Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Toerisme in Moderne Israel(1) – JP Louw

image_pdfimage_print

In die hoofstuk oor Jerusalem is reeds op verskeie toeriste-aantreklikhede gewys. Daar is egter baie meer in die hele Israel wat veral die Bybelleser sal interesseer.

 

Naby die Dooie See

Van Jerusalem kan ‘n mens na Jerigo reis en op pad stop by die sogenaamde herberg van die Barmhartige Samaritaan. Natuurlik is dit weer een van die baie plekke wat vir toeriste aangewys word asof dit die oorspronklike is. Tog gee dit miskien ‘n idee hoe so ‘n herberg kon gelyk het, hoewel moderne verbeteringe die beeld kan versteur. Dit is een van die grootste probleme vir die toeris in Palestina: wat is waar, wat is vals, wat is ‘n tipe van die oorspronklike, en wat is werklik ‘n oorblyfsel uit Bybeltye?

Maar as die reis voortgaan deur die Wadi Qilt op ‘n ou Romeinse pad word eindelik Jerigo van die Nuwe Testament bereik-of eerder die moderne Jerigo waar die Jerigo van die Nuwe Testament gestaan het. Die Jerigo van die Ou Testament was ‘n hele ent daarvandaan-en dit is ook nie meer Josua se Jerigo nie, maar oorblyfsels van ‘n Kanaänitiese stad wat lank voor Josua se tyd gebou is. Van Josua se Jerigo is skaars enkele fondamente oor.

Verder suid is Qumran waar die Esseners, ‘n uiters konserwatiewe Joodse sekte, hulle tuiste gehad het in sig van die grotte waar die Qumran boekrolle tesame met baie ou manuskripte van die Ou Testament gevind is met kommentare daaroor. Nog verder suid halfpad langs die Dooie See is En-Gedi. Daar kan mens steil opklim na ‘n plek waar gesê word dat Dawid vir Saul weggekruip het.

Die mees aangrypende is die heuwel Masada ‘n hele ent verder suid. Op hierdie vestingberg waar Herodes ‘n fort gebou het, dink ‘n mens terug aan die meer as 900 fanatieke Joodse nasionaliste wat teen die Romeine uitgehou het en eindelik almal selfmoord gepleeg het toe die stryd verloor is voordat die Romeine hulle kon bykom.

Langs die Dooie See met sy dik water is daar heelwat swemplekke. Hier kan ‘n mens letterlik op die water dryf, en dan is daar ook enkele warmwaterbronne in die omgewing.

dooiesee

image_pdfimage_print

You may also like...