‘n Gruwel vir God

image_pdfimage_print

‘n Gruwel vir God – Marius Nel

Christal vra:

Wat sal opgerig word in die heiligdom wat ‘n gruwel vir God sal wees, kom voor in Daniel 11 vers 32, Daniel 12 vers 11.

 

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord

 

Om die verwysing te verstaan, moet ‘n mens die geskiedenis ken wat agter die verwysing staan. Ek heg ‘n verklaring oor Dan 10-12 aan wat ek geskryf het om elders te gebruik:

 

Die laaste drie hoofstukke van Daniël vorm ’n eenheid. Daniël sien weer ’n visioen wat dan deur ’n engel verklaar word. In hierdie visioen val die klem ook op die regeringstyd van Antiogos IV Epifanes (175-164 vC). In teenstelling met die vorige hoofstukke speel engele hier ’n belangriker rol. Elke volk het ’n engel wat hom verteenwoordig en hierdie engel is intens gemoeid met die volk se wel en wee op aarde. Hulle is selfs betrokke by die oorloë wat op aarde gevoer word.

 

Hoofstuk 10 is ’n lang inleiding tot die visioen en die verklaring daarvan. Hoofstuk 11, asook ’n deel van hoofstuk 12, vertel wat in die Boek van die Waarheid opgeteken is. Volgens die oortuiging van die skrywers van apokaliptiese* werke is die afloop van die geskiedenis reeds in die hemel bepaal en opgeteken (vgl Op 5:1). Die engele speel die rol van toesighouers en bestuurders wat sorg dra dat die geskiedenis wel reg afloop. Dit wat die engel Daniël in hierdie hoofstukke meedeel, is eintlik ’n oorsig van die geskiedenis van die Persiese Ryk tot die regering van Antiogos IV Epifanes. In hierdie hoofstukke word meer detail verstrek as wat in die vorige hoofstukke (en visioene) gegee is. Om alles reg te verstaan, het ’n mens kennis nodig van die geskiedenis van die Jode tussen 538 vC en 164 vC. Kyk gerus weer na die oorsig van die geskiedenis van die Jode tussen 333 vC en 164 vC in die inleidende deel tot die boek.

 

10:1 Historiese verankering van die visioen. Soos met die vorige visioene (hfst 7, 8 en 9) word hierdie een ook histories veranker. Hier word egter in die derde persoon oor Daniël vertel. Hy het die visioen ontvang in die derde regeringsjaar van koning Kores van Persië (10:1a). Neem ons die gegewens in 1:21 in ag, beteken dit dat Daniël nie meer in diens van die paleis was nie. Ook hierdie visioen was bo Daniël se vuurmaakplek en ’n engel moes dit vir hom uitlê (10:1b).

10:2-9 Die verskyning van ’n engel. Van vers 2 af is Daniël weer self aan die woord. Hy was net soos in die vorige hoofstuk besig om te vas en te treur (vgl 9:3) toe hy die visioen beleef het (10:2-3). Hy het hom by die Tigrisrivier bevind waar ’n engel aan hom verskyn het. Die voorkoms van die engel word in detail beskryf (10:6):

 

Sy liggaam het geskitter soos ’n edelsteen,

sy gesig het gestraal soos weerlig,

sy oë het geskyn soos brandende fakkels,

sy arms en bene het geblink soos gepoleerde brons,

en sy woorde het geklink soos ’n harde dreuning.

 

Volgens Daniël het net hy die visioen gesien. Die mense wat by hom was, het skrikbevange geword, gevlug en gaan wegkruip. Die veronderstelling is dat hulle die dreuning gehoor het. Man-alleen het Daniël oorgebly en die indrukwekkende visioen aanskou (10:8). Die visioen het egter ook ’n effek op Daniël gehad. Hy het magteloos en doodsbang geword. Dit was asof al sy krag hom ontneem is. Hy het soos ’n houtpop vasgenael gestaan totdat die engel begin praat het. Toe was dit klaarpraat met hom. Hy het soos ’n dooie neergeslaan (10:9).

