Lasarus – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Sarel vra:

Ek wil graag verneem of iemand vir my kan sê hoe lank Lasarus nog geleef het nadat hy deur Jesus uit die dood opgewek is? Kan u ook vir my sê hoe is Lasarus toe oorlede, toe hy die tweede keer gesterf het?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ongelukkig vertel die Bybel ons niks meer oor Lasarus as wat ons in Johannes 11-12 van hom lees nie. Hiervolgens het Jesus vir Lasarus opgewek uit die dood nadat hy reeds vier dae dood was (Joh 11:38-44). Hierna lees ons nog een keer van hom, in Johannes 12:9-10. Hiervolgens was Jesus op besoek by Marta, Maria en hulle broer Lasarus. En dan lees ons dat daar ook baie Jode was, nie net om Jesus te sien nie, maar ook vir Lasarus. Voorts verneem ons dat die priesterhoofde besluit het om Lasarus dood te maak omdat deur hom baie van die Jode oorgeloop het na Jesus en in Hom geglo het. En dis die laaste wat ons van Lasarus in die Bybel lees. Of die Jode hom ooit doodgemaak het, weet ons nie.

Maar soos dit gaan, het daar algou kerklike tradisies ontstaan oor wat verder met Lasarus gebeur het. Of dit enige waarheid bevat, weet ons nie, want daar is twee verskillende verhale oor Lasarus se verdere lotgevalle. Albei kan dus nie gelyktydig waar wees nie. Daar is ’n Oosters-Ortodokse en ’n Rooms-Katolieke tradisie. Ek gee dit vervolgens deur vir wat dit werd is.

Die Oosters-Ortodokse tradisie verloop soos volg. Weens komplotte in Palestina om Lasarus om die lewe te bring, het hy na Siprus gevlug. Daar is hy deur Paulus en Barnabas as die eerste biskop van Kition (vandag Larnaka) aangestel. (Dit sluit aan by die Bybelse gegewens dat Paulus en Barnabas tydens hulle eerste sendingreis op Siprus was, Hand 13:4-12.) Daar het Lasarus vir nog dertig jaar gelewe en is ook daar begrawe, vir die tweede en laaste keer.

Interessante verdere inligting omtrent die oorskot van Lasarus is die volgende: In 890 nC is ’n graf in Larnaka ontdek met die inskripsie: “Lasarus, die vriend van Christus”. Keiser Leo VI van Bisantium het die beendere in 898 na Konstantinopel (Istanbul) laat verskuif. As kompensasie vir hierdie verlies het keiser Leo in Larnaka die kerk van die heilige Lasarus oor die graf van Lasarus laat bou, wat tot vandag toe nog bestaan.

Gedurende die vierde kruistog is die beendere van Lasarus in 1204 uit Konstantinopel as buit weggevoer na Marseilles, Frankryk, vanwaar dit later verdwyn het en tot vandag toe nooit weer opgespoor kon word nie.

In die Westerse Rooms-Katolieke tradisie lyk die lotgevalle van Lasarus ’n bietjie anders. Volgens ’n tradisie wat in Provence, Frankryk, sy oorsprong het, is Lasarus en sy susters, Marta en Maria, weens vyandige Jode uit Palestina verdryf en op ’n bootjie sonder seile, roeispane en roer die oop see ingestuur. Wonder bo wonder het hulle na ’n ruk uitgespoel by ’n plekkie wat vandag bekend staan as Saintes-Maries, Provence. Die familie het toe verdeel en in verskillende rigtings van Suidoos-Gallië, vandag Frankryk, beweeg en die evangelie verkondig. Lasarus het uiteindelik in Marseilles tereg gekom, baie mense na Christus gelei en later die biskop van Marseilles geword. Gedurende die vervolgings onder keiser Domitianus (81-96 nC) is Lasarus in die tronk gegooi, onthoof en in ’n grot onder die Saint-Lazare tronk begrawe. Sy liggaam is later na Autun verskuif waar hy in die Autun-katedraal begrawe is, wat as die Heilige Lazare later aan Lasarus gewy is. Die inwoners van Marseilles maak egter daarop aanspraak om in besit te wees van sy hoof, wat hulle nog steeds vereer.

Daar bestaan verskeie liturgieë in die Oosters-Ortodokse, Rooms-Katolieke en Anglikaanse tradisies wat spesifiek gewy is aan Lasarus en waarin hy nog elke jaar herdenk word.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...