Ek cope nie meer nie: Hoe ek opgevoed is – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

My persoonlike opvoeding en lewenstyl

Om te sê dat persoonlikhede verskil, is goed en wel, maar ons kan ook sekere maniere van optrede aanleer. Ons moet nie maak soos die man wat dokter toe is nie. Hy vra die dokter wat makeer en die dokter sê: “Alkohol is jou probleem.”

“Dankie tog,” sê die man. “My vrou sê die hele tyd ék is die probleem.”

Jy moet nou nie te gou sê nie: “Dankie tog, dis die chemiese wanbalans in my brein of oorerwing of my persoonlikheid.” Dan is ons soos die seuntjie wat sy ma antwoord wat sê: “Hou op om die kat se stert te trek” met die woorde: “Ek trek nie. Ek hou net; dit is die kat wat trek.”

Ons ontken dat ’n groot deel van die probleem eintlik by onsself lê, wat eintlik al by ons kinderdae en opvoeding begin.

Party mense het nie gelukkige kinderdae gehad nie en dit laat gewoonlik permanente letsels op daardie persoon se lewe. As jy hom vra of hy ooit die dag van sy geboorte sal vergeet, sal hy sê: “Natuurlik nie, ek het soos ’n baba gehuil,” en die trane vir sulke ongelukkige kinders sal vir lank nog aanhou.

’n Kind is weerloos en daarom baie afhanklik van sekuriteit. Hy moet veilig voel. Die onbekende of vreemde hou ’n groot bedreiging in. Daarom klou kinders gewoonlik aan hulle ma se rokspante vas as ’n vreemde oom aankom of huil as hulle skool toe moet gaan. Dink maar aan die hartverskeurende gehuil in ’n winkel as ’n klein dogtertjie dink haar ma is weg. Om daardie sekuriteit van ’n kind weg te neem is so goed as om die fondamente onder ’n huis uit te grawe. Daardie huis gaan val, tensy daar allerhande stutpale bykom om die mure regop te probeer hou. So ontwikkel ’n kind ook “stutpale” of meganismes om hom met die situasie van onsekerheid en bedreigdheid te laat cope. Dit is die manier waarop die kind leer om aan die gang te bly. Net soos “stutpale” onnatuurlik in ’n huis is wat eintlik op fondamente moes staan, so is die meganismes wat die kind ontwikkel gewoonlik ook nie normaal nie, en neig om negatief te wees.

Kom ons kyk na ’n voorbeeld om te illustreer wat ons bedoel:

Iemand laai sy kind by ’n vreemde dagmoeder af sonder om hom mooi voor te berei sodat hy daar veilig voel. Die arme kind voel alleen en die dagmoeder het ook nie die geduld om die kind wat so skreeu heeltyd te pamperlang nie. Dan begin die kind ander afknou. Die dagmoeder praat mooi én raas, maar dit help min. Om ’n lang storie kort te maak, hierdie kind leer om te cope deur sy aggressie. Hy voel bang en onseker. Op een of ander manier moet hy op hierdie snaakse, slegte gevoel binne-in hom reageer. Gou kom hy agter dat om ander af te knou die nodige reaksie by die dagmoeder uitlok. Sy skreeu en raas, maar die negatiewe aandag is beter as die gevoel van onsekerheid en alleenheid. Hy kry ten minste aandag. Volgens hom werk die resep baie goed. Hy kry wat hy wil hê.

So word ’n negatiewe lewenspatroon gevestig: voel ek alleen of bedreig, reageer ek aggressief. Die negatiewe reaksie en aandag van ander op my aggressie oordonder my gevoel van onsekerheid so ’n bietjie. Die patroon dra ek dan met my saam. In my huwelik word ek die geitjie as die gevoel dat ek nie cope nie by my begin opbou. Ek wil my man of kinders nie regtig kwaad maak nie, maar ek kan nie help nie. Dit is byna of dit al manier is waarop ek ontslae kan raak van die slegte, bang gevoel dat ek nie cope nie. Wat ek nie altyd besef nie, is dat die negatiewe, bakleierige gedrag van my juis soos ’n sirkel werk. Ek voel ’n klein rukkie beter, maar die skade wat ek met my baklei en stry aangerig het, veroorsaak uitein­delik dat die stres meer word. My gesin is nie meer so gelukkig nie en dit gee my verder die gevoel van hopeloosheid en angs. Wat ’n bose kringloop! Die ergste is dat ek nie eers weet dat hierdie negatiewe patroon soos ’n rekenaarprogram in my ingeprent is nie. Al wat gaan help, is dat ek dit besef en daarvan ontslae moet raak. Ek moet die negatiewe program uitvee en ’n nuwe program skryf.