10:10-11:1 Daniël se gesprek met die engel. Daniël se reaksie op hierdie visioen is vergelykbaar met sy reaksie op die een wat hy in hoofstuk 8 beleef het. Die engel se reaksie op Daniël se floute is ook byna dieselfde as in daardie visioen. Hy laat Daniël nie toe om rustig te herstel nie, maar tel hom op (vgl 8:18). Eers staan Daniël handeviervoet en bewe soos ’n riet (10:10), maar wanneer die engel hom beveel om regop te staan en te luister, doen hy dit sonder teëspraak (10:11).

 

Die engel verklaar onmiddellik die doel van sy sending: Ek het gekom in antwoord op jou gebede (10:12). Voordat hy egter op sy sending kon vertrek, het hy sy hande vol gehad met die oorloë van die Persiese konings. Die engel van die Persiese ryk het hom selfs een en twintig dae lank aangehou, maar Migael, die engel wat oor die Jode waak (10:21; 12:1), het ingegryp sodat hy die boodskap kon kom aflewer (10:13). Die inligting wat hy aan Daniël moet deurgee, handel oor die toekoms van die Joodse volk (10:14).

 

Die vertelling van die engel slaan Daniël eenvoudig stom. Met ’n geboë hoof en sprakeloos staan hy voor die engel (10:15). Eers raak die engel Daniël se lippe aan sodat hy kan praat. Daniël se onmiddellike reaksie is om sy ontsteltenis bekend te maak (10:16). Hy voel hom totaal onbekwaam en magteloos om met die engel te praat (10:17). Die engel tree ’n tweede keer na vore en raak Daniël aan (10:18). Die aanraking het die effek van ’n adrenalieninspuiting, maar die engel praat hom ook moed in: Moenie bang wees nie … Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk! (10:19a).

 

Nadat hy so bygebring is, verklaar Daniël hom gereed om die engel se volle verhaal aan te hoor (10:19b). Die engel wys Daniël daarop dat hy nie meer tyd kan verspeel nie. Hy moet so gou moontlik terugkeer om teen die engel van Persië te gaan veg en as hy daarmee klaar is, moet hy nog die engel van Griekeland aandurf (10:20). Daniël moet besef dat hy sy hande vol het met die oorloë van die Perse en die Grieke. Niemand staan hom hierin by nie – behalwe Migael, die engel wat oor die Joodse volk waak (10:21). Hy en Migael het ’n goeie verstandhouding. In die eerste regeringsjaar van Darius die Mediër het hy vir Migael bygestaan (11:1). Hierdie gegewens sinspeel daarop dat die anonieme engel eintlik die engel Gabriël is.

 

11:2-12:4 Die engel se volle verhaal. Wanneer die engel (Gabriël) die verhaal begin vertel, gee hy die versekering dat wat hy gaan vertel, nie versinsels is nie. Dit kom direk uit die Boek van die Waarheid (10:21). 

Ons kan die gegewens wat in hoofstuk 11 en 12 verstrek word, soos volg saamvat:

 

11:2                  Die einde van die Persiese Ryk (334-331 vC)

11:3-4               Die opkoms van Aleksander die Grote   (336-323 vC)

11:5-6               Die regering van die Ptolemeërs tot die eerste ondertrouery (261-246 vC) 

11:7-9               Oorlog tussen die Ptolemeërs en die Seleukiede (246-226 vC)

11:10-19            Die regering van Antiogos III (223-187 vC)

11:20                Die regering van Seleukos IV (187-175 vC)

11:21-45            Die regering van Antiogos IV Epifanes   (175-164 vC)

12:1-4               Die finale oorwinning van die uitverkore  nes

 

           Die einde van die Persiese Ryk (11:2).

Die geskiedenis van die Persiese Ryk word in ’n enkele vers bespreek. Volgens die engel sal daar nog drie konings oor Persië regeer en dan sal ’n vierde een oorneem wat ryker as al die voriges sal wees. Daar bestaan nie eenstemmigheid oor wie die drie konings is na wie verwys word nie – ook nie oor die vierde koning nie. Daniël het die visioen in die regeringstyd van die Persiese koning Kores (Sirus) ontvang (10:1). Ná hom het daar nog tien konings regeer (vgl die onderstaande lys). Neem ons egter in ag dat vers 3 na Aleksander die Grote verwys, kan dit wees dat die engel die laaste vier konings in gedagte het. Die vierde koning wat uiteindelik die hele wêreld teen die Griekse ryk opsweep, moet dan Darius III wees.

