Geslagsregisters

image_pdfimage_print

Geslagsregisters – Marius Nel

Jan vra:

‘n Groot deel van die eerste boek van die Kronieke bevat deurlopend ‘n klomp name. Vir die rede is dit seker ‘n kroniek. Omdat die boek in die Bybel opgeneem is, sê dat dit aan die vereistes van die kanon voldoen het. Sommige gelowiges staan daarop dat ELKE WOORD in die Bybel deur God geïnspireer is en ek wonder tog hoe ‘n naam hiertoe bydra. En by implikasie hoe die boek die vereistes van die kanon tevrede gestel het?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

 

Geslagsregisters het in antieke tye ‘n belangrike rol gespeel, en wel as volg: mense het geslagsregisters gebruik om hulleself histories aan persone en gebeure te anker. My pa is so-en-so en my oupa so-en-so, en so aan. En wanneer ek hulle naam sien, dan onthou ek wie hulle was en wat in hulle lewe gebeur het. Dit is my voorgeskiedenis, dit wat my lewe bepaal. Hier hoort ek en dit is my identiteit. Vir ons maak geslagsregisters nie veel sin nie, maar vir vorige geslagte (selfs ons voorgeslagte onder Afrikaners) was dit baie belangrik. Jy is jou geskiedenis.

 

Terug na Kronieke. Juda kom terug in hulle eie land ná die ballingskap en nou tel hulle weer die lyne op nadat hulle identiteit byna vernietig is. Ons moet onthou dat alle ander volke wat deur eers Assirië en daarna Babilonië in ballingskap weggevoer is, vernietig is. Israel nie. En nou skryf hulle neer wie hulle is en waar hulle vandaan kom. Dit is waar die geslagsregisters van Kronieke vandaan kom.

 

Dat dit nie vir ons veel sin het nie, het te doen daarmee dat Kronieke nie in die eerste plek vir ons geskryf is nie, maar vir mense wat in die vyfde eeu vC. geleef het. Vir hulle was die geslagsregisters belangrik, goeie nuus.

 

Oor die inspirasievraag is reeds veel op bybelkennis.co.za geskryf. Ek dink nie dis so eenvoudig dat die Bybel woord-vir-woord deur God ingeasem is nie. Daar is nie ‘n teks in die Nuwe Testament, op gemiddeldes gewerk, waarvoor daar nie ‘n variant op een woord bestaan nie. Die inspirasie het, na my mening, eerder te doen met die werk wat die Gees in gelowiges se lewens doen wanneer hulle die Bybel biddend lees – Hy maak dit God se Woord vir hulle lewe.

 

Skrywer: Prof Marius Nel

 

image_pdfimage_print