Engele in die Hemel – Francois Malan

image_pdfimage_print

Leser vra:

Sien Engele om na babas in die hemel?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ons weet nie wat die ewige lewe in die hemel alles behels nie, behalwe dat dit veel veel anders sal wees as wat ons dit vir ons kan voorstel. Paulus sê in 1 Korinthiërs 15:42-44, met die opstanding van die dooies sal dit soos volg wees:

            Wat gesaai word in verganklkheid, word opgewek in onsterflikheid;

            wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlkiheid;

            wat gesaai word in swakheid, word opgewek met krag.

            Wat gesaai word, is ’n natuurlke menslike liggaam;

            wat opgewek word, ’n geestelike liggaam.

Die verse wat volg (1 Korinithiërs 15:44-54) verduidelik dat ons aardse mense die beeld van Adam dra, wat die Here uit die stof van die aarde gemaak en sy gees daarin geblaas het sodat ons stoflike liggame lewe totdat die Here die lewe wat Hy aan elkeen van ons gegee het uit ons stoflike liggaam wegneem met ons dood. 

Maar Jesus Christus het die lewendmakende Gees geword met sy opstanding uit die dood. En elkeen wat aan Hom verbind is kry ’n geestelike liggaam wat soos Jesus se opgestane liggaam gaan wees, wat nie meer aan tyd en ruimte gebonde is nie.

Met ons dood gaan ons gees na Hom toe in die hemel, tot sy wederkoms wanneer ons stoflike liggame met ons geestelike liggaam vir ewig verenig word, onverganklik en onsterflik.

’n Babatjie wat sterf se liggaam word wel begrawe. Maar die gees wat die Here aan die baba van sy/haar konsepsie af reeds voor geboorte gegee het om te kan lewe, gaan met die dood by die Here Jesus wees, sê Paulus in Filippense 1:20-23, toe hy in gevangenisskap was en wag om voor die keiser van Rome verhoor te word:

            Dit is immers my innige verwagting en hoop dat ek nie in enige opsig beskaam sal word nie – inteendeel, dat met alle vrymoedigheid Christus ook nou, soos altyd, deur my liggaam verheerlik sal word, of dit nou deur my lewe of deur my dood is. Want vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins, maar as ek liggaamlik bly leef, beteken dit dat ek nog verder vrugbaar sal werk. Ek weet         werklik nie wat om te kies nie. Ek is in ’n tweestryd gewikkel. Aan die een kant verlang ek om heen te gaan en saam met Chrisus te wees. Dit is immers verreweg die beste. Aan die ander kant is dit ter wille van julle, gemeente in Filippi en in ander gemeentes, noodsaakliker dat ek liggaamlik hier bly.

Babatjies se gees word in die hemel ontvang as volle mense. Eintlik het Jesus gesê ons sal soos die engele wees, wat nie versorging nodig het nie, maar sal volwaardige dienaars van God wees. Lukas 20:36  ‘Hulle kan nie meer sterf nie, want hulle is soos engele en kinders van God, omdat hulle aan die opstanding van sy Seun deel het.’

Van die engele sê Ps 103:20 hulle is sterk helde wat die Here se woord uitvoer en sy bevel gehoorsaam.

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...