Laat sy Liefde jou Lei: Glo jy … ongeag die uitkoms

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: Glo jy … ongeag die uitkoms – Milanie Vosloo

Glo jy … ongeag die uitkoms?

Nebukadneser het gesê: “Loof Sadrag, Mesag en Abednego se God! Hy het sy engel gestuur om hulle wat op Hom vertrou het, te red. Daniёl 3:28a

Jy ken die verhaal van Daniёl se drie vriende, Sadrag, Mesag en Abednego wat, vanweё hul oortuigde geloof in God, in die brandende oond gegooi is. En jy onthou hoe die engel hulle ongedeerd – sonder dat ‘n haar geskroei het of hulle na rook geruik het – uit die vlammende oond laat stap het. Maar het jy al raak gelees wat hulle gesê het vóórdat hulle die vuur binnegestap het? In Daniёl 3:17 hoor ons hoe hulle vir koning Nebukadneser sê: “Die God wat ons aanbid, kán ons uit u hand bevry, U Majesteit. En selfs … al red Hy ons nie … sal ons nie u gode vereer nie.” (Daniёl 3:17) Duidelik het hierdie drie manne se geloof nie gegaan oor wat God vir hulle kan doen nie. Dit het vir hulle gegaan oor die God van hul geloof. Hulle het God vertrou … ongeag die uitkoms van hul gebede en wense.

Bybelse geloof word nie gebou op ons omstandighede, ons aardse voorspoed, die uitkoms van ons gebede of die seёn wat ons ontvang nie. Dit word gebaseer op ons absolute vertroue op God wat God ís en sal bly. Kom ons bid dat Hy ons sal help om te blý glo ongeag wat die toekoms inhou.

Hemelse Vader, my geloof is soms kleiner is ‘n mosterdsaadjie! Dis dan wanneer ek maar net kan vra: Kom my ongeloof te hulp asseblief.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...