Die koninkryk van God

image_pdfimage_print

Religion that honors God is religion with feet – Mike Slaughter

Die koninkryk van God

In Matteus 25 kry ons ‘n aantal koninkryksprofesieë wat ons sal help om te verstaan hoe ons lewe behoort te wees in hierdie tussenin periode – die periode tussen Jesus se eerste en tweede koms. Die eerste gelykenis van die tien meisies beskryf ons houding in hierdie periode – wees getrou en wakker terwyl ons vir die bruidegom wag.

Gelowiges moet wakker wees, want ons weet nie op watter dag en uur dit sal gebeur nie. Die volgende gelykenis – die gelykenis van die muntstukke – voeg ‘n tweede element by: aktiewe wag. Dit gaan nie net oor wag nie. Volgens Lukas 19:13 gee die eienaar aan hulle ‘n bevel: Dryf handel daarmee totdat ek terugkom. Die eienaar kom eers na ‘n lang tyd terug.

Vandag is daar nog steeds gelowiges wat hulle muntstukke ronddra en so af en toe kyk of hulle nie dalk ‘n silhoeët van Jesus Christus sien nie. Maar Jesus sê: Dryf handel daarmee. Ons wag nie net vir die koninkryk nie – ons word geroep om aktiewe, verantwoordelike rolle in hierdie koninkryk te vervul.

As ons dan bruikbare agente in sy koninkryk wil wees wat moet ons doen?

  • Wees syne. Die gelykenis gaan oor geld, maar dit het ‘n baie wyer toepassing. God het tog baie meer dinge aan ons gegee om verandering in die wêreld teweeg te bring. Hy gee aan ons vaardighede en vermoëns; Hy gee aan ons tyd en energie om by koninkryksaktiwiteite betrokke te wees … ons kan eintlik onbeperk voortgaan. Maar hierdie muntstukke wat hierdie man vir sy slawe gee, was sy eiendom – sy besittings. Alles wat ons besit behoort aan God. Wat ons het, is aan ons toevertrou. Dit is nie ‘n opoffering nie, want daar is dinge wat dien as beloning vir jou harde werk in God se koninkryk. Dink aan die gevoel – ‘n gevoel wat alles oortref – as jy God hoor sê: Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!
  • Wees anders. Die eienaar kon die muntstukke uitdeel soos hy wou – dit was syne. Hy gee nie aan elkeen dieselfde nie … net soos God nog steeds doen. Ons dink dit is onregverdig, maar ons is tog nie almal dieselfde nie. Dit was God se besluit dat ons van mekaar sal verskil. Ons is nie altyd daarmee tevrede nie. Maar as koninkryksagente moet ons God dank vir wat Hy vir ons gegee het, want Hy het ‘n doel daarmee. Gebruik wat jy ontvang het. God sal jou nooit in die stryd stuur sonder om jou daarvoor toe te rus nie.
  • Wees getrou. As jy dink die Christelike lewe se vereistes is maar min en maklik, moet jy weer dink. Die eienaar in hierdie gelykenis het teruggekom en van hulle rekenskap gevra. Hy wil weet wat hulle met die muntstukke gedoen het. Elke gelowige moet God verheerlik deur sy koninkryksagenda uit te voer. Ons sê so graag nog net dit of dat, dan sal ons wegspring. Dit is nie revolusionêr nie – dit is gemaklik. Luister hoe reageer die eienaar as die slaaf sê dat hy die muntstuk begrawe het: Jy is ‘n slegte en lui slaaf!

Ons is koninkryksagente; ons behoort aan Hom; almal van ons het spesifieke gawes ontvang; wees getrou aan Hom.

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...