Laat ons ’n ander reaksie op bogenoemde voorbeeld neem:

My ma wil my by vreemde mense los, maar ek wil niks weet nie. Om my te uitoorlê bied die mense vir my ’n lekker of heerlike poeding aan. As ek my oë uitvee, is my ma weg. Ek kom agter dat mense nie is wat hulle sê hulle is nie … nie eers my ma nie. Hulle laat ’n mens maklik in die steek. Nou ontwikkel ek ’n meganisme om my te beskerm teen die seer-maak. Ek vertrou mense net nie meer so maklik nie en dit word my lewenshouding. Voor ek hulle nog ’n kans gegee het, wantrou ek hulle al en begin ek my bekommer oor wat ek gaan doen as dinge skeef loop. Ek kry daardie tipiese “bobbejaan agter die berg”-houding. Dit laat my eenvoudig moeiliker cope, want ek moet gedurig met daardie bobbejane agter die berg stoei, terwyl dit die meeste van die tyd nie regtig nodig is nie.

’n Laaste voorbeeld is die pa wat vir sy kinders sê hy is sesuur by die huis. Van halfses af sit hulle skoon gewas regop op die muurtjie vir hom en wag. Vir hulle voel dit soos ’n ewigheid voor sesuur uiteindelik slaan … en dan word dit vyf oor ses  … kwart oor ses … halfsewe … Paniek pak gewoonlik daardie kinders beet. Hulle sien hulle pa dood lê langs ’n opgefrommelde motor … of aan die verkeerde kant van skakers se rewolwer. ’n Mens dink mos altyd die slegste. Hoe later dit word, hoe banger word hulle. Sewe-uur kom die pa niks­ver-moedend daar aan. Hy besef nie altyd wat gebeur het nie. ’n Rukkie later gebeur dit weer en die arme kinders loop weer dieselfde pad van paniek. Om te cope probeer hulle hulleself beskerm deur allerlei meganismes. Dit kan wees dat hulle afstomp in hulle verhoudings of heeltemal terugtrek omdat hulle nie hulle paniek wil erken nie, maar eerder dood wil ignoreer. Dan word hulle groot en hierdie negatiewe gedrag is al manier waarop hulle in moeilike situasies kan cope. Die gevolge is swak verhoudings of stil huwelike waar die partye vir lang tye terugtrek en nie met mekaar praat nie. So probeer hulle met die situasie cope op die manier waarop hulle van kleins af staatgemaak het. Weer is dit nie regtig cope nie, want sulke negatiewe gedrag veroorsaak meer probleme as wat dit oplos.

Die manier waarop ek my kind hanteer en opvoed, is dus belangriker as wat ’n mens dink. In die opvoedingsproses leer die kind die spel van die lewe speel; leer hy wat reg of verkeerd is. Die ouers leer die kind hoe om na dinge te kyk en daaroor te voel; wat om te glo en wat nie; hoe om te cope of nie.

Die opvoedingsproses is belangrik

Neem bogenoemde voorbeelde. In elke geval het die kind gevoel hy word in die steek gelaat. Dit maak hom onseker en bang, want ten minste tot op die ouderdom van vier jaar is die kind emosioneel uiters afhanklik van sy ouers, juis omdat hy so weerloos voel. Die realiteit van God wat by ons is, kan hier egter ’n groot rol speel. ’n Ateïs het nie ’n onsigbare ondersteuningsisteem nie, maar ’n Christen wel. As die kind van kleins af leer dat Jesus daar is en vir hom lief is, al gebeur wat, kan dit ’n groot verskil maak. Dit kan die kind ook die sekuriteit gee wat hy nodig het as dit nodig raak. Maar dan moet die kind dit ook in die lewe van sy ouers kan sien. Die kind moet leer dat Jesus vertrou kan word. Om aandag aan die godsdienstige ontwikkeling van jou kind te gee is dus nie tydmors of ’n luukse nie. Jy lê patrone vas wat goeie en positiewe gevolge vir die res van sy of haar lewe kan hê.

Ouers moet dus versigtig wees wat hulle hulle kinders leer. Die manier waarop jy jou kind hanteer en voor jou kind optree, kan patrone vestig wat dit later vir die kind moeilik maak om self in die lewe te cope.

