Geloofsvrae: Die noodsaaklikheid van die Bybel

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: Die noodsaaklikheid van die Bybel – Adrio König

Die noodsaaklikheid van die Bybel

Daar is ‘n verband tussen die gesag en dit wat soms die noodsaaklikheid of onontbeerlikheid van die Bybel genoem word. Daar is ‘n sin waarin die Bybel onontbeerlik is. Hoe sou ons die evangelie suiwer ontvang het sonder die Bybel? Al sou daar deur al die eeue heen ‘n kerk gewees het wat die boodskap verkondig het, kon dit teen hierdie tyd al onherkenbaar verdraai gewees het. Dink maar net hoeveel verdraaiïngs daar al in die loop van die geskiedenis was ondanks die feit dat ons die Bybel het waaraan die leer van die kerk voortdurend gemeet kan word. En dink verder hoeveel leerverskille daar tussen kerke is ondanks die feit dat ons ‘n Bybel het. Daarom moet ons die Here dank dat die apostels om verskillende redes die evangelie in allerlei vorme neergeskryf het, en dat ‘n aantal van hierdie geskrifte bewaar gebly het.

Maar daar is ook ‘n ander kant van hierdie saak. As Paulus die ouderlinge van Éfese toespreek, sê hy o.a.: `Ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie’ (Hand 20:27). Maar daarby het hy nie bedoel dat hy elke boek in die NT ten volle aan hulle verkondig het nie. Die meeste van dié boeke was nog nie eens geskryf nie. Hy bedoel dat hy dit waaroor dit in die evangelie gaan, Jesus en sy betekenis, aan hulle verkondig het. Natuurlik was daar nog baie implikasies van die evangelie wat hyself eers later sou uitspel, maar die evangelie as die waarheid oor Jesus, het hulle klaar gehoor. Die volle omvang van die heilsplan van God sluit dus nie elke besonderheid en selfs nie elke Bybelboek in nie.

Vir die Galasiërs skryf Paulus dat niemand ‘n ander evangelie mag verkondig as die een wat hulle van hom ontvang het nie (1:6ev). Die implikasie is duidelik: hulle moet alles wat hulle hoor, meet aan wat hulle van hom gehoor het. Maar hulle het op daardie stadium nog glad nie alles in die kwantitatiewe sin ontvang nie. Daar was nog nie eens ‘n enkele evangelie geskryf nie, wat staan nog Handelinge en die Briewe. Maar Paulus bedoel die volle evangelie in die kwalitatiewe sin, die waarheid soos dit in Jesus na hulle gekom het. Aan hierdie waarheid kan hulle alle dwalings meet en herken.

In hierdie sin is dit wat onontbeerlik is die waarheid waaroor (liewer: oor Wie!) die Bybel skryf, en nie die Bybel self nie. Ek skryf hierdie deel in die VSA. Ek was gister by ‘n ete waar die volgende storie vertel is. In 1982 gee ‘n aantal studente tydens ‘n sendingtoer pamflette uit diep in die bos in Kenia. Die adres van hul seminarie in die VSA is op die pamflette. Vyf jaar later kry die skool ‘n brief van iemand uit een van die dorpies. Sy storie is dat hy ‘n paar jaar tevore ‘n pamflet oor Jesus en sy verlossingswerk gekry en gelees het. Hy het daardeur tot bekering gekom, en mense in sy dorpie wat ook deur sy getuienis tot geloof gekom het, het om hom begin vergader. Op die stadium wat hy die brief skryf was daar al groepe in drie dorpies wat gereeld bymekaar gekom het. Maar nou het hulle gehoor die pamflet is nie al wat daar is nie. Hulle hoor daar is ‘n dik boek wat baie meer vertel. Kan hulle nie dalk so ‘n boek kry nie?

Wat noodsaaklik is, is die evangelie oor Jesus, nie noodwendig die Bybel nie, al sal dit natuurlik ‘n oneindige verryking vir hulle wees om ‘n volle Bybel te ontvang. Maar Jesus, die lewende Here, wat deur sy Gees in mense se lewens werk, is die eintlike onontbeerlike Een. Sonder Hom kom ons ook met die volle Bybel nie baie ver nie.

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...