Die Tien Gebooie: Goeie nuus vir mense wat die wet breek

image_pdfimage_print

When sin becomes bitter, then Christ becomes sweet – Thomas Merton

 Die Tien Gebooie: Goeie nuus vir mense wat die wet breek

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo (Romeine 1:16 – 17).

Hiermee verklaar Paulus sy eie vertroue in die Christelike boodskap. In die wet word die geregtigheid van God geopenbaar – dit  verdoem al ons aansprake op geregtigheid. In die evangelie word die geregtigheid van God as ‘n gawe geopenbaar. God wys vir ons in die wet wat ons moet doen om gered te word, maar terselfdertyd gee Hy aan ons die status van volkome heiligheid – dit kry ons net in die evangelie.

 

Die slegte nuus: Daar rus ‘n vloek op elkeen wat nie hierdie wet onderhou nie en nie daarvolgens lewe nie (Deuteronomium 27:26). Paulus begin sy brief aan die Romeine deur te verduidelik dat die Jode deur die wet veroordeel is en die heidene deur ‘n wet wat op hulle gewetes deur die skepping geskryf is, veroordeel is. Daarom sê Paulus: Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie … almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie (Romeine 3:9 – 12). Sy gevolgtrekking is duidelik: Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is (3:20).

 

Die goeie nuus: Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus  (3:21 – 24). Luther sê: Terselfdertyd vrygespreek en sondig. Ons eie prestasie is dus van geen waarde nie.

 

Die evangelie, anders as die wet, is nie iets wat ons met ons rede of uit die natuur kan leer nie. Daarvoor het ons ‘n openbaring van God nodig en dit kry ons in sy Woord. In Christus ontvang ons ‘n nuwe lewe wat lei tot geregtigheid en gehoorsaamheid wat uit ‘n hart wat vernuwe is, vloei. Ons noem die heiligmaking. God spreek ons nie alleen vry nie – Hy maak ons heilig.

 

Die Heidelbergse Kategismus vra die vraag: Waarom laat God die Tien Gebooie dan so streng aan ons voorhou as niemand dit tog in hierdie lewe kan onderhou nie? In die antwoord word twee redes genoem:

  • Sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken, en met groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan soek.
  • Ons moet ons sonder ophou beywer en God om die genade van die Heilige Gees bid, sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word totdat ons na hierdie lewe die volmaaktheid as doel bereik.

 

Dit is duidelik uit hierdie reeks  dat die Tien Gebooie vir ons steeds belangrik is. Ons moet ook let op Jesus Christus se interpretasie van hierdie gebooie – veral in sy bergrede. Ons sien dat Hy die toepassing van hierdie gebooie uitgebrei het.

 

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...