Daar word tussen verskeie opvoedingstyle onderskei wat gewoonlik sekere letsels op kinders laat en dit vir hulle in hulle latere lewe moeiliker maak om te cope. Dit is belangrik om daarvan kennis te neem. Enkele van die belangrikste style word kortliks bespreek.

Die dominerende ouer

Daar is die ouers wat dink dit is goeie maniere as ’n kind op die meeste gesien word, maar nie gehoor word nie. As die ma die opinie van haar kind wil hoor, sal sy sommer self die opinie namens haar kind gee. Dit is slegte maniere van die kind om vir homself iets te vra of om nee te sê as hy nie iets wil hê of doen nie. Die ouers mag miskien ’n rukkie trots wees op hulle “stom” kind wat so goed geleer is om te doen wat hulle wil hê. Die ergste is dat die Bybel dikwels gebruik word om die kinders só onder die duim te hou. Hulle beklemtoon dat kinders hulle ouers moet eer en gehoorsaam, asof dit die kinders die slawe van die ouers maak.

Die wonde wat so in die kinders se lewe geslaan word, begin dikwels eers bloei as die kinders groter word. Die kinders is teruggetrokke en bang om hulle sê te sê. Ons dink dan hulle is skaam, maar eintlik is hulle bang. Hulle kry die gevoel dat hulle nie regtig tel of ’n verskil kan maak nie. Dit laai stres op en uiteindelik mond dit op die gevoel uit dat die persoon nie cope soos hy moet nie.

Sulke mense is ook gewoonlik meer afhanklik van ander, want hulle het nie geleer om hulle eie opinie uit te druk of te formuleer nie. Alte gou word so ’n persoon besluiteloos en weet nie hoe verder nie. Ander moet maar besluite namens (en vir) hom neem. Gewoonlik ly dié persone ook aan ’n spraakgebrek: hulle kan nie “nee” sê nie en moet dus dikwels dinge doen wat hulle eintlik nie wil nie. Dit alles bou stres op tot die persoon later nie meer kán nie, en allerhande angs­toe­stande ontwikkel.

Die oorbeskermende ouer

Daar is ook ouers wat hulle kinders op ’n oordrewe manier wil beskerm. Die kinders word teen alles en nog wat gewaar-sku: “Oppas vir dit of dat”; “Moenie aan dit vat nie”; “Wees versigtig vir sus of so”; en so gaan hulle aan. Sulke ouers besef nie dat hulle so vir hulle kinders ’n negatiewe idee van die wêreld oordra nie. Wat die kind deur die oë van sy ouer sien, is ’n buitewêreld wat gevaarlik en onvriendelik is. Dis ’n plek waar ’n mens nie eintlik tuishoort nie, want alles daarin is vyandig en kan jou seermaak. Jy moet die hele tyd oppas en versigtig wees vir goed wat jou kan seermaak, hap of byt, steek of pik en wat nog alles. Die wêreld is nie daar om te geniet en te ontdek nie. So word ’n oorversigtige wêreldbeeld aan die kind oorgedra. Dit inhibeer die kind heeltemal, want hy is ingeprent dat daar net een veilige plek is en dit is aan die ma se rokspant.

En dan word die persoon groter en ma se rokspant is nie meer daar nie. Die mens wat agterbly, is gewoonlik geneig om hom oor alles te bekommer en die slegste in alles te soek. Dis byna soos ’n sielkundige se diagnose: daar’s niks wat jy het wat hy nie tien maal kan vererger nie. Sodra die geringste verkeerd loop, sê hy: “Sien jy hoe gevaarlik … jy moet liewers nie.” Dis ’n mens uit op verdediging; iemand wat teen die lewe stry; iemand wat bang is vir alles. Van onderne­mingsgees en positiewe belewing van die wêreld is daar min sprake. Dit is onnodig om te sê dat dit vir so ’n persoon moeiliker is om te cope as vir ander.

Die oorkritiese ouer

Oorkritiese ouers stel sulke hoë eise aan die kind dat hy voel hy is nie goed genoeg nie, behalwe as hy perfek is. Daar word altyd gekritiseer: “Jy kan beter”, “Dit was goed, máár jy het weer dit of dat verkeerd gedoen”, en so aan. So leer die kind dat die lewe ’n plek is waar hy nooit eintlik goed genoeg kan wees nie. Deur die oë van die ouers lyk die prentjie egter anders: hulle regverdig hulleself deur te sê dat hulle wil hê hulle kind moet sy volle potensiaal ontwikkel, want hulle weet daar steek meer in hom as wat hy wys. Sy 60% op skool moet eintlik 70% wees. Die meneer wat hom in die tweede span sit, trek ’n ander seun voor en sien nie eintlik regtig sy poten­siaal raak nie. Die kind word dan onder druk geplaas om meer en beter te presteer.

