Levitikus: Moet ons die boek nog lees? (2)

image_pdfimage_print

What! At peace with the Father, and at war with His Children? It cannot be. —John Flavel

Levitikus: Moet ons die boek nog lees?  (2)

In die vorige blog het ons na sekere misverstande oor die Bybel gepraat. Vandag kyk ons na die vraag:  Ou Testamentiese wette: Hoekom is hulle daar?

Wat ons Ou Testamentiese wette noem, beteken gewoonlik dat hulle uit die eerste vyf boeke van die Bybel kom – die tora.  Die woord tora beteken nie werklik wet nie, maar onderrig of leiding – die tora lei sy oorspronklike ontvangers. Dit lei ook vir ons, want dit plaas die wette en opdragte in die raamwerk van ‘n verhaal.

 

Voor ons by die tien gebooie kom, kry ons die verhaal van die skepping, die mens se gebrokenheid as gevolg van sonde en opstand, en die wonder van God se verlossing – die uittog uit Egipte. Die tien gebooie is gegee aan mense wat die verhaal geken het, wat die God wat agter die verhaal staan, geken het, maar wat dit ook ondervind het. God gee sy wet aan mense wat reeds sy genade, liefde en trou en sy groot verlossingsdaad ondervind het. Om die wet te gehoorsaam was nooit ‘n manier om God se verlossing te verdien nie – dit was die regte manier vir verloste mense om te reageer op God se verlossing wat hulle ondervind het.

God het aan Israel sy wet gegee om hulle in ‘n samelewing te vorm wat sy karakter en waardes te midde van al die ander nasies sou weerspieël. Gehoorsaam die voorskrifte en lewe daarvolgens, want daaraan sal die ander volke sien dat julle wysheid en insig het (Deuteronomium 4:6). Mense moes die Israeliete kon onderskei,  omdat hulle God se weg geloop het – persoonlike integriteit, ekonomiese en sosiale geregtigheid en deernis vir die samelewing. Die wet was nie ‘n stel willekeurige reëls om God gelukkig te hou nie – dit was ‘n lewenswyse, ‘n kultuur in ‘n besondere tyd en plek, om te wys hoe verloste mense van God lewe.

Om “Bybels te leef” deur te probeer om soveel as moontlik antieke reëls na te kom net omdat hulle in die Bybel is, beteken dat ons die doel van die wet nie verstaan nie. Die Ou Testamentiese wette was nie net ‘n klomp reëls nie, maar gaan ook oor ‘n verhouding met God gefundeer op God se genade en verlossing en gemotiveer deur die opdrag om soos kinders van God in hierdie wêreld te leef sodat die mense die lewende God kan leer ken.

As dit dan so is: Wat kry ons in hierdie Ou Testamentiese wette? Daarna kyk ons volgende keer.

image_pdfimage_print

You may also like...