Die onvergeeflike sonde

image_pdfimage_print

 

All my hopes and comforts may be summed up by saying, I have a rich and gracious Savior.” —John Newton

 

Die onvergeeflike sonde

Die Bybel sê dat God altyd gewillig is om sondes te vergewe as ons dit bely. Maar daar kom ‘n tyd in ‘n mens se lewe waar daar nie meer omdraaikans is nie. Daarom waarsku Jesus dat daar ‘n sonde is wat nie vergewe kan word nie. Wat is daardie sonde?

 

Greg Laurie verwys na Psalm 86:5: U is goed, Here, U vergewe altyd weer, U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp. God is gewillig om te vergewe. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Johannes 1:9). Die ergste sonde ooit was Jesus se kruisiging, maar Hy vra sy Vader om hulle wat Hom gekruisig het, te vergewe.

 

Die enigste sonde wat God nie sal verlos nie, is die sonde wat ons nie bely nie. Daar is egter een uitsondering: die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie (Matteus 12:31). In hierdie gedeelte bring die mense ‘n man  wat in die mag van ‘n bose gees was na Jesus. Hierdie man was blind en stom. Jesus genees hom – hy kon hoor en sien. Die mense was verbaas en vra: Is Hy nie miskien die Seun van Dawid nie?  Die Fariseërs hoor dit en sê dat Jesus dit doen met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste. Jesus weet wat hulle dink en sê vir hulle dat ‘n koninkryk wat onderling verdeeld is nie sal bly staan nie. As die Satan dan die Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe kan sy ryk bly staan? Jesus sê vir hulle dat Hy deur die Gees van God bose geeste uitdryf. Daarom het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom. Hy sê dat ‘n mens tog net in ‘n sterk man se huis kan ingaan en sy goed plunder as jy hom vooraf vasgebind het. Jesus sê dan: Wie nie aan my kant is nie, is teen My;  en wie nie saam met My die skape bymekaar maak nie, jaag hulle uitmekaar. Daarna sê Jesus vir hulle: Elke sonde en lastering kan die mens vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie. As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie.

 

In hierdie gedeelte praat Jesus met die Fariseërs wat Hom gehaat het. Hulle was jaloers op sy toenemende gewildheid. Anders as hulle was Jesus vol liefde – die mense kon Hom verstaan en nader. Soos mense Hom meer en meer verstaan het, was hulle aangetrek na Hom. Die Fariseërs verheug hulle nie oor die man wat genees is nie, maar was kwaad. Hulle sê wat Jesus regkry, kry Hy reg met die hulp van die duiwel. In vers 37 lees ons: Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.

 

Laurie sê dat daar drie waarhede in hierdie gedeelte is waaraan ons aandag moet gee:

  • Ons moet na die kerk toe kom om God te aanbid en geestelik te leer. Daarom moet ons met ‘n gevoel van afwagting kom.
  • Moet nooit sommer net aanvaar wat God vir jou gedoen het nie. Moenie jou verlossing of jou gemeente of die woord van God of jou geloofsvryheid sommer net aanvaar nie.
  • In plaas daarvan dat ons die Heilige Gees weerstaan, moet ons met die Heilige Gees gevul word. Ons moet altyd onthou dat daar ‘n tyd sal kom, en ons weet nie wanneer nie, en ‘n plek, en ons weet nie waar nie, wanneer ‘n mens se lot verseël sal word

 

Maar ons kan nou stop. Moenie teen die Heilige Gees laster en Jesus Christus verwerp nie. Hou op sondig.

 

image_pdfimage_print