 

Die Persiese konings

550-530C  Sirus (Kores)

530-522C  Kambuses

522-486C  Darius I

486-465C  Xerxes I (Ahasveros)

465-424C  Artaxerxes I (Artasasta)

423        vC  Xerxes II

423-404C  Darius II

404-358C  Artaxerxes II

358-338C  Artaxerxes III

338-336C  Arses

336-331C  Darius III

 

           Die opkoms van Aleksander die Grote (11:3-4).

Die dapper koning wat daarna op die toneel sal verskyn, is Aleksander die Grote, van wie ons al ’n vorige keer gehoor het (vgl 8:5-6, 21). Aleksander het ’n groot ryk tot stand gebring, maar nie self daaroor regeer nie. Na sy dood in 323 vC het ’n stryd tussen sy generaals ontstaan oor wie beheer behoort te verkry. Na onderlinge struwelinge is die ryk eindelik verdeel. Aleksander se eie seun (wat nog ongebore was toe sy pa gesterf het) het self nie beheer verkry oor die ryk toe hy groot was nie.

           Die regering van die Ptolemeërs en die eerste verdragshuwelik (11:5-6).

Die twee generaals wat beheer verkry het oor die oostelike deel van Aleksander se ryk, was Ptolemeus en Seleukos. In Daniël verwys die uitdrukking die koning van die suide na die Ptolemeërs en die koning van die noorde na die Seleukiede. Dit is heel verstaanbaar, want Egipte (waar die Ptolemeërs regeer het) lê suidwes van Palestina, terwyl Sirië (waar die Seleukiede regeer het) noord daarvan lê.

Volgens vers 5 sal die koning van die suide sterk word, maar een van sy generaals sal nog sterker word. Die koning na wie verwys word, is Ptolemeus I (323-285 vC) en die generaal wat in sy diens was, is Seleukos I. Seleukos het aanvanklik moeite gehad om die opperheerskappy oor sy deel van die ryk te kry. Hy was vir ’n tyd in diens van Ptolemeus, maar toe hy uiteindelik daarin slaag om beheer te verkry, was sy gebied groter as dié van Ptolemeus. Die twee groepe het nie altyd langs dieselfde vuur gesit nie en daar was ’n paar keer skermutselings en selfs oorloë tussen die Ptolemeërs en die Seleukiede. Van hierdie oorloë het onder andere gehandel oor wie seggenskap oor Palestina behoort te hê.

Ptolemeus is opgevolg deur Ptolemeus II (285-245 vC) en hy het ’n verdrag met Antiogos II (261-146 vC) gesluit. Om die verdrag te bekragtig, het hy sy dogter Berenice as vrou vir Antiogos gegee. Hierdie verdragshuwelik het egter nie voordeel vir die dogter of haar pa ingehou nie. Hulle het uiteindelik almal gesterf (10:6).

 

Die Ptolemeërs

323-285C  Ptolemeus I

285-245C  Ptolemeus II

245-221C  Ptolemeus III

221-203C  Ptolemeus IV

203-181C  Ptolemeus V

181-145C  Ptolemeus VI

Die Seleukiede

312-281C  Seleukos I 

281-261C  Antiogos I

261-246C  Antiogos II 

246-226C  Seleukos II 

226-223C  Seleukos III

223-187C  Antiogos III 

187-175C  Seleukos IV 

175-164C  Antiogos IV

           Oorlog tussen die Ptolemeërs (Egipte) en die Seleukiede (Sirië) (11:7-9).

Die broer van Berenice het na die dood van sy pa koning geword as Ptolemeus III (247-221 vC). Hy het opgeruk na Antiogië en Seleukos II (246-226 vC) ’n goeie drag slae gegee. Hy het dit onder andere gedoen om wraak te neem vir die moord op sy suster. Seleukos II het ’n aantal jare later ’n aanval op Egipte geloods (242 vC), maar hy was onsuksesvol en moes uiteindelik na byna twee jaar die aftog blaas (240 vC).

           Die regering van Antiogos III (11:10-19).

Seleukos II is opgevolg deur sy seun Seleukos III (226-223 vC). Hierdie seun is egter in 223 vC vermoor. Seleukos II se tweede seun Antiogos III (223-187 vC) het daarna die troon bestyg.

