Die kruis van Jesus Christus (2)

image_pdfimage_print

 

The Great Commission means telling Christ’s story, not yours – Trevin Wax

 

Die kruis van Jesus Christus (2)

Ons het in die vorige blog gesien dat Paulus met die gemeente oor niks anders praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die Gekruisigde (1 Korintiërs 2:2). In die boodskap van die kruis kry ons twee kritiese eienskappe:

 

  • Die boodskap van die kruis verdeel mense absoluut (1:18 – 21)

Dit verdeel mense in mense wat verlore gaan en mense wat gered word. 1:18 maak die verdelingslyn tussen die twee groepe duidelik. Deur die kruis vernietig God die mens se aansprake op wysheid en geleerdheid. Hier kry ons ‘n sentrale tema van die Skrif: God trek mense na Hom toe, sodat hulle met vreugde en gehoorsaamheid erken dat Hy die middelpunt van alles is – Hy alleen is God.

 

Ons wil almal Nommer 1 wees; ons maak graag onsself die middelpunt van ons gedagtes en hoop. Ons is selfgesentreerd en tree op asof God aan ons verduidelikings verskuldig is. Maar ons is heeltemal onmagtig om ons sonde en versoening met God self te hanteer – God is egter magtig genoeg om dit te doen.

 

Die evangelie is nie goeie raad nie – dit is God se krag vir diegene wat glo. Om dit te beklemtoon, vra Paulus ‘n paar retoriese vrae (1:20):

  • Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Geen wysheid het blywende krag as die middelpunt daarvan nie die kruis is nie – as dit nie die mens met die lewende God versoen nie. Geen wysheid is belangriker as dit nie.
  • Waar die slim woordvoerder? Dit is die uitblinkers in retoriek. Vir hulle is die vorm net so belangrik as die inhoud. Maar die gewaande wysheid van die wêreld is dwaasheid/onsin.
  • Waar is die skrifgeleerde? Dit is die kundiges oor die wet van God – hulle ken die Bybel en al die tradisies. Vir die moderne geslag gaan godsdiens oor selfvervulling en persoonlike behoeftes.

 

Hoe doen God dit? Deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo (1:21). Dit verstaan die mens nie – hoe kan God besluit dat die wêreld nie deur geleerdheid tot Hom sou kom nie? Dit is nie iets wat die wêreld self sou kon uitdink nie. Die boodskap van die kruis verdeel mense absoluut.

 

  • God se swakheid oorskry mense se krag (1:22 – 25)

Paulus verdeel diegene wat verlore gaan in twee groepe. Hulle verteenwoordig die twee fundamentele vorme van afgodery van sy tyd – en eintlik van ons tyd ook.

  • Die Jode vra wondertekens

Sommige verwag ‘n teken sodat hulle Hom kan evalueer – hulle wil sy aansprake toets. Ek sal my aan die Here wy as Hy my kind gesond maak. Met ander woorde: ek stel voorwaardes; ek kom nie onvoorwaardelik na Hom nie.

  • Die Grieke soek wysheid

Hulle glo hulle kan alles verduidelik en in beheer van alles is.

 

Albei benaderings is baie selfgesentreerd. Daarom sê Paulus: Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin (1:23). Vir die Jode is ‘n kruisdood ‘n skandaal; vir Grieke is rede/denke en nie geloof nie belangrik. ‘n Gekruisigde held was vir hulle dwaasheid. Maar vir gelowiges is Christus die krag van God en die wysheid van God (1:24). Let op hoe hierdie vers begin: Maar vir dié wat deur God geroep is. Daarom is hulle anders as ander mense.

Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense (1:25).

 

Maar Paulus skryf nie net oor die mense wat die boodskap van die kruis verwerp nie. Hy skryf ook oor diegene wat die Boodskap van die kruis aanvaar. Daarna kyk ons volgende keer.

 

 

image_pdfimage_print