DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 1 (3) – Dionne Craffort

image_pdfimage_print

HOOFSTUK  1 (vervolg)

GOD SE WIL GEOPENBAAR.

God se openbaring aan Israel en die profete

  Teen 2000 v.c. het God ‘n verbond gesluit met Abraham en hom na die beloofde land laat trek. Met Abraham het God Hom op ‘n besondere manier bemoei.Ons sien dit in sy roeping, die beloftes wat God aan hom maak, en die verbond wat God met hom sluit. { Gen. 12 –17}. As verbondsteken stel God die besnydenis in sodat Abraham en sy se openbaring deur Israel  en die profete. nageslag  altyd herinner sal word aan hulle blywende verbintenis tot God en aan God se eis dat hulle die verbond moet nakom.{Gen. 17:9-15}.

  Teen 1445v.c. het die uittog uit Egipte plaasgevind en by Sinai sluit God ‘n besondere verbond met Israel deur sy kneg Moses en die tien gebooie word aan die volk geskenk. So word die tien gebooie die eerste opgetekende woorde van God aan sy volk. Daarna het die God van Israel Hom oor meer as 1000 jaar in die geskiedenis en deur die profete as die enigste ware God bekendgestel. Hierdie kennis moes deur Israel ook na die nasies vloei. Die hoogtepunt van God se selfopenbaring sou egter eers plaasvind in die menswording van Jesus Christus. Toe het God se ewige bedoeling met die mens as sy verteenwoordiger op aarde eers werklik duidelik geword.

Die openbaring van God in die natuur, die geskiedenis en in die gewete van die mens.

Voordat die openbaring in woorde na die mens gekom het, kon hy tog iets van God se grootheid in die natuur aanskou. Magtige natuurverskynsels en wondere in die diere- en planteryk het mense van oertye af al tot aanbidding gedryf. Dit het gelei tot aanbidding van natuurverskynsels en later van vele natuurgode. Denkers en priesters in baie kulture het mettertyd tot die insig gekom dat agter al die natuurverskynsels daar ‘n Oppergod moet wees wat alles geskep het en nog onderhou en bestuur. Dit was slegs deur God se selfopenbaring aan mense soos Abraham, Moses en die profete dat die kennis van die een Skeppergod wat alles deur sy Gees bestuur in Israel gegroei het en eindelik tot die nasies deurgedring het.

  God kan dus uit sy handewerk in die natuur aan mense op ‘n bepaalde manier bekend word. Soos ‘n goed ontwerpte motor getuig van die vaardighede van sy ontwerpers,so getuig die skepping van die almag van God. Hoe meer bekend word van die oneidige ruimtes en onmeetbare kragte in die skepping, hoe groter word die beeld van die Skepper van die alles. In Rom. 1:20 sê Paulus: “Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is,hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie”. Geen mens kan hom dus self verontskuldig dat hy hoegenamd nie van God geweet het nie. Tog sê Paulus dat hierdie kennis sondige mense nie bring tot diens aan die onverganklike God nie, maar tot die aanbidding van afgode. { Rom.1:22}.

  Calvijn aanvaar ook dat daar by alle mense ‘n natuurlike gevoel is dat God bestaan. Dit kan hulle egter nie bring tot ware kennis van God se wil nie.Hulle verstand is so verduister deur die sonde dat hulle harte fabrieke van afgode word eerder as dat hulle oorgaan tot diens aan die een ware God.Sy konklusie is dat mens slegs deur die besondere openbaring soos vervat in die Heilige Skrif tot ware kennis van God en sy wil kan kom.  Dit is dus duidelik dat alhoewel die spore van God in die natuur sigbaar word, sy wil vir die mens en die wêreld nie daaruit afgelei kan word nie.

   God se bestuur van die wêreld kan ook in die geskiedenis ontdek word. Die natuurgeskiedenis sowel as die wêreldgeskiedenis en die kerkgeskiedenis getuig telkens van onverwagte wendinge wat op niks anders dui nie, as dat God ook op een of ander wyse sy wil ook op die geskiedenis afdruk.Tog is dit so dat geloof ten grondslag moet lê aan so ‘n interpretasie van die geskiedenis. Die rede hiervoor is dat God aan mense groot vryheid van optrede toelaat. Mense kan tot ‘n groot mate hulle eie geskiedenis maak. Dit is egter meeste van die tyd ‘n selfsugtige geskiedenis wat die merktekens van die sonde dra en dus weinig kan vertoon van die wil van God.Tog is dit God wat uiteindelik sy doel met die geskiedenis bereik. Israel moes veertig jaar in die woestyn ronddwaal maar het uiteindelik tog die beloofde land bereik soos God beloof het. Mense van Oos – Europa moes vir langer as ‘n halfeeu ly onder die juk van kommunisme maar wanneer die tyd ryp is, stort dit in duie. Uiteindelik sal die wil van God altyd seëvier in die geskiedenis ten spyte van die sondige stempel wat die mens daarop afgedruk het.

  God se teenwoordigheid in die geskiedenis is dus nie in elke gegewe gebeurtenis sigbaar nie. Die teenwoordigheid van sondige mense is egter deurgaans sigbaar. As ‘n mens egter kyk deur ‘n geloofsoog, sien jy dat mense wik maar dat God uiteindelik beskik. Die geskiedenis getuig wel van God se beskikking en van sy verlossende ingryping in talle momente van die geskiedenis. Tog kan die geskiedenis ons nie tot voldoende kennis van die wil van God bring nie, omdat dit te veel deurspek is van die sondige motiewe van mense.

   Calvijn aanvaar verder dat daar ‘n kern van godsdienstigheid in elke mens is en dat dit tot uiting kom in die gewete van mense.Dit bring mee dat daar ‘n algemene gevoel is van wat reg is en wat verkeerd is en dat daar by alle mense ‘n algemene moraliteit in een of ander vorm is. Die mate waarin God in die gewetes van mense werksaam is,veroorsaak dat die wêreld nie in ‘n totale moeras van geweld en onsedelikheid verval nie. Maar nou leer die ervaring ons dat sondige mense baie goed daarin slaag om die stem van die gewete te onderdruk.  Dit verklaar waarom hulle die wil van God nie bloot op grond van die stem van hulle gewete kan ontdek nie. Die stem van die gewete word dikwels oordonder deur baie ander stemme wat die mens weg van God af lei. Tog is dit ook so dat baie mense onder aansporing van hulle gewete tog streef na die goeie. Van hulle sê Paulus: “ Wanneer heidene, wat nie die wet het nie,tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself ‘n wet al het hulle nie die wet nie.. Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan. Ook hulle gewetes getuig daarvan wanneer hulle in ‘n innerlike tweestryd deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek word”. ( Rom.2:14,15).

   God se werking in die gewetes van mense kan dus die uitwerking van die sonde teenwerk. Die mens se gewete kan hom egter ook nie bring tot die ware kennis van God nie. Die enigste plek waar mens dus die wil van God vir jou eie lewe, vir die mensdom en vir die wêreld te wete kan kom, is in die geopenbaarde Woord van God. Na hierdie aspek moet ons vervolgens kyk.

Skrywer:  Prof Dionne Craffort

image_pdfimage_print

You may also like...