heeltemal verkeerd kan wees. Ons weet dit eintlik almal. As ‘n mens die uitdrukking: “Jannie het gister stokkiesgedraai” letterlik vertaal, dus woord vir woord, kry jy: “Yesterday Johnny turned sticks.”

In ons 1953-vertaling, wat nog ‘n letterlike vertaling is, is heel­wat sulke voorbeelde. Hierin is die kernteks waaruit Luther weer die evangelie ontdek het, eintlik onverstaanbaar. Dit lui: “Want die geregtigheid van God word daarin (in die evangelie) geopenbaar uit geloof tot geloof” (Rom 1:17). Die gekursiveerde woorde, wat die kern van die evangelie is, maak geen sin nie. Dit is letterlik die “regte” Afrikaanse woord vir elke Griekse woord. Maar dis nie woorde wat betekenis oordra nie, dis frases of sinsnedes of uitdrukkings. Ons het hier ‘n Griekse uitdrukking wat beteken “net deur geloof alleen”. Maar hierdie betekenis van die oorspronklike taal kan ‘n mens net met ander Afrikaanse woorde oordra, soos 1983 se vertaling: “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo.” Heeltemal ander woorde is gebruik om dieselfde betekenis deur te gee. En só het die kern van die evangelie weer duidelik geword.

Dit het beteken dat daar heelwat veranderings aangebring moes word. Waar ons in die 1953-vertaling gelees het van die “bloed” van Jesus, vertaal 1983 dit met “die versoeningsdood” om­dat die Griek­se woord vir bloed na die kruisdood van Jesus verwys (Rom 5:9).

 

Beter grondtekste ontdek

Die ander groot saak wat die ver­taling beïnvloed het, is die nuwe ontdekkings wat gemaak is van dele van boeke van veral die Nuwe Testament.

 

Textus Receptus

Die ouer vertalings is gemaak uit die sogenaamde Textus Re­ceptus, “Die Algemeen Aanvaarde Teks”. ‘n Mens moet ont­hou dat die oor­spronklike geskrifte wat die Bybelskrywers ge­skryf het, almal verlore is. Ons is afhanklik van afskrifte wat op verskillende plekke en tye gemaak is. Van sulke afskrifte is na­tuurlik ook weer ander afskrifte gemaak. Hierdie afskrifte was nie sonder kleiner foute nie. Dit beteken dat daar alreeds in die tyd van die Hervorming van dieselfde deel in die Bybel meer as een afskrif bestaan het met klei­ner verskille in die woorde.

Sedertdien het die wetenskap ontstaan wat Tekskritiek genoem word. Dit is ‘n vergelyking van die verskillende beskikbare afskrif­te om te probeer bepaal presies watter woorde oorspronklik gebruik was. Toe die Hervormers vertalings van die Bybel begin maak, moes hulle besluit watter woorde hulle as die oorspronklike gaan be­skou en vir hulle vertaling gaan gebruik. Daar is toe uit hier­die verskeidenheid manuskripte een saamgestel wat die Textus Recep­tus, “Die Algemeen Aanvaarde Teks” genoem is. Vir eeue lank is ver­ta­lings uit hierdie grondteks of basisdokument gemaak. Selfs nadat baie ander, en dikwels beter, afskrifte van boek­dele ontdek is, is hierdie teks nog altyd gebruik omdat dit deur die eeue soveel ge­sag gekry het. Intussen het sommige sen­ding­genootskappe besluit om liewer van die beter manuskripte te gebruik vir vertalings in nuwe tale in sendinggebiede.

Dit het aanleiding gegee tot die volgende sendingstaaltjie. ‘n Besoekende Afrikaanssprekende predikant moes die Sondag op die sendingstasie Nkhoma in die destydse Njassaland (Malawi) preek. Hy sou natuurlik in Afrikaans preek en ‘n tolk sou dit in Chichewa vertaal. Die tolk het sommer die Skriflesing ook in die toepaslike taal gedoen. En toe kondig die predikant sy teks aan: “Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop” (Hand 9:5, 1953-vertaling). Die tolk soek rond in Handelinge 9, kyk op na die sendeling, die sendeling herhaal: “Handelinge 9:5,” maar die tolk bly stom. Waarom? Daardie sinnetjie het nie in sy Bybel (die Chichewa-vertaling) gestaan nie. Ek weet nie waaroor die predikant toe gepreek het nie.

Wat het gebeur? Die 1933-vertaling (en die 1953-hersiening) is nog uit die Textus Receptus gemaak, eenvoudig omdat die Afri­kaners toe nog die ou Statevertaling gebruik het wat natuurlik ook daaruit gemaak is. Dit sou net te veel onrus veroorsaak om af te wyk van die Bybel wat hulle geken het. Daar was in elk geval al genoeg teenkanting teen ‘n Afrikaanse vertaling as sodanig. In hierdie eerste Afrikaanse vertaling het die sinnetjie dus nog gestaan. Maar die Chichewa-vertaling, wat al in 1928 gemaak is, het alreeds van die beter manuskripte gebruik gemaak waarin hierdie sinnetjie nie meer voorgekom het nie.