Antiogos III was besonder ambisieus en wou sy grondgebied uitbrei deur onder andere Palestina te probeer verower. Sy teenparty in Egipte was Ptolemeus IV (221-203 vC). Die twee konings se magte het mekaar in 217 vC ontmoet en Ptolemeus, wat ’n groter mag gehad het, het Antiogos die loef afgesteek (11:11). Die twee het ’n vredesverdrag gesluit, maar na veertien jaar het Antiogos besluit om die Egiptenare weer die stryd aan te sê. Ptolemeus is intussen oorlede en sy betreklik jong en onervare seun Ptolemeus V (203-181 vC) het hom opgevolg.

Volgens 11:14 het ’n aantal Jode hulle gewig agter Antiogos III ingegooi. In 199 vC het sy magte die oorwinning oor die Egiptenare behaal. Die Seleukiede het hierdeur beheer oor Palestina verkry (11:16). Antiogos se magte het egter nie net Palestina verower nie, maar verskeie ander gebiede wat onder die beheer van die Ptolemeërs gestaan het. Hy het egter nie Egipte self ingeneem nie – moontlik uit vrees vir die Romeine, wat ’n mag was waarmee al meer rekening gehou moes word. Antiogos het uiteindelik met Ptolemeus V ’n vredesverdrag gesluit en sy dogter Kleopatra (’n naamgenoot van die bekende Kleopatra) aan hom gegee (11:17).

Ten spyte van hierdie verdrag het Antiogos voortgegaan en nog gebiede verower wat onder die beheer van die Ptolemeërs was. (11:18a). Hy het egter spoedig sy moses teëgekom toe die Romeine sy magte in 191 vC in Griekeland oortuigend verslaan het. Daarna het die Romeine hom ook uit Klein-Asië verdryf (11:18b). Antiogos III se uitbreidingsdrang het hom duur te staan gekom, want van toe af moes hy oorlogskuld aan die Romeine betaal. Sy seun Seleukos IV (187-
175 vC) het uiteindelik net ’n bankrot ryk geërf.

           Die regering van Seleukos IV (11:20).

Die skrywer van Daniël wy slegs een vers aan Seleukos IV. Hy het groot skuld van sy vader geërf en moes op allerlei manier geld in die hande probeer kry om sy regering staande te hou. Daar bestaan ’n verhaal in die deuterokanonieke* boek 2 Makkabeërs waarin vertel word dat die koning selfs die tempelskatkis in Jerusalem laat beroof het.

           Die regering van Antiogos IV Epifanes  (11:21-45).

Die volgende vier en twintig verse handel oor die regeringstyd van Antiogos IV (175-164 vC). Dit is heel verstaanbaar dat die skrywer uitvoerig oor hom skryf, want hierdie koning se godsdienstige beleid het die Jode met wrewel vervul. Hy het die simbool geword van die magte wat hulle hulle identiteit wou ontneem en hulle godsdiens van die aardbodem af wou vee. Hierdie gedeelte van hoofstuk 11 kan in vyf onderafdelings verdeel word: 11:21-24, 25-28, 29-35, 36-39 en 40-45.

11:21-24 Antiogos IV se oorname van die regering en sy eerste regeringsjare. Seleukos IV (187-175 vC) het nie ’n natuurlike dood gesterf nie, maar is vermoor. Na regte moes een van sy seuns die troon bestyg het, maar ’n paleisrevolusie het ontstaan en in die proses het Antiogos IV (Seleukos IV se broer) die mag in die hande gekry (vgl 7:23-27). Antiogos was dus eintlik ’n usurpator* (11:21). Die vroeë jare van sy regering is gekenmerk deur burgeroorloë. Sy gesag is nie onmiddellik en sonder teenstand aanvaar nie. Vers 22 vertel dat die leier van die verbondsvolk ook in hierdie proses gesneuwel het. Dit is moontlik ’n verwysing na die dood van die hoë­priester Onias III (vgl 9:26a). Hy was die regmatige hoëpriester, maar ’n ander aanspraakmaker (Jason) het Antiogos ’n ruim bedrag beloof in ruil vir die pos as hoëpriester. Antiogos was te vinde hiervoor. Na ’n aantal jare het ’n derde aanspraakmaker (wat toe reeds hoëpriester geword het) Onias III laat vermoor. Gedurende die eerste periode van sy regering het Antiogos ook probeer om ander se guns te wen. Dit het hy gedoen deur van die buit wat hy tydens sy gevegte bekom het, mildelik uit te deel (11:23-24).

