Louwarm mense: ‘n Profiel

image_pdfimage_print

Making sense of everything is not an obligation or even a possibility. Acceptance of mystery is an act not of resignation but humility – David Wolpe

 

Louwarm mense: ‘n Profiel

Francis Chan (Crazy Love: Overwhelmed by a Relentless God ) vra of ons God werklik liefhet. Halfhartig? Louwarm? Hoe lyk so ‘n persoon?  Hy beskryf dan ‘n profiel van ‘n louwarm Christen

 

  • Hulle woon redelik gereeld die eredienste by … dit word immers van “goeie Christene” verwag. Die Here het gesê: Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien My soos mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie (Jesaja 29:13).
  • Hulle gee geld vir die kerk solank dit nie hulle lewenstandaard benadeel nie. As hulle ‘n ietsie ekstra het, gee hulle dit. Hierop het koning Dawid vir Arauna gesê: “Nee, ek koop dit beslis van jou vir die volle waarde. Ek kan nie van wat joune is vir die Here bring nie. Ek bring nie ‘n brandoffer wat my niks kos nie.” (1 Kronieke 21:24). In Lukas 21:1 – 4 lees ons van die weduwee wat twee muntstukkies in die offergawekis gooi. Jesus sê: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander. Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die offergawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe.
  • Hulle kies wat gewild is en nie wat reg is nie. Hulle wil binne en buite die kerk inpas; hulle is meer bekommerd oor wat mense van hulle optrede (erediensbywoning en offergawes) dink as oor wat God van hulle harte en lewens dink.  Ellende wag vir julle as al die mense goed van julle praat. Hulle voorvaders het immers met die vals profete net so gemaak (Lukas 6:26); Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood (Openbaring 3:1)
  • Hulle wil nie werklik van hulle sonde gered word nie, maar wel van die straf vir hulle sonde. Hulle haat nie die sonde nie; hulle is nie spyt daaroor nie. Hulle is wel spyt dat God hulle daarvoor gaan straf. Hulle glo nie dat hierdie nuwe lewe in Jesus Christus beter as hulle ou lewe in sonde gaan wees nie. Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê en dit in oorvloed (Johannes 10:10).
  • Hulle word geraak deur verhale van mense wat radikale dinge vir God doen, maar hulle tree nie self op nie. Hulle beskou dit wat Jesus van alle gelowiges verwag as iets radikaal. Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself (Jakobus 1:22); As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde (Jakobus 4:17).
  • Hulle deel selde hulle geloof met hulle naaste. Hulle wil nie verwerp word nie; hulle wil nie hê dat mense ongemaklik moet voel nie – jy praat nie oor private aangeleenthede soos godsdiens nie. Elkeen  wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is (Matteus 10:32 – 33).
  • Hulle bepaal hulle “goedheid” deur hulle met die sekulêre wêreld te vergelyk. Hulle is tevrede dat hulle nie so sleg soos baie ander is nie. Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie:  diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ‘n tiende van my hele inkomste (Lukas 18:11 – 12).
  • Hulle sê dat hulle Jesus liefhet en dat Hy inderdaad ‘n deel van hulle lewe is. Hulle is reg: Hy is slegs ‘n deel van hulle lewe – tyd, geld, gedagtes en denke. Hy word egter nie toegelaat om hulle lewens te beheer nie. Lees net weer Lukas 9:57 – 62. Kyk net na al die verskonings toe Jesus sê hulle moet Hom volg.
  • Hulle het Jesus lief, maar nie met hulle hele hart en siel en verstand nie. Hulle glo daardie soort totale toewyding is nie moontlik vir “gewone” Christene nie.
  • Hulle het nie hulle naaste lief soos hulleself nie. Hulle liefde fokus op diegene wat hulle ook liefhet. Daar is min liefde vir diegene wat hulle nie ook liefhet nie – en beslis geen liefde vir hulle vyande nie. Hulle liefde is voorwaardelik en selektief.
  • Hulle sal God en mense dien. Maar daar is perke – net so veel tyd en  energie en geld en niks meer nie. Soos die ryk jongman kan hulle nie volledig gehoorsaam wees nie (Lukas 18:21 – 25).
  • Hulle dink meer oor die lewe op aarde as aan die ewigheid. Hulle fokus op hulle daaglikse skedule. Hulle dink selde/nooit oor die lewe wat nog kom nie. C. S. Lewis sê: If you read history you will find that the Christians who did most for the present world were precisely those who thought most of the next. It is since Christians have largely ceased to think of the other world that they have become so ineffective in this.Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie (Kolossense 3:2).

 

Hier is beslis baie om oor na te dink. Party van hierdie beskrywings laat ‘n mens diep dink.

image_pdfimage_print

You may also like...