Sedert die tyd van die Hervorming is daar baie nuwe ont­dek­kings gedoen en baie ouer en suiwerder teksgedeeltes opge­gra­we. Teen die middel van die vorige eeu is daar toe ‘n nuwe algemeen aan­vaarde teks opgestel, die Kurt Aland-teks waaruit vertalings ge­doen word.

 

Die ontwikkeling van lewende tale

Enige taal wat nog ge­praat word, ontwikkel. Ou woorde word soms nie meer in se­ke­re betekenisse gebruik nie, en word gaandeweg vir nu­wes ge­bruik. Dink maar net aan “muis” en “virus” in die reke­naar­wêreld. Trouens, daar word selfs totaal nuwe woorde en uit­druk­kings ge­vorm. Dink maar aan die ou vertaling van Ro­meine 6:2: “Nee, stellig nie.” Dit het destyds beteken: “Nee, defi­nitief nie.” Maar in­tussen het “stellig” se be­tekenis verander na “miskien” of “waar­skynlik”. Toe moes 1983 dieselfde Griekse woord vertaal met: “Beslis nie,” omdat 1953 s’n die betekenis ver­keerd weer­ge­gee het.

Woorde soos “goedertierenheid” en “vlees” het in onbruik ge­raak en moes met nuwes vervang word. “Die werke van die vlees” het nou geword: “die praktyke van die sondige natuur” (Gal 5:19). “Goedertierenheid”, wat in die Psalms alleen oor die 100 keer ge­bruik word, is vervang met “liefde”, “groot liefde”, “troue liefde”, “trou/getrouheid” (Ps 136 baie keer; 5:8; 6:5; 13:6; 21:8).

 

Die 1983-vertaling

In die volgende paar paragrawe gaan ons spesifiek in op die 1983-vertaling. Dit staan bekend as Die Nu­we Vertaling. Dit is ‘n on­ge­lukkige benaming omdat daar al hoe meer vertalings kom. Daarom word na Die Nuwe Vertaling as die 1983-vertaling ver­wys.

Die invloed van hierdie nuwe ontwikkelings kan duidelik in die 1983-vertaling gesien word. Hierdie vertaling is eerstens baie duideliker en dit lees baie makliker en vloeiender. Verder is die invloed van die beter grondteks waaruit die vertaling gedoen is, duidelik, al is daar nog altyd mense wat onseker is hieroor. Daar is sinne weggelaat (oa in Hand 8:37; Matt 6:13; 1 Joh 5:7-8). Daar is selfs ‘n paar langer dele wat wel nog in die Bybel opgeneem is, maar met duidelike aantekeninge onderaan die bladsy dat dit nie deel van die oorspronklike geskrif was nie (Mark 16:9-20; Joh 7:53-8:11).

In al hierdie gevalle is geleerdes deur latere ont­dekkings oor­tuig dat die dele wat hulle weggelaat het, nie oor­spronklik deur die skry­wer geskryf is nie, maar in latere afskrifte bygevoeg is. Die na­vorsing wat hiertoe gelei het, word Tekskritiek genoem. Daar is duidelike beginsels waarvolgens hulle bepaal watter lesing die waarskynlikste is. Die feit dat die een sin wat uitdruklik die drie-enigheid van God bely (*Drie-eenheid), weg­gelaat is (1 Joh 5:7-8), is ‘n sterk getuienis ten gun­ste van die integriteit van die resultate van die Tekskritiek. Geleerdes sou dit nie onnodig gedoen het.

 

Nuwe insigte in dele van die Bybel

Hierdie vierde ont­wik­keling wat nuwe vertalings nodig gemaak het, verdien meer aandag. Die feit dat sekere persoonlike voor­naam­woorde in die Ou Testament wat in die 1953-vertaling met hoofletters geskryf is, nou met kleinletters geskryf word, het in ‘n paar kringe groot ongelukkigheid veroorsaak. Dink in hierdie verband veral aan Jesaja 53, een van die liedere oor die dienaar van die Here. In 1953 is die persoonlike voornaamwoorde wat hier vir die dienaar gebruik word, met hoofletters geskryf (Hy – v 4-5; Hom – v 2-3, om maar net ‘n paar te noem). In 1983 word hulle almal met kleinletters geskryf.

Hierdie kwessie is breedvoerig behandel onder *dienaar.