11:25-28 Sy eerste oorlog teen Egipte. In 169 vC het Antiogos IV opgeruk met sy leër om die koning van die suide aan te durf. Dit verwys na Ptolemeus VI, die Egiptiese vors. Die laaste gedeelte van vers 24 verwys moontlik ook na Antiogos se Egiptiese veldtog. Hy het ’n aantal versterkte Egiptiese grensdorpe (vestingstede) tydens sy opmars verower. Die engel gee aan Daniël egter die versekering dat sy verowerings van korte duur sal wees. Antiogos sal nie vir ewig die botoon voer nie.

Nadat die Egiptiese leër verslaan is, het die twee konings met vredesonderhandelinge begin. Hiervan het nie veel gekom nie, want hulle het mekaar openlik sit en bedrieg (11:27). Op pad terug na sy eie land het Antiogos eers ’n draai in Jerusalem gemaak waar hy opgetree het teen die gewyde verbondsvolk (11:28). Menelaos was op hierdie stadium die hoëpriester. Hy het net soos Jason vroeër hoëpriester geword omdat hy aan Antiogos ’n groot som geld aangebied het. Hierdie keer was dit Jason wie se hoëpriesterskap hom ontneem is. Terwyl Antiogos in Egipte was, het Jason probeer om homself weer as hoëpriester te laat uitroep. Die onderlinge twis tussen die ondersteuners van Menelaos en Jason het Antiogos gedwing om in Jerusalem te gaan ingryp. Hy het gevoel die gebeure is ’n uitdaging van sy gesag – hy het immers vir Menelaos as hoëpriester aangestel. Die Jode het hierdie ingrype egter beleef as ’n vergryp teen hulle godsdiens.

11:29-35 Antiogos se tweede oorlog teen Egipte. Terwyl Antiogos nog in Jerusalem was, het hy verneem dat Ptolemeus VI en nog ander teen hom saamgesweer het. In 168 vC ruk hy vir ’n tweede keer op om Ptolemeus ’n les te gaan leer (11:29). Die Romeine, wat ook belange in Egipte gehad het, het gevoel dat sy inmenging ongevraagd was. ’n Afvaardiging (skepe van die westelike kuslande) het hom daar ontmoet en die eis gestel dat hy sy magte aan Egipte moes onttrek. Gebelgd hierdeur, keer hy terug Jerusalem toe en voer ’n godsdienstige revolusie deur (11:30). Die daaglikse offers word afgeskaf en ’n ding wat ’n gruwel vir God is (’n altaar vir Zeus Olimpos) word in die tempel opgerig (11:31). Skielik kom ’n breuk in die Joodse volk aan die lig. Sommige het geen probleem met die beleid van Antiogos gehad nie, maar die mense wat hulle God ken, het vasgeskop (11:32). Die “konserwatiewes” moes duur betaal vir hulle standpunt. Hulle is doodgemaak, verbrand, gevange geneem en geplunder (11:33). In hierdie tyd het hulle ’n bietjie hulp ontvang toe die Makkabese opstand uitbreek (11:34). Al hierdie gebeure moes die volk egter louter, suiwer en reinig tot die eindtyd aanbreek. Nog eens beklemtoon die engel dat die einde klaar bepaal is (11:35, vgl ook 11:27).

11:36-39 Antiogos se godslasterlike handelinge. Die engel voorsien dat Antiogos IV godslasterlik sal optree. Hy sal ’n godsdienstige revolusie deurvoer en ook homself verhef en hom groter hou as enige god. Selfs teen die ware God sal hy ongehoorde dinge sê (11:36a). Hiermee sal hy volhou vir die vasgestelde tyd. Al hierdie gebeure is immers al vooraf vasgestel. Wat besluit is, moet gebeur. Die geskiedenis verloop soos God dit voorsien het (11:36b). En soos dit al so dikwels in die geskiedenis gebeur het, het Antiogos diegene wat sy beleid ondersteun het, beloon (11:39). Politici hou immers daarvan as mense hulle sienings en beleid ondersteun. Dit laat hulle goed en belangrik voel.

