Die seënuitsprake van Jesus (10)

image_pdfimage_print

Die seënuitsprake van Jesus (10)

In die begin van die bergrede lees ons dat Jesus teen die berg opgegaan het, gaan sit het en Hy het hulle geleer:

Geseënd is dié wat geestelik arm is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Geseënd is dié mense wat treur, want hulle sal die aarde erf.

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

 Geseënd is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.

Geseënd is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang.

Geseënd is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.

Geseën is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Geseënd is die mense wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Matteus 5:3 – 10 (Nuwe Testament en psalms , Direkte Vertaling. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. (2014).

Colin S. Smith het ‘n baie interessante boek geskryf oor die seënuitsprake van Jesus: Momentum -Pursuing God’s Blessings Trough the Beatitudes (2016).  Die boek sê wat ons kan doen om die momentum in die Christelike lewe wat ons almal soek, te kan kry. Ek gaan ‘n hele paar blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Vandag kyk ons na die derde seënuitspraak van Jesus: Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

Waaraan dink jy as jy hoor iemand is sagmoedig: praat hy saggies of het hy ‘n pap handdruk of het hy nie veel ruggraat nie? Wat is die sagmoedigheid wat Jesus hier aanbeveel? Hoekom is sagmoedigheid nodig om te vorder op die pad van die Christelike lewe?

 

In Latyn is ‘n ‘meek man” ‘n mansuetus genoem. Dit is ‘n samestelling van twee woorde. (manu = hand en assuetus = gewoond aan). ‘n Perd wat nog nie ingebreek is nie, is nie gewoond aan die hand nie. As die perd gewoond aan die hand is, word sy wilde passies onderdruk; sy krag word onder beheer gebring en die dier ondervind vrede. Die Bybel vergelyk ons gevalle menslike natuur met dié van wilde diere . God sê sy eie mense was soos ‘n wilde donkie en ‘n rustelose kameelkoei (Jeremia 2:23 – 24). Dit sê vir ons dat ons van nature wilde diere is. Ons het krag, maar dit is nie beheer nie. Ons energie word onproduktief gebruik. As ons bruikbaar vir God wil wees, moet ons “gewoond aan die hand” word. Ons wilde passie moet onderdruk word, jou krag moet reg gebruik word en jy sal vrede ondervind. Sagmoedigheid is beheerde krag. Dit beheer die humeur, onderwerp die self en kalmeer die passie en bestuur die impulse van die hart. Dit bring orde na die chaos van ons harte.

Die sagmoedige persoon word gekenmerk deure nederigheid, geduld, vergewensgesindheid, en is tevrede. Sagmoedigheid is die manier waarop God ons verlos van hoogmoed, aggressie, wraak. Jesus roep ons na iets wonderlik hier. Dink net wat beheerde krag in jou lewe kan doen om meer sagmoedig te word. Dit sal jou impulsiwiteit beheer en jy sal beheer oor jou kwaadword  hê. Dit sal beïnvloed hoe jy praat en jy sal tevrede wees. Jy sal vrede ondervind as jy gewoond word aan die hand van God. Belangriker is dat jy vir God bruikbaar sal word.

 

Sagmoedigheid is die gevolg van onderwerping

Sagmoedigheid is krag wat deur onderwerping onder beheer gebring word. Dit is eers as die wilde perd hom aan die stang en toom onderwerp dat hy ‘n wedren kan wen. Jy wen net as jou krag onder beheer gebring word. Hoe lyk dit as jy jou aan God onderwerp?

 

  1. Jy onderwerp jou aan God se woord.

Daarom moet julle ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want die woord kan julle red (Jakobus 1:21) Om God se woord met sagmoedigheid te ontvang, beteken dat jy jou onder gesag van die woord plaas. Jy laat toe dat God vorm wat jy glo en rig wat jy doen. ‘n Gemeente waar die Bybel waardeer word en duidelik onderrig word, is ‘n wonderlike plek om te wees. Deur die woord word ons lewens gevoed en groei ons. Baie mense wil die reg voorbehou om die woord te hoor, maar dan self te besluit wat hulle wil glo.

  1. Jy onderwerp jou aan God se wil

Soms plaas God jou op ‘n plek wat jy self nooit sou gekies het nie. Dink aan Getsemane waar Jesus bid: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil (Matteus 26:39). Dit is sagmoedigheid. Dit het gelei tot die kruis dit is waarna Jesus ons oproep as Hy sê: Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

  1. Onderwerp aan God se mense

Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig (Efesiërs 5:21). Onderwerping aan God se mense is nog moeiliker as onderwerping aan God se woord en wil. Hierdie onderwerping aan God se mense is ‘n teken van mense gevul met die Heilige Gees. In ons Westerse kultuur beweeg onafhanklike, outonome selfgerigte mense van die een kerk na die ander. Hulle onderwerp hulle aan niemand nie. Hoe kan jy jou onderwerp as jy nie lidmaat van ‘n gemeente is nie. Sagmoedigheid groei deur die dissipline van toegewyde verhoudings.

Ons moet ‘n onderskeid tref tussen onderwerping aan God en ons onderwerping aan sy mense. Ons onderwerp ons altyd aan God – nooit andersom nie. Onderwerping aan God se mense beweeg in twee rigtings – soms gee ons en soms ontvang ons. Daar is geen perke of grense aan ons onderwerping aan God se woord en sy wil nie., maar daar is perke aan ons onderwerping aan God se mense. ‘n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense (Handelinge 5:29). Ek moet luister na wat ander sê en daaroor nadink, veral as ek glo dat ek reg is en dat hulle verkeerd is.

Volgende keer gaan ons na voorbeelde van sagmoedigheid in bekende Bybelfigure kyk.

image_pdfimage_print