Geloofsvrae: Eeienskappe van die kerk: Algemeenheid

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: Eeienskappe van die kerk: Algemeenheid – Adrio König

Algemeenheid

Die kerk is algemeen (of `katoliek,’ wat dieselfde beteken). Dit beteken dat nie net die Rooms-Katolieke kerk `katoliek, is nie, maar dat alle kerke deel van die een algemene kerk is.

Dat die kerk algemeen is, beteken dat dit daar is vir die hele wêreld, en dat dit die hele waarheid moet verkondig.

Eerstens is die kerk daar vir alle mense. Die kerk mag niemand uitsluit om watter rede ookal nie. Omdat God die God van die hele wêreld is, is die kerk bedoel vir alle mense. Dit beteken ook dat kerke mekaar nie mag uitsluit nie.

Natuurlik skep dit probleme as ons dink aan die grense van die kerk. Al is die kerk bedoel vir die hele wêreld, al moet die kerk alle mense probeer oortuig om Jesus as Verlosser aan te neem, het die kerk grense. Mense wat nie in Jesus glo nie, kan nie lede van die kerk wees nie.

Maar wat van Christene wat anders glo, wat in hul geloof afwyk van wat ons glo? Let tog daarop dat ons dadelik onsself en ons geloof die maatstaf maak waaraan ander gemeet word. Is dit nie dalk iets van die dissipels se reaksie op die `ander’ nie? Die dissipels probeer iemand keer wat in Jesus se Naam duiwels uitdryf `omdat hy ons nie volg nie’ (Mark 9:38). Jesus se reaksie is: `Wie nie teen ons is nie, is vir ons.’ Die dissipels maak hulself tot maatstaf en wil uitsluit sover hulle kan, maar Jesus sluit in sover Hy kan. In sy houding sien ons wat met die algemeenheid van die kerk bedoel word.

Hy is die maatstaf, nie ons interpretasie van Hom nie. Daarom sluit die kerk almal in tot op die punt waar dit onmoontlik word, waar dit nie meer om dieselfde Here Jesus gaan nie, waar ons Hom nie meer in ander se geloof kan herken nie.

Dit geld ook kerklike verhoudinge. Die NT het glad nie eens voorsiening gemaak vir die verskeurdheid van die kerk wat ons vandag dikwels as normaal beskou nie! Daarom is dit so moeilik om die verskeurde Christendom in terme van die NT te verstaan. Met watter kerke moet ons saamwerk en met watter nie? Ons kry geen direkte antwoord uit die NT nie omdat daar nie so ‘n probleem was nie. Die kerk was een en algemeen.

Ons belydenis dat die kerk algemeen is, is dus ‘n uitdaging aan ons om ons kerklike verskeurdheid sover moontlik teen te werk, en soveel as moontlik gestalte te gee aan die eenheid van die kerk.

Tweedens is die kerk algemeen in die sin dat dit die volle evangelie moet verkondig, nie net die voorkeure waarvan ons hou nie. Dit stel ons opnuut voor die eis van samewerking met ander kerke. Ons weet goed genoeg dat elke kerklike tradisie ‘n soort uittreksel van die evangelie maak, dat elke kerk sekere sake beklemtoon en die ander verwaarloos. Die eenheid van die kerk, die wonderwerke van Jesus, die stryd teen magte wat mense se lewens bedreig, die gawes van die Gees, is fasette van die evangelie wat by ons as Gereformeerdes skitter in hulle afwesigheid. Net so is daar weer ander fasette van die evangelie waarop ons konsentreer wat by ander verwaarloos word. Kerke het mekaar dus nodig om weer iets van die volle rykdom van die genade van God te beleef en te verkondig, om ons belydenis gestand te doen dat ons deel is van die een algemene kerk.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print