11:40-45 ’n Voorspelling van sy dood. Die laaste gedeelte van hoofstuk 11 vertel hoe Antiogos IV aan sy einde gaan kom. Volgens die vertelling sal die koning van die suide hom aanval. Hierdie aanval sal Antiogos in ’n waansinnige persoon verander. Soos ’n warrelwind sal hy van die een land na die ander beweeg en verwoesting aanrig (11:40). ’n Lys van lande wat hy gaan verower, word verstrek: die beloofde land, Egipte, Libië en die Kussiete (11:41-43). Maar ’n gerug sal hom bereik en terwyl hy sy magte tussen die see en die tempelberg saamtrek, sal hy aan sy einde kom (11:45).

Die geskiedenis het anders verloop as wat die skrywer hier voorsien het (11:40-45). Die Makkabese opstand het daartoe gelei dat die Jode eers godsdienstige onafhanklikheid verkry het en later ook gedeeltelike politieke onafhanklikheid. Dit doen egter geensins afbreuk aan die boodskap wat hy deur middel van hierdie vertelling van die visioen van Daniël aan die lesers wou deurgee nie. Die skrywer wou hulle verseker dat God in beheer van sake is en dat Antiogos nie vir ewig die botoon sal voer nie. Ook aan sy vervolging sal daar ’n einde kom. Hierdie boodskap het mense gehelp om vas te byt en nie moed te verloor nie. Dit het hulle gehelp om ’n krisistyd te oorleef.

           Die finale oorwinning van die uitverkorenes (12:1-4).

In hierdie gedeelte kry ons ’n blik op wat agter die skerms gebeur. Migael, die beskermengel van die Joodse volk, sal nie maar net onbetrokke al die gebeure op aarde gade slaan nie. In hierdie uiters beproewende tyd sal hy met die volk wees. Diegene wat getrou bly aan hulle godsdiens (en dus in die boek opgeskryf is), sal gered word – net soos die vriende in die vuuroond en Daniël in die leeukuil. Wanneer die einde aanbreek en Antiogos IV Epifanes die onderspit delf, sal selfs die gestor-wenes opstaan. Diegene van hulle wat getrou was, sal vir ewig lewe, maar diegene wat ontrou was, sal vir ewig skande en veragting beleef (12:2). Die leiers van die volk wat die voorbeeld gestel het (al was dit tot hulle skade) sal nou skitter soos hemelliggame (12:3).

 

Die geloof aan die opstanding

Die geloof aan die opstanding het eers ná die Babiloniese ballingskap in die godsdiens van Israel sterk na vore begin tree. ’n Mens kom dié geloof vir die eerste keer teë in die Jesaja-apokalips (Jes 24-27), wat waarskynlik in die vierde eeu vC geskryf is, asook in die boek Daniël, wat uit die tweede eeu vC dateer.

Die ontstaan van hierdie geloof word soms toegeskryf aan “buitelandse” invloed. Die ou Egiptenare het byvoorbeeld ’n duideliker beeld van die lewe na die dood gehad as die vroeë Israeliete, terwyl die Kanaäniete, met wie Israel in die beloofde land in aanraking gekom het, ’n godsdiens beoefen het waarin gode wat sterf en opstaan, ’n rol gespeel het. Tydens en na die ballingskap het die Judese ballinge weer in aanraking gekom met die Persiese godsdiens, waarin die opstandingsgedagte ook voorkom. 

 

Alhoewel hierdie invloede nie ontken kan word nie, is die ontstaan van die geloof aan die opstanding nie uitsluitlik hieraan toe te skryf nie. Die wortels van hierdie geloof is eintlik in die godsdiens van Israel self te vind. 

In die Ou Testament lees ons byvoorbeeld van die opwekking van die seun van die weduwee van Sarfat (1 Kon 17:17-24) en die opwekking van die seun van die Sunamitiese vrou (2 Kon 4:31-37). Esegiël 37 teken die terugkeer van die ballinge as doodsbeendere wat herleef en in ’n aantal psalms spreek die spreker sy hoop uit dat God hom sal opneem (Ps 73:24) of uit die mag van die dood sal ruk (Ps 49:16). 

Sedert die vierde eeu vC het die Jode al meer begin glo dat die dood nie die einde van die gemeenskap met God beteken nie. As God mag het oor die doderyk, behoort Hy ook in staat te wees om die gelowige na die dood steeds in sy hande te hou. Sedert die tweede eeu vC het die geloof aan die opstanding van die dooies baie veld begin wen. Een van die faktore wat hiertoe bygedra het, was die godsdienstige vervolgings van Antiogos IV. Die bloed van die martelare het die saad van hierdie geloof laat ontkiem. 

