God se wil

image_pdfimage_print

God se wil – Francois Malan

Frikkie vra: 

Ek wil graag GOD se wil doen, maar hoe weet ek wat Sy wil vir my is?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die wil van God word in die Bybel aangedui. Dit word op ‘n paar plekke saamgevat, bv. Eksodus 20 met die tien gebooie wat die Here gegee het vir sy volk wat Hy uit Egipte verlos het, as die aanduiding ook vir ons, van hoe ‘n mens lewe wat deur die Here verlos is uit die slaweskap van die sonde.

Jesus brei op die gebooie uit, en verduidelik vir sy volgelinge in die bergrede in Matteus 5-7 hoe ons as kinders van God in die wêreld moet lewe. In Matteus 22:37-40 vat Hy dit alles saam in twee gebooie van liefde vir God en liefde vir ons medemens. Matteus 7:12 het nog ‘n korter samevatting: Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.

En nadat Jesus ons sonde aan die kruis gedra het, opgewek is en na die hemel opgevaar het, kom woon die Heilige Gees in ons om dit wat Hy vir ons gedoen het, in ons te kom uitwerk. In Romeine 8:9-11 word Hy die Gees van God genoem en ook die Gees van Christus. Hy maak ons kinders van God, sê Rom.8:15. Letterlik staan daar, Hy is die Gees van aanneming waardeur God ons aanneem as sy kinders, deurdat die Gees ons aan sy Seun se dood en opstanding verbind en van ons mede-erfgename van Christus maak, wat ook in die wêreld saam met Christus ly en saam met Hom verheerlik sal word. Johannes 3:8 sê, ons word deur die Gees weergebore tot kinders van God. Johannes 14:16 noem Hom die Voorspraak (of Helper) wat vir ewig by ons sal wees, en 14:23 sê as iemand My liefhet en my woorde ter harte neem, sal die Vader hom/haar liefhê, en Ons sal na hom/haar toe kom, en by hom/haar woon. Dit doen die Vader en die Seun deur die Heilige Gees wat ons alles sal leer en ons aan alles sal herinner wat Jesus geleer het.

In Johannes 16:7-11 sê Jesus dat dit vir ons voordelig is dat Hy weggaan, want nou kom die Heilige Gees in elkeen van ons woon. Hy kom ons oortuig van sonde en geregtigheid en oordeel. Ons bly in sonde as ons nie in Jesus glo wat ons daarvan kom verlos nie. Geregtigheid beteken dat die verhouding tussen ons en God reggemaak is deur Jesus se sterwe en opstanding, en dat ons nou kan lewe as God se kinders, deurdat die Heilige Gees ons aan Jesus se dood en opstanding verbind (vgl. Rom 6:3-11). Aan die kruis is God se oordeel oor die sonde klaar deur Jesus gedra, en ons word deel van die verlossing wat Hy vir ons bewerk het. Ook ons geloof in Jesus word deur die Gees in ons gewerk. Die Gees is besig om ons al meer te verander om soos Christus in liefde te lewe (2 Kor.3:18).

In Romeine 8:3-9 worstel Paulus met ons sondige natuur, die eie-ek, wat nog altyd met ons is, en waarteen die Gees ons daagliks probeer oortuig om nie vir ons self te lewe nie, maar vir God – want dit is vir ons die allerbeste. In Romeine 13:9-13:14 gee hy ook ‘n uiteensetting van hoe ‘n gelowige behoort te lewe as ‘n uitlewing van Jesus se gebod tot naasteliefde.

Maar hoe weet ons in elke omstandigheid wat om te kies en wat om te doen?

Ons laat ons leer deur die aanwysings in die Bybel, soos bv. in die Skrifgedeeltes hierbo. Ons kyk of die besluit selfsugtig is en hoe dit ons medemens gaan raak, en ons bid om die leiding van die Gees van God wat in ons woon om ons te oortuig van die optrede wat volgens God se wil sal wees. Te midde van dit alles bly ons sondige mense wat ons self maklik regverdig vir wat ons besluit of doen, maar ons bid dat die Gees ons versterk, sodat ons nie sal toelaat dat die sonde oor ons heerskappy voer nie en die begeertes van ons sterflike aardse bestaan te gehoorsaam nie (Rom.6:12), maar dat ons elke deel van ons liggaam in diens van God sal stel as werktuig om te doen wat God wil (Rom.6:13). Dit is ook goed om te wag om te sien watter deure die Gees vir ons toemaak en watter nuwe geleenthede en moontlikhede opduik, vgl. bv. sy leiding van Paulus-hulle op die tweede sendingreis (Handelinge 16:6-10).

En as ons oortuig is dat ‘n spesifieke besluit of taak die wil van die Here is, doen ons dit met volle oorgawe. Maar deurentyd toets ons ons self of ons dit nog van harte doen vir die Here en nie om deur mense geprys te word nie (Kol.23; vgl. Matteus 6:2-4).

Lees ook Galasiërs 5:13-26 waar Paulus verduidelik dat as ons ons deur die Gees laat lei, staan ons nie onder die wet om daardeur God se guns te wen nie (v18). Ons is reeds sy kinders en Hy wil hê dat ons die beste pad loop. Die werk wat die Gees in ons bewerk word in 9 woorde saamgevat in vv22-23 liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...