 

Kritiek

Daar is ook gegronde kritiek op hierdie vertaling uit­gespreek. Dit is nie vreemd nie, want elke vertaling het sekere uitgangspunte en doelwitte, en dit beteken dat dit ook nie aan almal se wense kan voldoen nie. Omdat die 1953-vertaling oud en stokkerig en dikwels onduidelik was, was een van die oor­heersende oogmer­ke in 1983 om duidelik te wees. Dit het die vertalers ook reggekry, maar hier en daar het hulle wel ‘n duur prys daarvoor betaal.

Hulle het byvoorbeeld metafore wegvertaal. Dink maar aan Psalm 23. “U stok en u staf die vertroos my” het eenvoudig ge­word: “In u hande is ek veilig.” Dit is inderdaad duidelik, dui­deliker as die 1953-vertaling, maar dis plat en sê minder as die werklike betekenis van 1953. Die stok en die staf het twee verskillende dinge gesê, wat nou beperk is tot een plat uitspraak: “In u hande is ek veilig.” Die stok was die “knopkierie” waarmee gevare soos roofdiere afgeweer is, en die staf was die herderstaf met die voorpunt wat teruggebuig was sodat die herder die skaap wat wegdwaal, aan sy nek kon terugtrek. Dit gee inhoud aan die veiligheid wat Dawid by die Here gevoel het.

Duidelikheid beteken ook dat die vertalers meer moet in­terpre­teer as in die geval van ‘n letterlike vertaling. Dit beteken die verta­lers se teologie slaan soms deur. Een van die klassieke voorbeelde is die vertaling van Matteus 10:29: “Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.”

Die gekursiveerde woorde staan nie in die Grieks nie, en daar is niks in die Grieks wat dit regverdig nie. Die 1953-vertaling het die Grieks korrek vertaal, maar onduidelik: ” … sonder julle Vader nie,” en die oogmerk van die 1983-vertaling was duidelikheid. Die prys was egter die hele las van ‘n vreemde *voorsienigheidsleer, want as God selfs bepaal wanneer elke mossie moet doodval, bepaal Hy letterlik elke ding wat ooit gebeur, en dan bepaal Hy ook al die vervolging en geweld en lyding van sy kinders, en hoe vertrou ‘n mens Hom dan nog?

Die verband van hierdie teks spreek egter van die teendeel. Dis ‘n uitnodiging om die Vader in nood en vervolging te vertrou omdat Hy vir sy kinders omgee en hulle in hulle nood sal bystaan (v 19, 26, 28, 31).

 

Parafrase

Behalwe die 1983-vertaling het ons ook Die Le­wende Bybel en Die Boodskap gekry. Hulle is parafrases, dit wil sê vryer weer­gawes van die oorspronklike taal. Hulle voeg soms heelwat woorde by wat die agtergrond verduidelik. Vergelyk die 1953- en 1983-vertalings met Die Lewende Bybel en Die Boodskap oor Matteus 5:41.

1953: En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam.

1983: As iemand jou dwing om sy goed een kilometer te dra, dra dit vir hom twee kilometer.

Die Lewende Bybel: As jy gedwing word om vir die soldate hulle goed een kilometer ver te dra, dra dit dan twee kilometer ver.

Die Boodskap: As ‘n soldaat na jou toe kom en jou beveel om sy rugsak ‘n kilometer ver te dra, moet jy sommer uit jou eie aanbied om dit twee kilometer ver te dra.

Elkeen is langer as die vorige een met meer besonderhede by. Veral die “soldaat” wat bykom, staan glad nie in die Grieks nie, maar dit was juis die een wat jou in daardie tyd kon “dwing” om sy goed te dra. Met hierdie toevoeging gaan daar skielik ‘n hele wêreld voor ‘n mens oop. Dit gaan glad nie om ‘n goeie buurman vir wie jy ‘n gunsie moet bewys nie, dit gaan om ‘n gehate Romein­se soldaat wat die reg gehad het om van enige verbyganger te eis om sy sak goed een myl (dit was die oorspronklike maat daardie tyd) ver te dra. Dit was besonder vernederende en gehate werk. Jesus eis van ons die soort nederige liefde dat ons dubbel sal doen waartoe ons deur ‘n gehate persoon verplig word.

‘n Parafrase kan soms ‘n onnodige herhaling van woorde word.  Hierdie ekstra verduidelikende toevoegings kan nog meer vreem­de teologiese agtergronde na vore bring. The Living Bible parafra­seer Romeine 1:17 soos volg: “This good news tells us that God makes us ready for heaven – makes us right in God’s sight – when we put our faith and trust in Christ to save us.” Die gekursiveerde woorde het geen basis in die Grieks nie, maar dis die oortuiging van die pa­ra­fraseerder: Ons gaan hemel toe. As ek dit moes parafraseer en so iets moes byvoeg, sou ek bygevoeg het: “God makes us ready for the new earth,” en dit sou weer my teologiese voorkeur verraai het. (*Nuwe aarde) Maar alle teologiese voorkeure is nie so onskuldig nie. Dit het Matteus 10:29 getoon.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...