 

Die engel se finale opdrag aan Daniël is om die hele verhaal geheim te hou en die boek tot die eindtyd toe te verseël (12:4). Hierdie opdrag is tipies van apokaliptiese* werke. Die skrywers
van hierdie soort literatuur het gemeen dat daar wel ’n eindtyd gaan aanbreek. Hulle het gewoonlik ook verwag dat die einde in húlle leeftyd sal kom. Hulle het nie voorsien dat daar nog ’n eeu of selfs eeue mag voorlê nie. Ons moet egter onthou dat hierdie werke ter bemoediging en vertroosting van gelowiges geskryf is en dat hulle dikwels hulle toekoms as uitsigloos beskou het. Hierdie geskrifte was nie doelbewuste misleidings nie. Die skrywers het geweet dat mense pyn en lyding kan verdra as die vooruitsig daar is dat daar ’n eindpunt is. Daarom het hulle telkens beklemtoon: Daar is ’n eindpunt! Hou vol en hou vas!

12:5-13 Die slot en aanvullende visioen. Die laaste paar verse van die hoofstuk rond nie net die vertelling van die slotvisioen af nie, maar ook die hele boek. Daniël sien twee ander engele aan weerskante van die een by die Tigrisrivier staan. Dan hoor hy een van hulle vra: Hoe lank sal hierdie onbegryplike gebeurtenisse aan-hou? Die antwoord wat verstrek word, is: Totdat die hele vasgestelde tyd verby is. In hierdie geval lees die Hebreeus (net soos die Aramees van vroeër, 7:25): “’n tyd, tye en die helfte van ’n tyd” (OAV). Dit wil sê daar sal drie en ’n halwe jaar verloop voordat die einde sal aanbreek.

Daniël begryp die antwoord nie mooi nie en vra die engel weer uit: Meneer, waarop gaan dit alles uitloop? Vir ’n tweede keer kom die antwoord dat dit eintlik ’n geheim is. Daniël moet nie alte nuuskierig wees nie. Maar die engel gee tog ’n antwoord: Daar sal twaalf honderd en negentig dae verloop. Omgereken na jaar beteken dit: drie jaar en sewe maande (11:11). ’n Tweede getal word egter ook verstrek. Mense moet geduldig bly vir dertien honderd vyf en dertig dae. Omgereken na jaar beteken dit: drie jaar, agt en ’n halwe maand (12:12). Neem ons in ag dat Antiogos IV die tempel in 167 vC ontwy het, beteken dit dat die skrywer voorsien het dat die einde tussen 164 en 163 vC sal aanbreek. Die altaar vir Zeus Olimpos is wel in 164 vC uit die tempel verwyder, maar die einde het nie aangebreek soos die skrywer voorsien het nie. Die Jode moes nog deur diep water gaan, maar hulle geloof in God kon nie geblus word nie. Die engel se opdrag aan Daniël in die slotvers het menige gelowige gedurende Antiogos IV se regeringstyd versterk om die pad vol te hou: Hou aan tot die einde toe. Jy sal te ruste gelê word maar weer opstaan   … (12:13).

Om teen wanhoop in te bly glo. Wanneer ’n mens aan die einde van die boek Daniël kom en die geskiedenis van die Jode in oënskou neem, besef jy watter hoop hierdie boek aan hulle gebied het. Die geleentheid was daar om tou op te gooi en te versink onder die vervolging van Antiogos IV. Daar was egter diegene wat by hierdie gebeure verby gekyk en God raakgesien het. God was vir hulle die Een wat die geskiedenis in sy hande gehou het en wat met sy volk op pad was. Die toekoms kon daarom nie uitsigloos wees nie.

Wie hulleself as God se kinders beskou, moet weet dat Hy hulle oproep om teen alle wanhoop in te bly glo. Die boek roep ons wat ’n nuwe tydvak van die geskiedenis binnegaan, op om hoopvol te bly leef, want God leef en gee om vir diegene wat in Hom glo en op Hom vertrou.

 

Skrywer: Prof Marius Nel

 

image_pdfimage_print

You may also like...