Die Tien Gebooie: Vertrou op God se voorsiening

image_pdfimage_print

Every Christian is either a missionary or an imposter – Charles Spurgeon

 

Die Tien Gebooie: Vertrou op God se voorsiening

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 Jy mag nie steel nie (Eksodus 20:15).

 

Calvyn sê dat ons reg en geregtigheid aan ons naaste verskuldig is, want hy is ook ‘n beelddraer van God. Die Bybelse siening is een van verantwoordelikhede en nie een van regte nie. Die tien gebooie spel uit wat ons ons naaste skuld en nie wat ons van hom kan verwag nie. Van ons word verwag om ons naaste se reg op privaat eiendom te respekteer. As dit ‘n misdaad is om iets van iemand te steel, het daardie persoon tog die reg om daardie ding te besit.

 

Maar daar is ook ‘n ander beginsel te sprake: God is soewerein oor alles wat Hy gemaak het. Ons is dus in werklikheid nie eienaars nie, maar rentmeesters. Om te misluk in ons rentmeesterskap beteken in werklikheid dat ons van God en ons naaste steel.

 

Hoe oortree ons dan hierdie gebod? Luther sê ons oortree die gebod as ons ons naaste uitbuit – iets wat tot ‘n verlies vir hom lei. Ons steel nie net as ons iemand se besittings vat nie, maar as ons hom in besigheid uitbuit. Luister na Luther: “If we look at mankind in all its conditions, it is nothing but a vast, wide stable full of great thieves.” Hy verwys hier onder andere na swendelaars. Hierdie is dikwels gesiene mense in ons samelewing.

 

Die Heidelbergse Kategismus sê: God verbied nie slegs die diefstal en roof wat die owerheid straf nie, maar Hy beskou ook as diefstal al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry. Dit kan gebeur met geweld of ‘n skyn van reg, soos vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere, geld, deur woeker of enige middel wat God verbied. Hy verbied ook alle gierigheid en alle misbruik en verkwisting van sy gawes. Die Heidelbergse Kategismus stel dit ook positief: Ek moet die belange van my naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil hê dat hy my moet behandel. Daarby moet ek ook my werk getrou doen, sodat ek behoeftiges in hulle nood kan help.

 

Dit gaan dus in hierdie gebod nie net oor diefstal nie. Ons kan natuurlik op verskillende maniere steel – bedrog, buitensporige krediet (ek koop dinge wat ek weet ek nooit sal kan betaal nie), buitensporige pryse vir goedere (ons glo solank iemand bereid is om die prys te betaal, is alles reg), deur goedkoop arbeid te gebruik – veral kinders, ens. Luther het gesê dat ‘n Christen skoenmaker ‘n goeie skoen moet maak en dit teen ‘n billike prys moet verkoop. ‘n Moderne metode van steel is deur buitensporige rente te vra.

 

Steel is dus ‘n veel breër begrip as wat ons normaalweg dink.

image_pdfimage_print

You may also like...