Die Groot Geloofswoordeboek: Voorspoedsevangelie

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Voorspoedsevangelie

Voorspoedsevangelie/Prosperity Gospel

Die Voorspoedsevangelie lê klem op materiële seëninge. Hulle is oortuig dat dit die wil van die Here is dat sy kinders in oorvloed moet leef. Daarom moet gelowiges wat materiële nood het, spe­sifieke dinge van Hom vra, en dan nie net “ons daaglikse brood” nie, maar luukshede. Jy vra vir ’n spesifieke motor en selfs die kleur wat jy wil hê. Jy vra nie net vir ’n paar dae om ’n bietjie te rus nie, maar vir ’n paar dae by ’n luukse vakansieoord. Alles behoort aan die Here en Hy wil sy kinders ryklik daarin laat deel.

Die Voorspoedsevangelie beroep hom veral op die Ou Tes­tament. Abraham was ’n ryk man, Job het ryk begin én ryk geëin­dig, Dawid het in heerlikheid oor Israel regeer, Salomo was ryk en magtig (Gen 13:2; Job 1:3; 2 Sam 8; 1 Kon 3:13).

Dit alles was nie uitsonderlik nie, maar die gewone seëninge wat die Here op die volk sou uitstort as hulle aan Hom gehoor­saam is. Kyk na die ongelooflike lys materiële seëninge wat aan die ge­hoorsame volk beloof word (Deut 28:1-14).

Dit is waarom die gelowige, getroue Israeliet byna sy geloof verloor het as dit met hom sleg gaan terwyl die goddelose in weel­de leef (Ps 73:2 ev).

En soos die Bybel begin, so eindig dit ook. Die beelde van weelde in die Nuwe Jerusalem is oorweldigend: die stad self en sy strate is van suiwer goud gebou, elke poort is uit een enkele pêrel gemaak en daar is twaalf (Op 21:18 ev). Weelde en voorspoed!

Skynbaar is dit duidelik: die Here is ryk, en Hy wil sy ge­hoorsame kinders in voorspoed en weelde laat leef.

Ek onthou dat ek op ’n keer deelgeneem het aan ’n radioge­sprek met twee manne van hierdie teologie. Dit het gegaan oor die vrees­like nood in Etiopië waar daar onder andere weens droogte en wanbestuur, ongekende ellende was. Hoe nou gemaak?

Hulle reaksie was kort en saaklik: Die Etiopiërs moet hulle be­keer, dan sal God hulle voorspoedig maak. “Dit gaan goed met die nasie wie se God die Here is” (Ps 33:12). Geen probleme kan voor die seëninge van die Here standhou nie.

Alles is skynbaar darem een keer duidelik: voorspoed en weel­de in die Ou Testament en in die Nuwe Jerusalem. Heerlik! Dié wat aan die Here gehoorsaam is, sal ryklik geseën word met oorvloed.

Maar is daar nie tussen die Ou Testament en die Nuwe Je­ru­salem/aarde ’n tydperk wat nou nie hier gereflekteer word nie? Was daar nie ’n tyd toe dié wat aan die Here getrou was, juis om daardie rede vervolg en mishandel is nie? Was Paulus en Silas nie een keer in die tronk, stukkend geslaan en in pynblokke, terwyl hulle in volle gehoorsaamheid aan die Here die evangelie aan die hei­dene verkondig het nie? En was daar nie ’n Jood uit Nasaret wat vervolg en selfs gemartel en gekruisig is juis omdat Hy die Messias van God was nie? Is die Nuwe Testament nie vol waarskuwings dat die kinders van God vervolg gaan word juis omdat hulle aan die Here getrou is nie? Het Jesus nie self gesê nie: “As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg”? ( Joh 15:20) En is die gemeente van Smirna nie ryk (op heeltemal ’n ander manier!) terwyl hulle verdruk word en in armoede leef nie? (Op 2:9)

Vergeet die voorspoedsteoloë nie heeltemal in watter tyd ons leef nie? Ons leef in die *tussentyd. Ons wag op die beloofde heerlikheid. Ons is nog nie daar nie.

Ons moet die tye reg lees.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print