Geloofsvrae: Alomteenwoordigheid, alwetendheid, onsienlikheid, onkenbaarheid, selfgenoegsaamheid

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: Alomteenwoordigheid, alwetendheid, onsienlikheid, onkenbaarheid, selfgenoegsaamheid – Adrio König

Alomteenwoordigheid, alwetendheid, onsienlikheid, onkenbaarheid, selfgenoegsaamheid  

In die opskrif bokant hierdie paragraaf staan ‘n hele aantal begrippe wat tradisioneel gebruik word vir God. Hulle is saam gegroepeer omdat hulle saamhoort. Hulle is almal eerder geïnspireer deur strominge in die Griekse filosofie. Die atmosfeer wat die meeste Bybelse boeke adem, is net eenvoudig anders.

Oor die alomteenwoordigheid van God is die filosofiese vraag hoe ons dit moet verstaan dat God altyd oral is. In die Bybel is die boodskap eerder dat God altyd naby sy kinders is, veral as hulle in nood is, maar ver van die ongehoorsames en die goddelose. In die NT kry ons die nuwe perspektief dat Hy die goddelose regverdig, maar die veronderstelling is dat die goddelose hulle bekeer en sy kinders word, en dan is Hy natuurlik naby hulle.

Onder die alwetendheid van God word gewoonlik verstaan dat Hy alles weet, alles wat al gebeur het, alles wat nou gebeur, en alles wat ooit sal gebeur. Die vraag is dan of God alles weet bloot omdat Hy vooruit weet wat die mense sal doen (dus voorkennis), en of Hy alles weet omdat Hy vooruit presies bepaal het wat hulle sal doen. Die argument is dan gewoonlik dat dit meer tot sy eer is om sy albeskikking te aanvaar omdat Hy dan die inisiatief behou. Voorkennis maak Hom nog altyd afhanklik van dit wat mense besluit om te doen. Maar uiteindelik blyk dit ongeloofwaardig te wees om sy albeskikking te probeer rym met die vreeslik baie sonde, ellende en lyding in die wêreld. Dit laat ‘n mens net opnuut besef dat ons die dampkring van die Bybel verlaat het.

In die Bybel sal ons eerder verwysings daarna kry dat God weet van sy kinders se nood en dat ons geen sonde vir Hom kan wegsteek nie. `Alles lê oop en bloot voor sy oë’ (Heb 4:13).

In verband met die onsienlikheid van God gaan dit gewoonlik daaroor dat God gees is en dat ‘n mens nie ‘n gees kan sien nie. Dan word dit ‘n groot probleem hoe God Homself sigbaar kan maak. Omtrent dieselfde probleem kom na vore in verband met die onkenbaarheid van God. Die argument is dat die eindige (die mens) nie die oneindige (God) kan ken nie. Dan is dit weer openbaring wat ‘n probleem word. En verder, as God gees is, hoe kan Hy in elk geval in ‘n mens geopenbaar word? Ons is dan `vlees.’

Min van hierdie probleme kom na vore in Bybelse stowwe. Die probleme rondom die vraag of ons God kan sien, het eerder te doen met sy heiligheid en heerlikheid as met sy `samestelling’ (gees). Daarom is dit ook ‘n heerlike vooruitsig dat die kinders van God Hom sal sien wanneer Hy die aarde nuut gemaak het en op die nuwe aarde by ons kom bly.

Dat Hy Hom in ‘n mens kan openbaar, is nooit in die Bybel ‘n probleem nie. Trouens die mens is juis as die beeld van God geskep wat beteken dat ons God op aarde verteenwoordig en iets van sy manier van lewe in ons lewe moet reflekteer. Daarom word daar ook voortdurend op mensvormige (antropomorfe) wyse oor God gepraat. En anders as wat Christene vir baie eeue geglo het, praat ons juis paslik en reg oor God as ons dit in mensvormige terme doen. Juis omdat ons as sy beeld geskape is, kan Hy Homself bekend maak in terme wat by ons menslike lewe pas (OT) én kan Hy Homself as ‘n mens openbaar (Jesus). Die moontlikhede wat ons menslike lewe bied, kan uitdruk hoe God na sy wese is: oorredende liefde. Daarom was Jesus ook nie ‘n vreemde wese toe Hy God kom openbaar het nie. Hy was ‘n mens onder mense.

Die selfgenoegsaamheid van God stam ook uit direkte Grieks-filosofiese invloed. Dit hou verband daarmee dat God se Naam in Eks 3:14 (Ek is wat Ek is) verstaan is as die ewig synde of bestaande, waaruit mense dan afgelei het dat Hy geen emosies ken nie en nie reageer op mense nie. Die oortuiging het bestaan dat dit sleg is om emosies te hê, want dan kan jy deur iemand anders beïnvloed en ongelukkig gemaak word. Hoe meer afsydig jy teenoor enige gebeure buite jouself kon bly, hoe gelykmatiger en bestendiger kon jy leef. En hierdie ideaal sou dan volmaak verwesenlik wees in God. Hy is die in-sigself-genoegsame wat geen behoeftes het nie en op niks reageer nie.

Die lewende, betrokke God van die Bybel wat omgee vir sy skepsels, het daarmee op die agtergrond verdwyn ten koste van ‘n koue, ongenaakbare, ongevoelige, in sigselfgenoegsame wese wat net aan Homself kon dink. ‘n Mens kan jou byna nie ‘n groter teenstelling voorstel as dié tussen hierdie twee sienings van God nie.

Dit beteken nie dat daar nie goeie redes was waarom Joodse en Christenteoloë in die eerste eeue van die kerkgeskiedenis die heersende filosofie gebruik het om oor God na te dink nie. Die evangelie moet altyd sinvol geïnterpreteer word vir die mense aan wie dit verkondig word. En as dié mense oortuig is dat alles wat vasstaan, wat onbeweeglik is en nooit verander nie, goed is, kan dit volkome aanvaarbaar wees om die evangelie in sulke terme te probeer uitdruk. Maar dit maak nie sin in ‘n situasie waarin omgee, betrokkenheid, deernis hoë waardes is nie. En sowel in die Bybel as in ons kultuur is dit sondermeer die geval.

Die onveranderlikheid van God is onder die trou van God bespreek.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...