Die Bybel: Kan ek die Bybel verkeerd lees?

image_pdfimage_print

There is no joy in the world like the joy of bringing one soul to Christ. –William Barclay

Die Bybel: Kan ek die Bybel verkeerd lees?

Kom ons doen ‘n kort gevallestudie oor Jeremia 29:11

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting (Jeremia 29:11)

Hierdie is ‘n baie gewilde vers. Stap by ‘n Christelike boekwinkel in en jy sien dit op boekmerke, koffiebekers, ens. Mense hou daarvan. Ons glo dit beteken dat God ons van alle teenspoed sal weghou en ons sal seën. Is dit wat Jeremia vir ons wil kommunikeer?

 

Jeremia skryf hier aan die Joodse ballinge in Babel. Hulle sit daar, want God het hulle gestraf omdat hulle aan Hom ontrou was. Die Here sê dat hulle hulle in Babel moet vestig: Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld … Dan volg hierdie betekenisvolle woorde: Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir hierdie stad, want sy belange is ook julle belange.  Dan belowe die Here dat oor presies sewentig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring. Nou volg vers 11. Wat belowe die Here in vers 11?  God sê dat Hy inderdaad ‘n plan vir sy mense het: na die ballingskap verby is, gaan Hy hulle weer in die land Israel hervestig.

Ons kyk dikwels na Jeremia 29:11 as ‘n blanko tjek. Dit beteken nie dat geen teenspoed ons gaan tref – dat ons net voorspoed sal geniet – nie. Ons kan egter baie leer uit God se voorsiening vir sy volk tydens hulle ballingskap en straf. Ons sien in hierdie verhaal God se deernis. Wat ons nie kan doen nie is om hierdie vers direk op elke omstandigheid toe te pas as ‘n belofte van voorspoed.

Die grootste gevaar van interpretasie van die Bybel is die bagasie wat ek met my saamdra. So glo meeste Westerlinge dat Jesus wit met blonde hare en blou oë was. Dit is baie onwaarskynlik, want die inwoners van Israel was meestal blas met bruin of swart hare. Ons glo ook dat God wil hê dat ons gelukkig, gesond en vervul moet wees. God wil nie noodwendig hierdie dinge vir ons gee nie – altans nie soos hierdie dinge in ons kultuur gedefinieer en nagejaag word nie.

Kom ons kyk na enkele faktore wat my manier van Bybellees beïnvloed

  • My lewenservarings. As my vader van die huis af weggeloop het of my mishandel het, het ek probleme om te verstaan as die Bybel van ‘n liefdevolle, hemelse Vader praat.
  • As ek groot geword het in ‘n huis met min of geen reëls en met toegeeflike ouers, verstaan ek nie die mag en soewereiniteit van God nie – dat Hy sekere reëls kan neerlê wat ek moet gehoorsaam.
  • Almal van ons word deur die kultuur waarin ons leef, beïnvloed.

Ons moenie aannames maak  oor wat die Bybel sê nie – ons moet die Bybel toelaat om vir homself te praat. Ons moet ons bagasie los en vir God vra om direk met ons deur sy woord te praat. Dan sal ons ondervind dat sy woord ons denke en optrede verander. As ons die Bybel lees, moet  ons altyd vra: Wat hanteer die skrywers van die Bybel in hierdie gedeelte en hoekom?

image_pdfimage_print

You may also like...