God se snaakse keuses

image_pdfimage_print

The next best thing to be really inside Christendom, is to be really outside it – G. K. Chesterton

 

God se snaakse keuses

Hoe het ons by die plek waar ons nou is, gekom? Jeremia help ons nogal om dit te verstaan. Hy word groot in Anatot, ‘n klein dorpie in die sentrale hoogland van Israel in die stamgebied van Benjamin. Ons weet dat Dawid die priester Abjatar na Anatot verban het.

 

 

Kom ons kyk na Jeremia 1:4 – 12. Hierdie gedeelte begin waar die woord van die Here tot Jeremia kom: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel. Jeremia is deur God geroep en God het dit geweet selfs voor sy geboorte.

 

Soos Moses was Jeremia maar huiwerig. “Ag, Here my God,” het ek geantwoord, “ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk.”  Klink nogal na Moses: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel” (Eksodus 4:10). As ons later luister  hoe Moses met die farao en met God by Sinai praat, weet ons dat hy oordryf het. Hy wou eintlik maar net God se roeping vryspring.

 

God luister nie veel na Jeremia se verskonings nie. Jy moenie sê: “Ek is te jonk,” nie. Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê. Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red. Dit is wat die Here gesê het. Ons kan probeer los kom, maar God se wil sal geskied. Uiteindelik gaan Jeremia na waar God hom geroep het. Alhoewel God vir Jeremia belowe dat Hy by hom sal wees en hom sal red, lyk dit asof Jeremia gereeld sonder God gelaat word. Later sal Jeremia selfs sy geboortedag vervloek (20:14).

 

Luister na Jeremia se opsomming van sy roeping: Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak en vir my gesê: Ek het nou my woorde in jou mond gelê. Kyk, Ek stel jou vandag aan oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig. Let op die volgorde van God se opdrag. Hy begin met vier werkwoorde om te vernietig en daarna twee werkwoorde om op te bou. Sy profetiese lewe sal uit harde woorde gevolg deur woorde van hoop bestaan. Dit is ‘n harde taak en Jeremia gooi amper die handdoek in. Lees net Jeremia 20. In verse 7 – 18 kla hy: U het my mislei, Here … En God bly stil.

 

Soos God met Jeremia in die klein dorpie Anatot gepraat het, praat hy nog steeds met ons. Ons konteks verskil van dié van Jeremia, maar God is steeds met ons – Hy is by ons en Hy red ons. Kyk terug na jou lewe en jy sal sien dat God in die verlede daar was en nog steeds by jou is.

 

image_pdfimage_print

You may also like...