Engele in die Bybel (1)

image_pdfimage_print

Engele in die Bybel (1)

In die Bybel lees ‘n mens gereeld van engele – hemelse wesens wat deur God vir verskillende take gebruik word.

Agtergrond

In die tyd van die Bybel het mense aan God en die hemelse wêreld as ‘n koninklike hofhouding gedink. Die Here was vir hulle die Grootste Koning wat ‘n mens vir jouself kon voorstel. Net soos aardse konings wat raadgewers, soldate, boodskappers en ‘n klomp ander ondergeskiktes in sy diens gehad het, het Hy in sy hemelse hofhouding ook goddelike wesens in sy diens gehad. Een van die mooiste voorbeelde hiervan kry ‘n mens in Psalm 89. In die eerste deel van hierdie psalm is daar gedagtes wat baie ver in Israel se geskiedenis teruggaan. In dié gedeelte sing die digter oor hoe wonderlik die Here is. Dit gebeur op aarde, maar ook in die hemel – waar God in die hemelse vergadering is. Só word dit in Psalm 89:6-9 beskrywe:

Die hemel loof u wondermag, Here,

die hemelinge loof u trou.

Wie in die hemel kan met die Here vergelyk word?

Wie onder die hemelwesens is soos die Here?

Hy is God, vir Hom het die hemelse vergadering ‘n heilige ontsag.

Hy is magtig, gevrees onder almal rondom Hom

Here, almagtige God, wie is soos U?

U krag is groot, U trou is oral!

In hierdie verse kan ‘n mens agterkom dat die digter aan God dink as ‘n Koning met ‘n groot hemelse vergadering rondom Hom. Hy noem spesifiek die hemelinge, hemelwesens en ‘n hemelse vergadering.

 

Een van die ander psalms, Psalm 82, is nog ‘n goeie voorbeeld waar ‘n mens dieselfde soort gedagtes kry. Om dié psalm te verstaan, moet ‘n mens jouself eers probeer indink in die leefwêreld van die mense vir wie dit geskryf is. Hulle het geleef in ‘n wêreld waarin daar baie afgode was wat deur die ander mense rondom hulle aanbid is. Hierdie mense het natuurlik almal daarop aanspraak gemaak dat hulle gode die sterkste was en beter as die Here was. In Psalm 82 word op ‘n aangrypende manier gesê dat dit beslis nie waar is nie. Die Here is baie, baie sterker as al die ander afgode. Om hierdie gedagte tuis te bring, vertel die digter vir die mense wat in die hemelse vergadering gebeur het (vers 1):

In die hemelse vergadering tussen die gode

staan God op om uitspraak te lewer

Hier het ‘n mens dus weer die prentjie van God in ‘n hemelse vergadering. Die digter sê dat die sogenaamde gode van die ander volkere ook in hierdie vergadering plek ingeneem het, maar ‘n mens kom baie gou agter dat hulle absoluut geen mag het nie. Om die waarheid te sê, in die hele psalm kry hulle nie eens kans om ‘n enkele woord te sê nie! Die enigste Een wat praat, is God. Eers beskuldig Hy die afgode van dit wat hulle verkeerd gedoen het en daarna spreek Hy ‘n straf oor hulle uit. Dit begin met God se verwyt teen hulle oor dit wat hulle verkeerd gedoen het. Hy sê hulle het die kant van die goddeloses gekies en glad nie vir die mense wat swaar gekry het (soos die weeskinders en die armes) omgegee nie. Dit beteken dat hulle toegelaat het dat die konings en die regters van die heidense volke wat hulle aanbid het, die wet op ‘n onregverdige manier toepas. Deur dit te doen, sê die digter, het die gode gewys hoe dom hulle is. Hulle het ook gewys dat hulle niks verstaan nie en dat hulle eintlik soos blindes in die duisternis rondstrompel. Daarom kondig die Here sommer daar in die hemelse vergadering hulle straf aan: Soos mense sal hulle ook doodgaan. Hiermee wys die digter op ‘n pragtige manier vir sy mense dat die afgode eintlik geen mag het nie.

In 1 Konings 22 kry ‘n mens nog ‘n baie interessante voorbeeld hiervan. Daar word vertel van die twee konings, koning Agab van Israel en koning Josafat van Juda, wat teen die wil van die Here in ‘n oorlog betrokke geraak het. Voordat hulle slagveld toe is, wou koning Josafat eers hê dat hulle moes hoor of dit die Here se goedkeuring wegdra of nie. Daarom het koning Agab 400 van sy profete laat kom. Hulle het almal soos een man gesê dat die konings maar met geruste harte kan gaan veg, want die Here sal hulle beslis laat wen. Dit lyk egter of koning Josafat nie die vrede vertrou het nie. Daarom vra hy vir Agab of daar nie nog ander profete was nie. Toe het Agab ‘n profeet met die naam Miga laat roep. Daar was ‘n goeie rede hoekom Agab hom nie van die begin af laat roep het nie. Miga het nooit iets goeds vir Agab geprofeteer nie! Ook hierdie keer was dit so. Miga het uiteindelik presies die teenoorgestelde as die ander profete gesê! Hy het gesê koning Agab sal beslis nie lewendig van die geveg af terugkom nie. Hoe het hy dit geweet? In verse 19-21 vertel hy dat die Here hom laat sien het wat in die hemelse vergadering gebeur het:

Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërskare wat weerskante van Hom staan. En die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab so ver kry dat hy na Ramot in Gilead toe gaan en daar sneuwel?’ Die een het toe dit gesê en die ander dat, totdat die gees vorentoe gekom en voor die Here gaan staan en gesê het: ‘Ek sal hom sover kry.’ En toe die Here vir hom vra: ‘Hoe?’ sê die gees: ‘Ek sal uitgaan en ‘n leuengees word in die mond van al sy profete.’ Toe sê die Here: ‘Jy sal hom so ver kry. Gaan doen dit, jy sal dit regkry.”

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

image_pdfimage_print

You may also like...