Dit is amper soos die hond wat krieket gaan speel het. Hy het een ses na die ander geslaan. Die omstan­ders kon hulle oë nie glo nie: ’n Hond wat so ongelooflik krie­ket kan speel? Hulle het hulle lof vir die eienaar van die hond nie gespaar nie: “Jy is seker baie trots op die hond van jou?”

“Ja,” sê die eienaar. “Maar sy ouers is nie so trots op hom nie. Hulle wou eintlik gehad het hy moet sokker speel.” Ouers kan by die wonderlike talente van hulle kinders verby kyk en op ’n kritiese manier na ander soek. Nooit voel die kind hy is wat die ouers wil hê nie. Dit maak die kind onseker van sy eie aanvaarbaarheid.

Hy wil nie eintlik deelneem aan dinge nie, want hy is bang hy stel sy ouers teleur; hy is bang hy is nie “goed genoeg” nie. Die fokus in die kind se lewe word ’n konstante poging om sy ouers tevrede te stel en hulle aanvaarding te soek. Daarom probeer hy situasies vermy waarin hy voel hy nie gaan wen of “foutloos” lyk nie.

Wat leer daardie kind? Hy moet heeltyd vir aanvaarding veg; hy moet altyd “gaaf wees” en “goed lyk”, want hy is alleen “goed” as hy dit in ander mense se oë en volgens ander mense se maatstawwe is; en dit gewoonlik ten koste van homself. Selfs dan loop hy gevaar om nie die paal te haal nie. Daarom het hy gewoonlik ’n lae selfbeeld. Hy verwag dat almal hom gaan beoordeel en kritiseer en dit maak hom bang vir die vernedering. Daarom soek hy liewer net een “veilige” vriend of vriendin uit. Hy hou nie baie van groepe nie, want daar moet hy “presteer”. Verwerping en kritiek sny by hom baie dieper as by ander. In ’n sekere sin hardloop hy dus ’n bietjie weg vir die lewe. En as hy nie kan weghardloop nie, is hy iemand wat na ander se pype dans.

Die prentjie wat so ontvou, teken iemand vir wie die lewe moeiliker is as vir ander. Die eise om regtig te cope is hoër en die persoon voel makliker dat hy nie slaag nie.

Die liefdelose ouer

’n Mens moet ook versigtig wees om jou kind nie emosioneel te knak deur een of ander vorm van swak behandeling of selfs misbruik nie. Deur onvoorspelbaar op te tree (wat soms met drankmisbruik, te veel pille of emosionele wisselinge saam­hang), deur jou kind die hele tyd sleg te sê of te beskreeu en sy behoeftes te ignoreer, of hom laat voel hy word verwerp (as jy ’n bietjie moeg is en voel of jy die kind nie meer wil sien nie) of erger – en byna ondenkbaar – seksuele teistering wat letsels op jou kind kan laat wat nooit genees nie.

Sulke emosioneel geteisterde kinders probeer ook maar hulleself handhaaf: hulle ontwikkel maniere om te probeer cope. Ongelukkig is die maniere waarop hulle probeer cope nie altyd die regte maniere nie. Soms is hulle geneig om na uiterstes te beweeg. Hulle sal maklik na drank of dwelms draai, of vriende soek waar hulle aanvaar word, al is die prys hoe hoog om deel van daardie groep te wees. Hulle sal deur hulle klere­drag en houding ’n stelling maak wat elke moederhart sal laat ril. Sommige kies ’n ander oordrewe pad, naamlik die godsdienstige pad. Hulle word hipergodsdienstig, ver verby die punt van oordrewenheid. Dit gee vir hulle die gevoel van veiligheid en help hulle om al die seer van die lewe weg te redeneer.

Vir sulke mense is die lewe een groot poging om te cope. Dit kon so anders gewees het as dit nie vir die ouers was nie.

Bogenoemde is slegs ’n poging om enkele maniere waarop ouers hulle kinders grootmaak so ’n bietjie te omskryf en te klassifiseer. Die werklikheid is natuurlik dat die maniere eintlik deurmekaarloop en dat geen ouer sy kind net op die een of die ander manier grootmaak nie. So ’n bietjie van elkeen kom gewoonlik voor, hoewel daar dikwels een dominante wyse is wat die ander oorskadu. Wanneer die dominante wyse oor­dr­e­­we en te erg raak, kom die probleme.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print