Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(9) – JP Louw

image_pdfimage_print

Die Tempel herbou

Die tydperk voor die Babiloniese ballingskap toon duidelik hierdie wissel­vallige aard van die godsdienstige lewe wat eers weer na die terugkeer uit die ballingskap deur Esra en Nehemia herstel is toe die Jode deur koning Kores van Persië toestemming gegee is om die tempel te herbou onder toesig van sy stadbouer Serrubbabel, want die tempel is (2 Kronieke 36:19) verbrand toe die Babiloniërs Jerusalem verwoes het. Esra 3:12-13 beskryf die uitbundige vreugde onder die priesters en Leviete toe die fondamente gelê is. Die hele boek Haggai is ‘n oproep en aansporing om die tempeldiens te herstel.

 

Volgens Esra 5:11 het die herboude tempel die een wat Salomo vantevore opgerig het weer in ere herstel. Hierdie tempel het ook tempelvertrekke gehad (Esra 8:29, Nehemia 13:5). Hierdie herboude tempel het vir 500 jaar bly staan totdat Herodes die Grote (nie soseer om godsdienstige redes nie, maar eerder om politieke voordeel by die Jode) die tempel heelwat groter en luukser omgebou het. Voordat ons op die tempel van Herodes let, moot ons eers ‘n ander plek van aanbidding geskryf, naamlik die sinagoge.

Die sinagoge

In die tyd van die tabernakel en die tempel van Salomo was die godsdiens van Israel in hierdie struktuur gelokaliseer. Dit was die plek van aanbidding – en natuurlik ook die talle hoogtes en klippilare en pale en ander altare wat oral opgerig was en, soos reeds beskryf, getoon het hoe die godsdiens van Israel nog nie voluit in sy eie reg gestaan het nie, maar steeds vermeng was met die omliggende heidense godsdienste. Na die verwoesting van die tempel van Salomo en die wegvoer van Israel in-ballingskap na Babel, was die droewige politieke en sosiale omstandighede die Joodse godsdiens tot voordeel gewees. In die geskiedenis van Israel het tye van voorspoed dikwels afval gebring so ook selfs in Salomo se tyd. Dan, wanneer swaar tye kom, het die volk tot die Here teruggekeer. In die ballingskap het die volk die Here gesoek en op die Sabbat byeengekom om oor die Wet en oor hulle tradisies ingelig te word. Die kennis is voortgedra en na die terugkeer is hierdie praktyk naas die herboude tempel voortgesit en het die samekomste in daarvoor geboude plekke plaasgevind. Hierdie samekomste wat sinagoges (afgelei van die Griekse woord vir samekoms) genoem is, het ook die naam oorgedra na die geboue. Sinagoges was dus naas die tempel, wat die sentrum van die offers en reinigingsrites was, die plekke waar die Joodse godsdiens geleer is en waar die aanbidding ontwikkel het tot ‘n vorm wat met kerke vergelyk kan word. Tot vandag toe nog word die Joodse kerk ‘n sinagoge genoem. In die antieke tyd het die sinagoge ook as ‘n plek van regspleging gedien, want die Wet van Moses was die regsnorm. Kerk en hof het dus saamgeval. In Matteus 10:17 , word regspleging en sinagoge verbind. Die term “geregshowe” in Matteus 10:17 is ‘n vertaling vir sanhedrin, die Joodse raad wat uit die owerpriesters, skrifgeleerdes en oudstes bestaan het.

Wanneer tien manlike persone in ‘n area byeengekom het om die Wet aan te hoor en te aanbid is dit as ‘n sinagoge gereken. Vrouens het nie aan die aktiwiteite in die sinagoge deelgeneem nie, maar is later in ‘n afgeskorte deel van die gebou toegelaat as waarnemers. Dit was die sinagoge wat die Joodse godsdiens sy beslag gegee het en die afgodediens finaal geheel en al uitgeroei het. In die tyd van die Nuwe Testament was daar baie sinagoges oral in die land. Jesus, die apostels en veral Paulus het dikwels in sinagoges opgetree. Alle sinagoges het min of meer dieselfde gelyk met die deur waar die mans ingegaan het en ‘n nis waar die boekrolle gehou is. In die middel van die gebou was ‘n verhogie met ‘n kateder waar die boekrolle deur ‘n sinagoge amptenaar oopgerol kon word vir voorlesing en uitleg. Die sitplekke in die sinagoges het ook ‘n sekere status gehad. In Matteus 23:6 word gesê dat die Fariseërs en skrifgeleerdes die voorste sitplekke, dus naaste aan die kateder, ingeneem het.

Die gewone samekoms in die sinagoge het be­staan uit die sing van Psalms, die lees van die Skrifrolle en ‘n uitleg of preek om dit te verduide­lik. Lukas 4:16-30 gee ‘n beskrywing van ‘n geleentheid toe Jesus in die sinagoge opgetree het. Die byeenkoms het na die Skrifuitleg ook vrae en diskussie behels. Die redenasie met Stefanus wat in Handelinge 6:9 genoem word, het waarskynlik by ‘n geleentheid in die sinagoge plaasgevind. Hierdie sinagoge met die naam “Sinagoge van die Vryge­late Slawe” dui ook op ‘n interessante groepering van belangegroepe.

Die organisasie van ‘n sinagoge het raadslede benodig waarvan Jaïrus (Lukas 8:41) ‘n lid was. In Handelinge 13:14 nooi raadslede vir Paulus en Barnabas om ‘n paar woorde te sê. Die “diens” in die sinagoge was dus eerder ‘n tipe gesprek as ’n formele liturgiese handeling. Die latere Christelike kerk het sy oorsprong in die sinagoge wat deur die eerste Christene, wat Jode was, op dieselfde voetspoor voortgesit is en later meer en meer gestruktureer het totdat die preek die sentrale plek ingeneem het.

Skrywer:  Prof JP Louw

 

image_pdfimage_print

You may also like...